Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Benut die laer rentekoers

Is die daling  in die rentekoers vir jou goeie of slegte nuus? Jou antwoord kan bepaal wat fout is in jou geldsake, sê Charné van der Walt.

Charné van der Walt, finansiële beplanner en belastingpraktisyn van die Stellenbosse onderneming Lemons into Lemonade Financial Planners.

Die Reserwebank het verlede week die repokoers met 0,25 persentasiepunt verlaag, waarna handelsbanke hul uitleenkoerse dienooreenkomstig verlaag het. Dit is goeie nuus vir diegene met skuld.

Die vraag wat by my opkom, is hoe dit elkeen van ons se maandelikse begroting gaan beïnvloed en al is die verandering hoe klein, of ons dit tot ons voordeel kan benut.

As jy op rente-inkomste staatmaak

  

Kom ons begin by lesers wat geld in ’n bank (byvoorbeeld ’n geldmarkrekening) of batebestuursmaatskappy (byvoorbeeld ’n kontant-effektetrustfonds) belê het.

As jou belegging R200 000 werd is, beteken dit sowat R40 minder rente per maand, wat maar ’n klein verskil is.

As jy egter R2 miljoen belê het en die rente trek om lewenskoste te dek, is die prentjie anders. Tans verdien jy R9 150 rente per maand. Ná die rentekoersverlaging daal dit met sowat R400 per maand.

Hierdie soort beleggings is bedoel om geld tydelik te parkeer en nie om op lang termyn inkomste aan jou te voorsien nie.

As jy elke sent van die R9 150 nodig het om jou begroting te laat klop, gaan jy uiteindelik hierdie R400 uit die belegging (oftewel die kapitaal, naamlik die R2 miljoen) moet begin trek.

As hierdie voorbeeld jou situasie beskryf, keer ek terug na my vraag hier bo: Hoe kan ’n daling in die rente wat jy verdien dan tot jou voordeel wees?

Wel, dit kan vir jou ’n aanduiding wees dat jy elke maand óf te veel geld trek, óf dat jy moontlik te veel geld in kontantbeleggings het. Hierdie soort beleggings is bedoel om geld tydelik te parkeer en nie om op lang termyn inkomste aan jou te voorsien nie.

Die opbrengs (die rentekoers waarteen jy inkomste verdien) is ongeveer 5% tot 6% per jaar. Dit dek net-net die inflasiekoers.

Jou kapitaal sal nie groei as jy die volle rente (of meer rente as wat jy verdien) onttrek nie en uiteindelik boer jy agteruit.

As jy skuld het

  

Skuld is nooit positief nie, maar soms is dit ’n noodsaaklikheid. Min van ons kan ’n eiendom of ’n voertuig kontant koop. As ons skuld maak, moet dit egter in bates wees wat vir ons welvaart en geleenthede skep en uiteindelik op lang termyn ’n besparing teweeg kan bring.

Ek gaan vandag fokus op hoe jy hierdie daling in die rentekoers tot jou voordeel kan inspan op jou huisverband- en voertuigskuld.

By voertuigfinansiering bespaar jy gemiddeld R15 000 aan rente vir elke 12 maande wat jou afbetalingstermyn verkort word. Foto: iStock

Voertuigskuld

Kom ons begin by voertuigskuld. Ek glo Suid-Afrikaners bestee te veel aan voertuie, koop te maklik op grond van emosie en ruil hul voertuie te gou vir ’n nuwe een in.

Ek het amper ’n jaar navorsing gedoen voordat ek my huidige voertuig gekoop het. Jy hoef natuurlik nie soveel tyd daaraan te bestee nie, maar doen jou huiswerk oor pryse, rentekoerse, beskikbare ekstras op voertuie, petrolverbruik, koolstofvoetspoor, tegnologiese byvoegings, jou en jou gesin se huidige unieke behoeftes (en hoe jou behoeftes moontlik kan verander oor die volgende vyf jaar), hoeveel jy ry, veiligheid en herverkoopwaarde (wat in die algemeen hoër is as jy minder ry).

As sake-eienaar het ek belastingvoordele en dit het ook my besluit beïnvloed.

Elkeen van ons se lewe, begroting en situasie verskil. Dit help om voorbereid te wees sodat jy hou by jou voornemens en nie emosioneel opgesweep raak deur die voertuighandelaar se verkoopsvoorstelle nie.

Kom ons kyk hoe hierdie 0,25-persentasiepunt-verlaging in die rentekoers ’n verskil kan maak aan jou motorfinansiering.

In Suid-Afrika is daar tans 2,2 miljoen motorfinansieringsrekeninge met gemiddeld R180 962 per rekening (dus per voertuig).

Ek gaan in my voorbeeld ’n finansieringsbedrag gebruik van R200 000. As jy voor die rentekoersverlaging 12% rente per jaar betaal het, was jou paaiement per maand (sonder bankkoste) sowat die volgende: 

  • R5 400 oor ’n vierjaar-afbetalingstermyn;
  • R4 500 oor ’n vyfjaar-afbetalingstermyn; of
  • R4 000 oor ’n sesjaar-afbetalingstermyn.

