Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Begin nóú jou Desember-vakansie beplan
Jy hoef dalk nie nou al jou tas te pak nie, maar dis ’n goeie plan om nou reeds jou motor te versien, as jy in Desember vakansie gaan hou, en seker te maak jou paspoort is nog geldig, indien jy na die buiteland reis.Foto: Unsplash

Dit voel dalk vir jou nog 100 jaar voor Kersfees, maar die Automobiel-Assosiasie (AA) se reisafdeling, AA Travel, sê nóú is ’n baie goeie tyd om jou vakansieplanne te maak.

Goeie beplanning kan jou eindelik heelwat geld bespaar op vlugte en verblyf, en sal verseker dat jy nie meer geld bestee aan tydelike paspoorte of dinge wat jy inderhaas aankoop wanneer jy paniekerig voorbereidings tref nie.

As jy plaaslik gaan reis, is dit nou ’n goeie tyd om jou motor te laat hersien, asook jou woonwa, sleepwaentjie of boot.

Laat ook die wielbalansering, wielsporing en skokbrekers nagaan en maak seker alle bande is heel en padwaardig.

“Moenie te lank wag nie, want motorhandelaars raak baie gou vol teen die einde van die jaar en jy kan sukkel om ’n plek te kry as jy nie genoeg tyd toelaat nie,” waarsku AA Travel in ’n verklaring.

As jy na ’n malariagebied reis, is dit nou ’n goeie tyd om ’n doktersafspraak vir ’n voorskrif te maak.

Gaan jou noodhulptassie na en hervul enige middel wat op is.

Onthou om jou voorskrif vir chroniese of akute medisyne betyds op te tel, veral indien jy na ’n gebied met beperkte mediese dienste reis, sê AA Travel.

Nou is ook ’n goeie tyd om jou verblyf te bespreek as jy dit nog nie gedoen het nie, en verseker dat daar in enige spesiale behoeftes voldoen kan word. Dis veral belangrik indien jy reis met iemand in ’n rolstoel of iemand wat ’n spesiale dieet moet volg.

As jy in die buiteland reis, moet jy gou spring om jou visum uit te sorteer. Gaan dadelik jou paspoort na en laat dit hernu indien dit verval het of indien daar min bladsye oop is.

Indien jy met kinders reis, vereis baie lande dat jy die volledige geboortesertifikaat indien – nog iets waarvoor jy moet aansoek doen indien jy dit nog nie in jou besit het nie.

Doen ook aansoek vir ’n internasionale rybewys, wat die AA self kan uitreik. Dis ’n dokument wat jou geldige Suid-Afrikaanse rybewys bekragtig en jou magtig om in alle lande wat dié permit, wat deur die Verenigde Nasies onderskryf word, te reis. As deel van die internasionale rybewys word ’n identiteitsdokument in verskeie tale uitgereik, wat handig is in lande waar Engels nie die amptelike taal is nie.

Jy kan aanlyn aansoek doen vir die internasionale rybewys deur www.aa.co.za/international-driving-permit te besoek. Jy tel dit dan net by die AA op.

So ’n rybewys is egter net ’n jaar lank geldig.

Hier is ’n nagaan-lysie van dinge waarby jy ’n regmerkie nodig het voordat jy ’n lang vakansie aandurf:

  • Laat jou motor versien.
  • Laat jou bande en skokbrekers nagaan.
  • Gaan jou noodhulptassie na.
  • Maak seker jou motor se nood- en veiligheidstoerusting is volledig en sluit in: ’n waarskuwingsdriehoek, brandblusser, pomp vir jou bande, weerkaatsende onderbaadjie en flits.
  • Pak enige medisyne in wat jy kan nodig hê.
  • Bespreek en bevestig verblyf.
  • Gaan die vervaldatum (en aantal oop bladsye) van paspoorte na en hernu indien nodig.
  • Doen aansoek om visums.
  • Verkry ’n internasionale rybewys of gaan na of joune nog geldig is.
  • Begin aanlyn reisgidse lees vir aktiwiteite en besienswaardighede.

“Voorbereiding vir ’n vakansie – plaaslik of internasionaal – sal die ervaring meer genotvol maak en verseker dat jy enige probleme wat opduik, betyds kan oplos, eerder as paniekerig raak as jy besef te min tyd bly oor om onvoorsiene gebeure te behartig.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2381,58 (472)
  • Top 40 48158,37 (4141)
  • All Share 53874,52 (3359)
  • Resource 10 42374,38 (-13158)
  • Financial and Industrial 30 72821,17 (16551)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.