Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Beste bateklas vanjaar is . . . Lego?

’n Mens kan baie goed bou uit Lego: kastele, ruimtetuie, superhelde . . . en (glo dit of nie), ’n goed gediversifiseerde beleggingsportefeulje.

Detail van ’n Lego-beeldhouwerk van die beroemde skildery Die Gil deur Edvard Munch, in 2018 op The Art of the Brick, ’n kontemporêre kunsuitstalling in Ottowa, Kanada. Die kunstenaar is Nathan Sawaya.Foto: Getty Images

Die klein plastiekblokkies waarmee kinders (en volwassenes) al dekades lank speel, het oor die drie dekades tot en met 2015 ’n groter gemiddelde opbrengs as goud, aandele en staatseffekte gelewer.

Dit is volgens navorsing deur Victoria Dobrinskaja, ’n medeprofessor in die ekonomie aan die Moskou-universiteit in Rusland.

As ’n bateklas het Lego selfs volgens sekere maatstawwe nuwe slim-beta- beursverhandelde fondse geklop, sê Dobrinskaja. Slim beta is alternatiewe maniere om indeksfondse saam te stel wat nie net op markwaarde gegrond is nie.

Dobrinskaja se navorsing, “Lego – The Toy of Smart Investors”, het 2 300 Lego-stelletjies wat van 1987 tot 2015 verkoop is, ontleed om te kyk hoe pryse en dus opbrengste oor dié tydperk verander het.

Sy het bevind dat stelletjies van die Harry Potter-flieks se Hogwarts-kasteel en Star Wars se Jedi-ruimtetuie beter gevaar het as die aandele en effekte van die grootste Amerikaanse maatskappye met markwaardes bo $10 miljard. Gemiddeld het dié stelletjies se waarde met 11% per jaar gegroei.

Dobrinskaja noem ook dat haar Lego-bateklas die norme van bates in die beroemde Fama-French-model volg in dié sin dat die kleiner stelletjies (as plaasvervanger vir kleiner maatskappye) ’n groter opbrengs gelewer het as middelslagstelletjies, wat ook voorspel word vir maatskappygroottes in die Fama-French-model.

’n Praktiese voorbeeld illustreer die waarde van dié omstrede bateklas dalk beter.

’n Star Wars-stelletjie van Darth Revan (’n skurk in dié beroemde wetenskapsfiksiereeks) het in 2014 by kleinhandelaars verkoop teen $3,99, maar ’n jaar later is die relatief skaars stelletjie opgeveil vir $28,46 op die gewilde aanlyn snuffelwebwerf eBay.

Die herverkoopprys het dus ’n premie van 613% gehad.

Dobrinskaja het haar doktersgraad aan die gesogte London School of Economics verwerf, maar die 37-jarige het nie soos haar portuurgroep inspirasie vir haar unieke navorsing op ’n konvensionele akademiese manier gekry nie.

My seun hou daarvan om met Lego te speel en ek het baie daarvan by die huis. In ’n stadium het ek gedink: Miskien het ek ’n beleggingsportefeulje hier beet?
Victoria Dobrinskaja

Haar nuuskierigheid is geprikkel deur haar seun se liefde vir Lego, wat haar toe gedryf het tot aanlyn groepe van mense wat spesialiseer in die koop en herverkoop van Lego-stelletjies.

“My seun hou daarvan om met Lego te speel en ek het baie daarvan by die huis. In ’n stadium het ek gedink: Miskien het ek ’n beleggingsportefeulje hier beet?” het Dobrinskaja gesê.

“Ek weet dat Lego niks te doen het met die multi-faktormodelle waaraan ek my tyd bestee nie. Dit beteken egter nie dat die opbrengs op Lego-stelle absoluut niks met faktor-belegging te doen het nie.

“Jy sal verbaas wees om te weet dat dit wel die geval is.”

Sy verduidelik ook dat Lego, anders as baie ander bateklasse, nie ’n beduidende verband het met finansiële krisisse nie, en dus ’n baie aantreklike belegging kan wees wat ook baie diversifiseringsgeleenthede bied.

Volgens Dobrinskaja is die langtermyntendens dat superheld-stelletjies soos Batman of selfs Indiana Jones die beste vaar, terwyl die enigste stelletjie wat sy kon identifiseer waarvan die waarde oor tyd afgeneem het, ’n Simpsons-stelletjie was. Dít het met gemiddeld 3,5% in waarde gedaal.

In terme van groottes verduidelik Dobrinskaja dat klein stelletjies (met tot 113 stukke), wat gewoonlik skaarser is, ’n gemiddelde jaarlikse opbrengs van 22% handhaaf, terwyl middelslagstelle (met om en by 860 stukke) swakker vaar.

Daarenteen vaar die heel grootste stelle (van 2 000 stukke) amper net so goed soos die kleinstes.

Gelukkig vir diegene wat belang stel om in die nuwe jaar hul beleggingsportefeuljes uit te brei, sê Dobrinskaja dat nuwer Lego-stelletjies (dié wat tans op die mark is) deur die bank beter vaar as ouer stelle. Volgens haar dui dit dalk op die feit dat Lego as bateklas reeds gewilder begin word. – Bloomberg, verwerk

Meer oor:  Lego  |  Beleggings  |  Bateklasse  |  Finansiële Adviseurs  |  Batebestuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.