Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Besluite neem is nie vir sissies nie

As ons veronderstel dat almal se basiese geleenthede (soos opvoeding en huislike omstandighede) soortgelyk is, wil ek my verstout om te sê dat verreweg die grootste bepalende faktor van waar mense in hul lewe beland, die kwaliteit van hul besluite is.

Dan is daar ook, in ’n mindere mate, goeie of slegte geluk. As jy dit as ’n formule sou uitdruk, sou dit as volg kon lyk:

Sukses = Kwaliteit van besluite +/- goeie/slegte geluk.

Andró Griessel

Die effek van jou vermoë om goeie besluite te neem kan egter nie oorbeklemtoon word nie. Die goeie nuus is dat dit binne almal se bereik is om wel beter besluite te neem. Dit is egter nie iets wat sommer natuurlik kom nie, aangesien ons as spesie nogal irrasioneel is. Irrasionaliteit is ook nie ’n vissie wat net in die lae-IK-dam rondswem nie – dis ook ’n struikelblok vir van die intelligentste mense.

Een van die invloedrykste boeke wat in die laaste paar jaar oor die onderwerp geskryf is, is Thinking Fast and Slow deur Daniel Kahneman. Lees dit gerus as jy ’n kans het.

So hoe oorkom ons hierdie geneigdheid om irrasionele of swak besluite te neem? Daar is baie slaggate waarvoor jy kan uitkyk, maar ’n mens moet eers daarvan bewus wees.

Een van die beste stukkies gereedskap waaraan ek wel kan dink wat jy onmiddellik kan begin gebruik, is om die besluit se potensiële langtermyn-implikasie te probeer verstaan en sodoende die vraag aan jouself anders te verpak. Dink gerus hier aan die korttermyn-implikasies vs. die langtermyn-implikasies van rook of van ’n dieet wat baie ryk aan suiker is.

Ek gee graag twee voorbeelde uit die alledaagse omgang wat ons met kliënte het oor hul finansiële beplanning en illustreer wat ek hiermee bedoel (die name is fiktief, maar nie die voorbeelde nie).

Voorbeeld 1:

Dr. Frankenstein (45) is volgens ons berekeninge tans ten opsigte van sy ongeskiktheidsdekking oorverseker. Hy betaal R12 000 per maand aan sy uitgebreide risikovoordele en die verlaging in sy enkelbedrag-ongeskiktheidsdekking van ongeveer R4 miljoen gaan “slegs” R600 per maand se besparing teweegbring. Is dit die moeite werd vir hom om die dekking te verlaag?

belasting
Die regte óf verkeerde besluit kan 'n groot invloed op 'n belegging hê. Foto: Unsplash

Voorbeeld 2:

Sara (23) begin haar eerste werk. Nadat sy haar somme gemaak het, besluit sy om R1 000 per maand van haar salaris te spaar, wat jaarliks met 5% tot by haar aftrede op 65 gaan eskaleer.

Sy moet kies tussen twee beleggings: ’n Matige belegging wat 10% per jaar behoort op te lewer of ’n meer aggressiewe belegging wat 12% behoort op te lewer. Hoe belangrik is die keuse hier, want 2% ekstra op R12 000 per jaar is tog nie wesenlik nie, reg?

Die beste manier om dié soort vraagstukke te benader is om nié “intuïtiewe” besluite te neem nie, maar om die langtermyn-implikasies te bereken en dit dan te verdiskonteer na ’n waarde vandag. Hierdie “waarde” is dan eintlik die prys of waarde van die besluit/advies.

In voorbeeld 1 sal dr. Frankenstein, indien hy die R600 per maand spaar tot en met ouderdom 65 (aanvaar ’n jaarlikse eskalasie in die premie van 8% en ’n netto groeikoers van 10,5% per jaar), R816 000 meer in sy “spaarbussie” hê. Dit is reeds ongeveer R254 000 werd in hedendaagse geldwaarde.

Gestel egter daardie geld word van daar af eenvoudig uitgelos om te groei (geen verdere bydraes nie), sal dit ’n nalatenskap op 85 van R6 miljoen teweegbring wat eenvoudig nie daar sou wees nie.

In vandag se waarde is die besluit om die enkelbedrag-ongeskiktheid (met ’n baie lae waarskynlikheid van uitbetaling, en terwyl hy voldoende gedek is) in die orde van R585 000 werd wees. Wat soos ’n baie triviale besluit gelyk het, is ooglopend een van die groter finansiële besluite wat hy in ’n tydjie sou maak.

In voorbeeld 2 is hierdie lukrake besluit wat in jaar 1 ’n R120-verskil aan haar eindbalans gaan maak, ’n verskil van R11,9 miljoen in fondswaardes op 65-jarige ouderdom wanneer sy eendag aftree. In vandag se waarde is die waarde van daardie geld ongeveer R1,85 miljoen! Toe nie so ’n ligtelike besluit nie?

Daar is nie genoeg ruimte in dié rubriek om die legio soortgelyke besluite wat mense daagliks oor hul geldsake neem te illustreer nie, maar hier is ’n paar wat ons gereeld teëkom.

  • Die ignorering van die impak van hoëkoste- kontraktuele spaarprodukte op die langtermynwaardes.
  • Die betaal van lewenspremies ná aftrede waar die premies self aftreefondse se behoud in gevaar gaan stel.
  • Die impak van te konserwatiewe beleggings.
  • Die impak van vermybare belasting op netto beleggingsbedrae.
  • Die implikasie van aggressiewe premiepatrone op versekeringsprodukte se volhoubaarheid op lang termyn.
  • Die impak van oorversekering (dikwels waar groepsvoordele private voordele dupliseer).
  • Onnodige versekering van items (korttermynversekering) teenoor die waarde van premies belê.

Net soos die korttermyneffek van elke besluit om ’n sigaret op te steek nie wesenlik voel nie, maar die langtermyneffek van hierdie “klein”, maar verkeerde besluitjies, potensieel dodelik kan wees, net so is baie van die ander besluite wat ons goedsmoeds elke dag neem, potensieel baie skadelik vir ons op lang termyn.

Tref deeglik onderskeid tussen eerste-orde-besluite (moet ek ’n trui aantrek of nié, blou sokkies of wit, gaan gholf speel of nié?) en tweede-orde-besluite (moet ek met hierdie persoon trou, moet ek hierdie belegging doen, gaan ek drink en bestuur, huis koop, hoeveel moet ek betaal?). Swak besluite oor laasgenoemde kan jou baie ver van koers af laat dwaal.

  • Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@proverte.co.za. Hy skryf gereeld vir Sake.
Meer oor:  Versekering  |  Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2260,51 (7457)
  • Top 40 50341,63 (26385)
  • All Share 56406,88 (28305)
  • Resource 10 44220,72 (46209)
  • Financial and Industrial 30 76382,91 (30380)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.