Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Begin 2021 deur slim te bestee én te leen

Dit is die tyd van die jaar wanneer sommiges voel dat Januworry drie maande lank is omdat hulle sukkel om al hul finansiële verpligtinge na te kom.

As jy sukkel om in Januarie met jou geld uit te kom, moenie kruideniersware op krediet koop nie. Foto:

Anne-Carien du Plooy, waarnemende bestuurder van opvoeding en kommunikasie van die Nasionale Kredietreguleerder (NKR), het raad vir verbruikers wat geld moet leen of krediet moet gebruik om kop bo water te hou.

Sy sê verbruikers moet hul kredietooreenkomste lees en verstaan voordat hulle dit onderteken.

“Ingevolge die Nasionale Kredietwet het verbruikers die reg om inligting oor die lening of krediet in duidelike en verstaanbare taal te ontvang.”

Verbruikers het ook die reg om redes te kry van die kredietverskaffer indien hul aansoek van die hand gewys word.

As alle geregistreerde kredietverskaffers jou aansoek van die hand wys, het jy ’n groter probleem met jou finansies as wat jy dalk self besef.

Dit is dan tyd om hulp te kry, soos om met jou huidige kredietverskaffers oor laer paaiemente te onderhandel. Probeer ook om sommige rekeninge af te betaal en te sluit.“Dit ís moontlik indien jy jou lewenstyl aanpas. Kyk na jou begroting en bepaal watter uitgawes jy kan uitsny.”

Verbruikers moet ongeregistreerde kredietverskaffers vermy aangesien dit hulle uiteindelik duur te staan sal kom.

Ongeregistreerde kredietverskaffers hef buitensporige rentekoerse en gebruik onwettige maniere om die skuld in te vorder, soos om mense se bank- of ID-kaarte te hou.

Verbruikers moenie instem om “voorafgelde” te betaal nie, waarsku Du Plooy.

Dit is ’n bedrag wat meestal deur ongeregistreerde of selfs vals kredietverskaffers gehef word voordat hulle aan die verbruiker die geld gee waarvoor hulle aansoek doen.

Dié gelde word baie dinge genoem, soos prokureurs-, kwytskeldings- of administrasiegelde.

Ongeag wat dit genoem word, dit is ingevolge die Nasionale Kredietwet onwettig vir ’n kredietverskaffer om ’n verbruiker vooraf te laat betaal. Verbruikers moet dit ook nie met ’n deposito verwar nie, want daar is geen deposito wanneer ’n lening aangegaan word nie.

Ander dinge waarna verbruikers moet oplet:

  • Verstaan die koste van krediet. Dit behels onder meer die rentekoers, eenmalige aanvangsgelde, maandelikse diensgelde en kredietlewensversekering. Om die koste van krediet te verstaan moet ’n verbruiker ’n kwotasie kry wat vir vyf werkdae geldig is. Dit moet al die koste verbonde aan die kredietooreenkoms openbaar.
  • Moenie ’n kredietooreenkoms of dokument onderteken alvorens jy eers die inhoud gelees, verstaan en vrae daaroor gevra het nie. Onderteken dit net as jy tevrede met die ooreenkoms is.
  • Wees eerlik wanneer jy aansoek doen om krediet. As jy oneerlik is oor jou maandelikse uitgawes, verloor jy die beskerming wat die Nasionale Kredietwet aan verbruikers ten opsigte van roekelose kredietverlening bied.
  • Leen slegs as dit absoluut noodsaaklik is en vermy die gebruik van krediet vir verbruiksgoedere soos kruideniersware.
  • Verstaan kredietlewensversekering en die bepalings en voorwaardes daarvan om verrassings te voorkom wanneer jy die dekking nodig het. Kredietlewensversekering kan ’n lewensredder wees wanneer iemand weens byvoorbeeld ’n verlies aan inkomste, werkloosheid en ongeskiktheid nie die skuld kan terugbetaal nie.
  • Betaal jou skuld betyds. As jy laat betaal of nie die volle paaiement betaal nie, kan dit jou kredietverslag nadelig beïnvloed en jou vermoë benadeel om in die toekoms weer in aanmerking vir krediet te kom. Kontak jou kredietverskaffers onmiddellik as jy vermoed jy sal nie die maandelikse paaiemente kan betaal nie en probeer om die terugbetalings te herskik. Moenie wag totdat jy ’n betaling oorslaan nie.
  • Gaan jou kredietburoverslag gereeld na. Elke verbruiker is geregtig op een gratis verslag per jaar.

Januarie tradisioneel ’n moeilike maand

Benay Sager, bedryfshoof van die skuldberader DebtBusters, sê Januarie is ’n baie lang maand vir baie Suid-Afrikaanse gesinne omdat baie maatskappye gewoonlik hul werknemers reeds vroeg in Desember betaal.

“Dit sal vanjaar waarskynlik nog moeiliker wees om die einde van Januarie te haal omdat baie mense nie ’n jaareindbonus gekry het om hul Desember-salaris aan te vul nie.”

Sager sê data wys baie verbruikers verkeer in Januarie onder finansiële druk en dat hulle dikwels lenings uitneem om deur te kom.

“Daar gaan vanjaar weens die effek van die koronaviruspandemie op die ekonomie ongelukkig meer druk op verbruikers wees om geld te leen.”

Daar is egter twee kante van die muntstuk van ’n huishoudelike begroting – leen en besteding.

“Verbruikers moet ook hul besteding aanpas voordat hulle meer geld leen.”

Hy sê verbruikers wat bekommerd is of hulle in Januarie met hul geld gaan uitkom, moet sommer vroeg in die jaar goed kyk na die stand van hul bankrekening.

“Dit behoort jou te wys waar onnodige uitgawes is waaraan jy kan besnoei.”

Dit is nie ’n goeie plan om sommige skuldpaaiemente oor te slaan in die hoop om dit later in te haal nie. Navorsing wys dat dit lank duur om sulke agterstallige betalings in te haal.

Buitendien raak dit jou status by kredietburo’s negatief, wat dit weer moeiliker maak om in die toekoms geld te leen of krediet te kry. En as jy ’n lening kry, sal jy ’n hoër rentekoers moet betaal omdat jy as ’n hoër risiko beskou gaan word.

Sager sê as jy jou finansiële situasie ontleed, sal jy voor dit te laat is weet of jy hulp nodig het.

“Suid-Afrika het ’n baie doeltreffende skuldberadingsbedryf met ’n goeie sukseskoers.”

Hy sê selfs in die pandemiegeteisterde 2020 het byna 5 000 van DebtBusters se kliënte die proses suksesvol voltooi en sertifikate ontvang wat hulle skuldvry verklaar.

“Baie mense wat baat kan vind by skuldberading laat dit te laat en raak al dieper in die moeilikheid sodat hul huis en voertuie uiteindelik teruggeneem word.”

Meer oor:  Nasionale Kredietreguleerder  |  Debtbusters  |  Nkr  |  Lenings  |  Krediet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.