Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Belasting: Is jy gereed vir die nuwe seisoen?

Die belastingseisoen begin op Donderdag 1 Julie 2021. Junie is die ideale geleentheid om jou dokumente gereed te kry sodat jy jou opgawe betyds kan indien.

Charné van der Walt
Drie dinge wat jy eerste moet doen

Die drie basiese administratiewe aspekte wat elke belastingbetaler moet weet, is die volgende:

1. As jou kontakbesonderhede of bankinligting verander het, voltooi eers ’n RAV01-vorm (op eFiling) of stel dit reg deur middel van ’n telefoniese afspraak met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) voordat jy dit ook op jou opgawe verander en indien.

2. Moenie enige aanbiedinge van SAID vir ’n outomatiese indiening van jou opgawe aanvaar as jy dit nie 100% kan verifieer met jou belastingdokumente nie.

3. Doen altyd eers ’n belastingberekening (dit is ’n funksie op eFiling wat jou opgawe outomaties stoor) en dien eers die opgawe in as jy met die berekening saamstem.

Algemene foute

Wat is die algemeenste foute wat belastingbetalers maak met die indiening van hul jaarlikse belastingopgawe?

Hier is ses foute wat ek gereeld teëkom.

1. Mediese eise en/of ritboek-inligting word nie korrek bereken voordat die opgawe ingedien word nie. As daar verskille is wat dan met ’n verifikasie (oudit) uitkom, word die totale eis verwerp en moet die belastingbetaler vertoë rig met die korrekte bedrae. Dit kan met ’n bietjie meer moeite vóór die indiening vermy word, en ’n oudit gaan ook vinniger deur.

2. Belastingbetalers maak nie belangrike dokumente deur die jaar bymekaar (of hou dit) nie. Ek dink veral aan salarisstrokies, bankstate en mediese uitgawes wat hulle self betaal het.

3. Inligting op eFiling trek nie korrek deur nie en belastingbetalers kom dit nie agter nie of vul dit aan nie.

5. Uitgawes wat geëis word teen huur- of vryskutinkomste word nie korrek bereken of korrek (of volledig genoeg) aan die SAID aangebied met ’n oudit nie.

5. Baie belastingbetalers wat hul eie opgawes behartig, is nie eens bewus daarvan dat hul opgawe geselekteer is vir ’n oudit nie.

6. Geld wat links en regs tussen familielede (veral tussen ouers en kinders) en vriende oorbetaal word, word nie korrek as skenkings geboekstaaf nie.

Ek antwoord ’n paar lesersvrae oor belastingopgawes vir individue.

Ek het ’n hospitaalplan (geen afhanklikes) deur ’n versekeringsmaatskappy wat ek nie op my belastingopgawe kan eis nie. Hoeveel belasting kan ek spaar as ek oorskuif na ’n mediese fonds?

As jy lid is van ’n mediese fonds wat die SAID erken, sal jou belasting verlaag met R332 per maand (dit is vanaf Maart 2021).

geldsake
Trek jou strokies, rekeninge en IRP5 nader, dis amper tyd om jou belastingopgawe in te vul! Foto: Unsplash

As jy mediese uitgawes (wat kwalifiseer) uit jou sak betaal, kan jy addisioneel daarvoor eis (en die kans vir ’n eis raak groter sodra jy 65 jaar en ouer is).

Die oorskuif na ’n mediese fonds moet egter oor meer gaan as net ’n belastingbesparing. Jy moet ook kyk dat jy voldoende dekking kan geniet vir so lank jy leef (en dit kan bekostig), want sommige versekeringsplanne gee net dekking tot 65 jaar toe.

Hoe langer jy wag om te skuif, hoe groter is die boetes vir laat aansluiting en hoe meer negatief kan wagperiodes jou affekteer as jy nie gesond is nie.

Ek is ’n voorlopige belastingbetaler, maar die twee belastingbetalings tussen Julie en Augustus elke jaar vang my sleg. Eerstens betaal ek in op my jaarlikse opgawe wat ek in Julie indien en net daarna is dit Augustus se voorlopige belasting se betaling. Het jy raad?

As jy die korrekte bedrae voorlopige belasting betaal, is jy nie veronderstel om ’n groot balans in te betaal as jy jou jaarlikse opgawe indien nie.

