Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
As jy entstof weier, is premie hoër – Discovery Life

Diegene wat gekant is teen inentings, gaan benadeel word wanneer hulle by Discovery Life ’n nuwe lewenspolis wil uitneem.

Dié lewensversekeraar sê as jy weier om jou teen die koronavirus te laat inent, is jy net so goed soos ’n roker.

Discovery Life sê hy is die eerste versekeraar wat die entstof teen die koronavirus gaan laat tel wanneer premies vasgestel word.

Dit gaan goedkoper wees om jou lewe te verseker as jy ingeënt is teen Covid-19. Foto: Mlungisi Louw

Let wel, dit is vir nuwe polisse en geld van 29 Julie af.

“Dit sal nou ook in ag geneem word wanneer lewensversekeringspremies vir nuwe kliënte bepaal word,” sê Riaan van Reenen, uitvoerende hoof van Discovery Life.

“Ons wil ons kliënte beloon wat die land help deur ingeënt te word,” sê hy in ’n verklaring.

Discovery Life gee belonings aan sy kliënte met sy PayBack-beloningsprogram vir onder meer as hulle gesonder leef.

Hy sê kliënte word vooraf gevra of hulle reeds ingeënt is of van plan is om ingeënt te word sodra die omstandighede dit toelaat.

“As hulle ja antwoord, sal hulle die aanbod kry.

“Dié wat nuwe polisse uitneem en aandui hulle weier om ingeënt te word, sal ongelukkig onderworpe wees aan ’n hoër premie as gevolg van die verhoogde risiko. Die weiering om ingeënt te word, word soortgelyk hanteer as ’n roker of iemand met ’n lewenstylsiekte soos diabetes, vir wie ’n hoër premie gehef word.”

Volgens hom sal ’n premie aangepas word as ’n persoon later besluit om wel ingeënt te word.

Hy sê Discovery Life se interne inligting toon ’n gewone 75-jarige wat ingeënt is, het dieselfde risiko om aan Covid-19 te sterf as ’n 40-jarige wat nie ingeënt is nie.

“Inenting is ook baie doeltreffend om hospitalisasie te voorkom.”

Discovery Life het in Januarie die hoogste bedrag tot nog toe vir eise in ’n enkele maand betaal.

Die mediesefondsadministrateur Discovery Health se inligting toon mense wat die Delta-variant opdoen, het ’n 95% kleiner risiko om gehospitaliseer te word nadat beide dosisse van die Pfizer-entstof gekry is, met ook ’n wesenlike voordeel ná net een dosis.

Die navorsing toon ook kliënte het ’n 47% laer risiko om Covid-19 op te doen drie weke nadat hulle hul eerste dosis van die Pfizer-entstof gekry het.

Meer oor:  Inenting  |  Koronavirus  |  Lewenspolis  |  Versekeraars  |  Langtermynversekering  |  Entstof  |  Inentings  |  Tabakverbod  |  Inperking  |  Covid-19  |  Rokers  |  Lewensversekering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.