Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Bedrieërs eis weer namens dooies van WVF

Verskeie onreëlmatige aansoeke is opnuut by die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) ingedien om die Covid-19-Ters-skema te probeer uitbuit.

Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid. Foto: Getty Images

Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, het Dinsdag op ’n sitting van die nasionale raad van provinsies (NRP) gesê bedrieërs het die identiteitsnommers van onder meer dooies en gevangenes op die stelsel probeer registreer toe die jongste ronde aansoeke vir die Covid-19-Ters-skema op 21 September heropen het.

Daar was ook wéér staatsamptenare onder diegene wat onregmatig geld uit die WVF probeer kry het.

Staatsamptenare kom nie in aanmerking vir Covid-19-Ters-voordele nie aangesien geen staatsamptenaar weens die koronaviruspandemie afgedank is of verminderde salarisse ontvang het tydens die staat van inperking nie.

Die ouditeur-generaal (OG) het op 2 September gesê bykans R1 miljard se Covid-19-Ters-voordele is uitbetaal aan mense wat nie daarop geregtig was nie.

Hiervan is R441 144 aan dooies, R224 677 aan minderjariges, R169 900 aan gevangenes en meer as R140 miljoen aan mense wat reeds ander toelaes van die staat ontvang.

Kort hierna het die WVF alle uitbetalings gestaak.

Verskeie stappe is gedoen om te verhoed dat sulke onregmatige betalings weer gedoen word, sê Nxesi.

Op 21 September, toe aansoeke heropen is te midde van die nuwe maatreëls, het bedrieërs namens 193 oorledenes probeer aansoek doen, asook 168 staatsamptenare en twee gevangenes.

Al hierdie aansoeke is onmiddellik geïdentifiseer en geblok, sê Nxesi.

’n Verdere 1 968 aansoeke met ongeldige identiteitsnommers is ook geblok.

Volgens Nxesi word elke bedrieglike aansoek nou deur die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ondersoek en die OG oudit alle aansoeke van April tot Junie.

Die geld sal teruggekry word, het Nxesi aan die NRP gesê.

Nxesi is egter bekommerd oor die finansiële posisie van die WVF – en nie net omdat dit op groot skaal besteel is nie.

Bo en behalwe die R1 miljard wat aan bedrieglike aansoeke uitbetaal is, het die WVF ook eers onlangs begin om miljarde rande se oorbetalings terug te kry.

Volgens Nxesi is daar kommer oor die fonds se veerkragtigheid terwyl derduisende afleggings dreig, wat groot druk gaan plaas op die normale voordele wat die WVF uitbetaal.

Die fonds het volgens Nxesi sowat R50 miljard tot sy beskikking.

Die stortvloed afleggings wat verwag word, kan dit vinnig laat opdroog, en dan is daar steeds die Covid-19-Ters-voordele wat uitbetaal word.

“In die ergste scenario sal ons dalk in dieselfde situasie as in 2008 wees toe die regering ons moes help,” sê Nxesi.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.