Banke het beloof kitsbanke sal tydens inperking werk en het ook aangekondig dat Saswitch-boetes opgehef sal word.

Kitsbanke sal oop bly tydens die staat van inperking en jy sal nou by enige bank se kitsbank geld kan trek sonder dat daar bykomende fooie gehef word. Foto: Argief
Saswitch-boetes is wat ’n kliënt van een bank betaal as hy by ’n ander bank geld trek.
In ’n verklaring sê die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) kliënte kan enige kitsbank gebruik en net die gewone gelde betaal wat deur hul eie bank gevra sou word.
Verbruikers sal in kennis gestel word sodra dit in werking gestel word. Personeel werk as ’n prioriteit daarop.
Banke is as ’n noodsaaklike diens verklaar ingevolge die regulasies wat uitgevaardig is om uitvoering te gee aan die nasionale ramp wat afgekondig is.
Basa se lede beloof om alles in hul vermoë te doen om noodsaaklike bankdienste tydens die inperking beskikbaar te hou, soos oproepsentrums, kitsbanke en betalings by verkoopspunte.
Verbruikers word aangemoedig om kitsbanke of internetbanke te gebruik en so min as moontlik banktakke te besoek.
“Banke sal soveel takke moontlik oophou. Banktakke sal minder personeel as gewoonlik hê en kliënte word gevra om geduldig te wees. Personeel en kliënte moet ’n gesonde afstand van mekaar hou.”
Die vereniging sê alle personeel wat nie-noodsaaklike dienste verrig en wat van die huis af kan werk, word toegelaat om dit te doen.
Die personeel op kantoor, by oproepsentrums en takke gaan tot ’n minimum beperk word om die riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie te volg.
Kliënte met ’n goeie status, wat op datum is met hul betalings en histories ’n goeie verhouding met hul bank het, maar finansiële probleme ervaar as gevolg van Covid-19, moet hul banke kontak vir ’n gepaste oplossing.
“Die bankwese herbevestig sy verbintenis daartoe om verbruikers in dié moeilike tye te help en werk saam met die reguleerders en die regering om die stabiliteit van die finansiële sektor te handhaaf.”
Die aankondiging van die Reserwebank van die rentekoersverlaging verlede week is verwelkom, asook die poging om die finansiële sektor standvastig te hou.
Gesprekke vind nog plaas met nasionale tesourie en die Reserwebank om moontlik wetgewing te verslap om verbruikers verder by te staan.
“Ons moedig alle kliënte aan om, waar moontlik, aan te hou om hul skuldverpligtinge na te kom.
“Kliënte met ’n goeie status, wat op datum is met hul betalings en histories ’n goeie verhouding met hul bank het, maar finansiële probleme ervaar as gevolg van Covid-19, moet hul banke kontak vir ’n gepaste oplossing.”
Elke geval sal egter afsonderlik bepaal word, so die banke het nie ’n eenvormige benadering afgekondig nie.
Die oplossings sal insluit om betalings uit te stel, skuld te herstruktureer en kleiner ondernemings van oorbruggingsfinansiering te verskaf en skakeling met die regering en ander om addisionele ondersteuning te verskaf.
“Spesifieke aandag sal gegee word aan die sektore wat die kwesbaarste is in die huidige omstandighede. Banke sal maniere ondersoek om kliënte by te staan binne dié bedrywe.”