’n Jaar gaan baie vinnig verby en dikwels, voor ’n mens jou oë kan uitvee, het twee of drie jaar verstryk sonder dat jy behoorlik na jou persoonlike finansies omgesien het.
’n Goeie finansiële adviseur moet sorg dat jy en hy of sy elke jaar met ’n fyn oog na jou finansies kyk. Hier is van die belangrikste aspekte wat moet aandag geniet:
1. Gaan jou begroting na

Die finansiële raadgewer Theo Vorster se nuwe boek gee riglyne om finansiële besluite makliker te maak.
Maak seker dit is steeds relevant en dat daar nie intussen addisionele uitgawes of inkomste bygekom of weggeraak het nie.
Jou omstandighede kan mettertyd verander en jou beplanning moet daarby aanpas. As jy gaan vasdraai met jou uitgawes, kan ’n paar klein, onmiddellike aanpassings drie of vier jaar later ’n baie groot verskil maak.
2. Hersien jou noodfonds
Maak seker jy het op kort termyn toegang tot kontant:
- As jy ’n inkomste verdien, is drie maande se uitgawes voldoende. Jy kan dit selfs op ’n huisverband vooruitbetaal, solank jy maklik toegang daartoe het. Die beginsel is dat die geld kort vooraf beskikbaar moet wees vir onvoorsiene en dringende uitgawes.
- As jy nie meer ’n inkomste verdien nie, mik vir ses maande se uitgawes in ’n kontant- of geldmarkrekening. Jy moet dit nie as deel van jou langtermynbeleggings sien nie en is juis daar in die geval van ’n onvoorsiene situasie.
3. Stel jou finansiële doelwitte vir die volgende 12 maande op
Skryf dit neer en dokumenteer jou strategie om daarby uit te kom met kwartaallikse, meetbare mylpale. Al het verlede jaar se plan in die hek geduik, moet jy weer probeer. Stel mylpale wat jy kan haal, want ’n paar klein suksesse help met motivering.
4. Maak seker jou testament is bygewerk
Maak ook seker jou erfgename of geliefdes weet waar jou laaste testament is. Baie mense gaan een stap verder en bespreek die testament elke twee jaar met al die erfgename – dit haal onsekerheid uit die prentjie, gee die geleentheid om moontlike onvoorsiene onenigheid te ondervang en skep sekerheid van die proses ná afsterwe.
5. Gaan sien jou finansiële adviseur

Theo Vorster se boek oor finansiële beplanning.
Bevestig dat jou finansiële adviseur op hoogte is van enige veranderinge in jou situasie. Julle moet mekaar steeds ten minste elke 12 maande sien. Toepaslike advies is net moontlik as die adviseur en die kliënt op dieselfde golflengte is.
6. Hersien jou lewens- en ongeskiktheidsdekking
Maak seker dat dit by enige verandering in jou omstandighede aanpas. Onthou, jou verantwoordelikhede en finansiële posisie verander deurlopend; maak dus seker jou versekering is op datum.
7. Bevestig jou bateklassamestelling
Dit is die primêre drywer van groei en risiko in jou portefeulje en daarom moet jy seker maak dit klop steeds met jou langtermyn- finansiële doelwitte.
Gaan jou bateklassamestelling deeglik na om seker te maak jou blootstelling aan groeibates pas by jou doelwitte, jy het genoegsame internasionale blootstelling en daar is nie oordrewe konsentrasierisiko nie.
8. Kontroleer jou finansiële plan
Maak só seker waar jy trek met jou finansiële doelwitte en kyk na jou tydlyn én kapitaal. Gebruik die geleentheid ook om in fyn besonderhede na jou kostestrukture te kyk en seker te maak jy kry die nodige waarde vir jou geld.
9. Gebruik die belastingtoegewings ten volle
As daar die geleentheid is om ’n paar rand van die belastinggaarder terug te kry, benut dit.
Hou kop met jou geldsake
Die lys hierbo kom uit Theo Vorster se boek Jou geldsake – Hou kop in onseker tye, wat onlangs deur Tafelberg uitgegee is. Die boek bevat tydlose wenke oor foute in jou geldsake wat jy moet vermy, die goue beginsels van welvaart bou, en oor dinge soos trusts.
Vorster, die uitvoerende hoof van Galileo Capital, is ’n gereelde rubriekskrywer vir Netwerk24.