Met die verlaging van die rentekoers na 11,75% sal jou paaiement in al drie gevalle met ongeveer R25 per maand daal; ’n baie klein verskil.

Maar jy kan ’n verskil maak aan die rente wat jy oor die totale afbetalingstermyn betaal. Jy bespaar gemiddeld R15 000 aan rente vir elke 12 maande wat jou afbetalingstermyn verkort word.

Maak die afbetalingstermyn altyd so kort as wat jy kan of, as jy die selfdissipline en ruimte in jou begroting het en graag meer aanpasbaarheid verlang, kies ’n langer termyn maar verhoog dadelik jou debietorder na ’n hoër bedrag.

Ons hoor gereeld dat ’n voertuig nie ’n goeie belegging is nie, want hy verloor waarde oor sy leeftyd, terwyl ’n eiendom (hopelik) in waarde toeneem.

In beginsel is dit waar, maar ek dink ’n mens moet maar individueel na elkeen se situasie kyk. Ek dink nie enige pa wil vir sy kind ’n krok gaan koop en dan bekommerd wees oor haar veiligheid as sy langs die pad gaan staan nie.

Huisverband

Ek is die meeste opgewonde oor die verskil wat hierdie 0,25 persentasiepunt maak aan huisverbande. In my voorbeelde lyk die maandelikse besparing ook nie na veel nie, maar met my voorstel bespaar jy uiteindelik heelwat rente.

charné van der walt

Veronderstel jou huisverbandpaaiement daal, maar jy reël met die bank om dieselfde bedrag as voorheen af te betaal. Met ’n nuwe huisverband oor 20 jaar kom dit daarop neer dat jy jou verbandlening ’n jaar vinniger afbetaal (en meer as jy die verbandlening al langer het).

Kyk byvoorbeeld na opsie drie. Met ’n huisverband van R1 250 000 daal jou paaiement (uitgesluit bankkoste en versekering) met R206 per maand. As jy egter hou by jou huidige paaiement, bespaar jy R145 000 aan rente. Jy betaal die verbandlening in effek vinniger af en het dus gouer ’n bedrag van R12 062 per maand in jou begroting beskikbaar.

Nou, dít maak my opgewonde!

Behalwe dat jy rente bespaar en die verbandtermyn verkort, het jy ook die belastingvoordeel van geen of min kapitaalwinsbelasting omdat dit jou woonhuis is.

Ons word gevange gehou deur materiële dinge asook deur die begeerte daarna. En ons spaar nie.

Nie almal wil of kan eiendom koop nie. Jy wil moontlik oorsee studeer of werk, daar is net eenvoudig nie nou geld daarvoor nie of jou verswakte kredietrekord stuit jou planne om eiendom te koop. Maak dan seker dat jy steeds een of ander plan of doelwit het en probeer die geld wat jy het, verantwoordelik bestuur.

Wat ook al jy koop, ’n eiendom of ’n voertuig, maak seker dat jy die instandhoudingskoste, die versekering, die maandelikse en jaarlikse koste soos petrol, erfbelasting, voertuigdienste of groot herstelwerk aan ’n eiendom met redelike gemak kan betaal.

En as jy nie kan nie, pas jou verwagtinge daarby aan, maak opofferings en koop kleiner.

’n Wyse man by wie ek ’n kursus doen, sê jy kan in ’n persoon se dagboek en bankstate sien waarvoor hulle lief is.

Dit sê iets van onsself en wat (of waar) ons prioriteite is. Geld self is nie negatief nie. Dit maak wonderlike dinge moontlik in ons lewe. Hoe ons dit bestee, kan egter positief of negatief wees.

Die laer rentekoers moet ook nie vir ons ’n vals boodskap (of vrywaring) gee om meer te begin bestee as vroeër nie. Met skuld verlei ons onsself deur te dink dat ons deur daardie item vryheid koop. Wat gebeur, is presies die teenoorgestelde: Ons word gevange gehou deur materiële dinge asook deur die begeerte daarna. En ons spaar nie.

Dis reg en goed dat ons ’n nalatenskap wil laat vir ons kinders, maar hulle hou nie noodwendig van alles wat ons opgaar nie. Belê dan eerder in ’n lewenspolis (wat pro rata baie goedkoper uitwerk) en gee vir hulle die vryheid om eiendom of lewenservaringe daarmee te koop.

Sonder skuld gaan jy meer vryheid beleef. En, as jy skuld het, veral ’n eiendom of ’n voertuig, maak dit ’n prioriteit en stel vandag nog ’n doelwit om daardie skuld gouer te delg.

  • Charné van der Walt (bekend as The Lemon Lady), is ’n finansiële raadgewer en belastingpraktisyn. Jy kan haar kontak by 082 780 7978 of info@lemons.co.za. Die artikel is in leketaal geskryf en bevat nie spesifieke of persoonlike raad nie. Sy skryf gereeld vir Sake.
Meer oor:  Charné Van Der Walt  |  Huisverband  |  Beleggings  |  Geldmark  |  Oos-Kaap Naweek  |  Krediet  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.