Een rede waarom dit kan gebeur, is dat jy moontlik die voorlopige opgawes indien teen die basiese skattings van die SAID sonder om berekenings te doen van jou werklike (en in jou geval hoër) inkomste.

Met ander woorde indien jy teen die SAID se basiese skattings inbetaal en dit was te veel, moet jy wag vir belastingterugbetalings van die SAID.

Die enigste antwoord is om die belasting korrek te bereken en om nie te veel op die SAID se skattings staat te maak nie. Vanjaar kan jy moontlik die 2021-opgawe later as Julie indien om jou kontantvloei te rek.

My voorlopige belastingopgawes vir die 2021-belastingjaar is albei ingedien met basiese skattings van die SAID. In Augustus 2020 was daar geen belasting betaalbaar nie, maar ek het die bedrag van die Februarie 2021-opgawe eers in April 2021 betaal. Toe ek nou my werklike inkomste vir die 2021-belastingjaar bereken, het ek steeds te min belasting vir die jaar oorbetaal. Wat moet ek doen?

Jy gaan eerstens ’n voorlopige belastingstaat trek op die laat betaling van April 2021. Aangesien jy nie die belasting teen Vrydag 26 Februarie 2021 betaal het nie, sal daar ’n 10%-boete wees plus rente vir Maart en April 2021.

Betaal daardie verskil eerste in (op die tweede voorlopige opgawe se verwysingsnommer). Dan moet jy ’n derde voorlopige opgawe indien en betaal (tussen nou en einde September 2021) vir die belasting wat jy te min betaal het vir die jaar.

Berei die jaarlikse opgawe voor, doen ’n berekening (wat wys wat presies jy verskuldig is op die derde opgawe) en stoor die jaarlikse opgawe totdat jy dié addisionele betaling maak.

Daar kan moontlik nog boetes en/of rente wees – dit sal afhang van wat jou finale belasbare inkomste vir die jaar is teenoor watter bedrae jy op die tweede en derde opgawes inbetaal het.

Sover ek weet, maak eFiling nog nie voorsiening vir ’n derde opgawe nie, maar daar is ’n vorm wat jy per e-pos na die SAID kan stuur. Die betaling is die belangrikste en dit word gedoen op sy eie verwysingsnommer.

Gestel jou belastingnommer is 1234567891, dan sal die verwysing vir jou betaling 1234567891P00032021 wees (19 karakters).

My 2020-opgawe is nog nie ingedien nie. eFiling wil dit nie verwerk nie en gee ’n boodskap dat daar fout is met ’n enkelbedrag wat na ’n ander fonds oorgedra is. Wat staan my te doen?

Jy vra ’n harde kopie aan van die IRP5 wat besonderhede van die oordrag wys. Op die IRP5 sal die aanwysingsnommer verskyn (die “directive”). Die aanwysing was destyds nodig dat SAID vóór die oordrag kon bevestig watter belasting afgetrek moes word (indien enige, of as jy belasting verskuldig was aan die SAID).

Vergelyk die bedrae (oordrag se bedrag en belasting) en as dit alles ooreenstem, kyk dat die SAID-kodes dieselfde is. As die IRP5-kode 3915 wys en die aanwysing wys kode 3920, sal eFiling dit nie verwerk nie.

Die maatskappy moet ’n nuwe IRP5 uitreik, vir jou stuur, en na so twee dae kan jy die opsie “Refresh IRP5 data” gebruik voordat jy die opgawe weer oopmaak. As die nuwe IRP5 wys, behoort jy die opgawe te kan indien.

Wenk

My laaste stukkie advies? As jy ’n belastingnommer het, dien ’n opgawe in ten spyte van wat op die SAID se webtuiste staan dat jy in sommige omstandighede nie nodig het om een in te dien nie.

  • Charné van der Walt (The Lemon Lady), is ’n finansiële raadgewer en belastingpraktisyn in Stellenbosch. Kontak haar by info@lemons.co.za met vrae vir opvolgende rubrieke of vir ad hoc-advies. Die artikel is in leketaal geskryf en bevat nie spesifieke of persoonlike raad nie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.