Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Betaal jou skuld op die maklike manier

’n Konsolidasielening is een gerieflike betaling wat maklik is om te bestuur en spaar koste.

  

Skuld veroorsaak stres.

As jou beursie bult staan van die kaarte is die kans goed dat jy elke maand ook ’n hele aantal rekeninge het om af te betaal. Jy betaal getrou maandeliks die minimum bedrag op elkeen verskuldig, maar dit maak skaars ’n duik in die uitstaande saldo’s.

Op ’n dag maak jy al die rekeningstate bymekaar en werk uit watter persentasie van jou besteebare inkomste jy gebruik om skuld te delg.

Dit laat gewoonlik ’n mens se oë rek.

Die ontsteltenis is selfs groter as jy besef hoe ’n groot hap van die maandelikse terugbetaling word deur bankgelde, skuldversekering en rente ingesluk, eerder as om die bedrae wat jy geleen het, te verklein.

Dis dan wanneer ’n mens na ander opsies kyk, soos om jou skuld in een oorkoepelende rekening te konsolideer waar jy minder rente en bankkoste betaal as in ’n verskeidenheid krediet- en winkelkaarte en makliker tred kan hou met hoeveel jy skuld.

  

Verstaan jou skuld

  

Die eerste stap om skuld te bestuur, is om dit te verstaan, sê Ester Ochse, produkhoof van FNB Money Management. Gebruik die tabel hierby en vul die besonderhede van jou eie lenings in elke kolom in. 

k

Daar is twee maniere om skuld af te betaal: sneeubal of sneeustorting.

  • Die sneeubal-metode begin met die kleinste bedrag eerste. In die voorbeeld op ons tabel sal dit jou skuld aan FGH wees. Die voordeel is dat jy ’n vinnige oorwinning behaal wat jy dan as grondslag gebruik vir verdere delging. 
  • Die sneeustorting-metode begin met die skuld waarop jy die meeste rente betaal. In ons tabel is dit jou skuld aan ABC. Die voordeel van dié metode is dat jy bespaar op rente-terugbetaling en dus die rente vinniger delg. 

Daar is egter ’n derde opsie: om al hierdie rekenings in ’n skuldkonsolidasie saam te vat, dus ’n nuwe persoonlike lening teen ’n potensieel laer rentekoers uit te neem. Dan betaal jy al die bestaande skuld af en jy bespaar op maandelikse uitgawes. 

  

Wat is ’n konsolidasie-lening?

  

Eenvoudig gestel verwys dit na die uitneem van ’n nuwe lening om bestaande lenings of skuld af te betaal, verduidelik Neil Thompson, produkhoof van African Bank. “Basies dra jy al daardie lenings van verskillende uitleners oor na een lening met die doel om vorentoe een paaiement te betaal en jou bankkoste te verminder.”

Die voordeel is dat die rentekoers op ’n konsolidasielening potensieel laer kan wees as dié van ’n klomp kleiner lenings.

“Daar is een gerieflike betaling wat maklik is om te bestuur en jy bespaar maandelikse koste,” sê Ester Ochse, produkhoof van FNB Money Management.

Die ekstra geld wat jy spaar, kan óf gebruik word om skuld vinniger af te betaal óf om ’n noodspaarfonds te begin.

“Die besparing kan jou kontantvloei verbeter en die ekstra geld wat jy spaar, kan óf gebruik word om skuld vinniger af te betaal óf om ’n noodspaarfonds te begin.”

Thompson sê so ’n lening kan ook ’n positiewe invloed hê op die kliënt se kredietstatus aangesien die uitlener se blootstelling verminder word en skuld in sommige gevalle gouer afbetaal word.

  

Watter soort konsolidasielenings is beskikbaar?

  

’n Mens kan die geld wat jy benodig op jou huisverband leen, jy kan ’n konsolidasielening by die bank uitneem of jy kan vasstel watter een van jou kredietkaarte het die laagste rentekoers en die ander kaartskuld daarmee betaal.

Oppas! Die afbetaal van skuld kan ’n mens ’n valse gevoel van finansiële vryheid gee sodat jy dan meer skuld aangaan. Foto: Pixabay

Ochse sê die voordeel van ’n huisverband is dat jy die geld waarskynlik teen ’n lae rentekoers kan leen, omdat dit gesekureerde skuld is. “Maar nou betaal jy die lening af oor die termyn van die huislening, wat tot gevolg kan hê dat jy op lang termyn baie meer rente betaal.”

Die oordrag van die skuld na die begrotingsgerief van jou kredietkaart kan dalk goedkoper wees as om ’n ander lening uit te neem. Ochse waarsku egter dat ’n mens dan jou kredietperk kan opgebruik en jy moet ook baie seker maak dat die skuld wel vinniger en meer gereeld afbetaal word.

’n Persoonlike lening sal ’n groter konsolidasie-uitwerking hê. Dit stel mens in staat om die skuld apart te hou en behoorlik boek te hou van hoe vinnig jy dit afbetaal. Jy kry ’n enkele persoonlike rentekoers en betaal maandeliks een enkele rekening se bankkoste. “In sommige gevalle kan só ’n lening egter ’n hoër rentekoers as ’n kredietkaart of huisverband hef,” waarsku Ochse.

  

Waar lê die slaggate?

  

Skuldkonsolidasie beteken nie dat ’n mens skuldvry is nie. Dit gee jou net groter beweegruimte om een beheerbare skuldpaaiement in plaas van ’n aantal kleineres terug te betaal. Maar dan moet jy getrou betaal en nie agterraak nie.

Die afbetaal van skuld kan ’n mens ’n valse gevoel van finansiële vryheid gee sodat jy dan meer skuld aangaan, waarsku Thompson. “Met skuldkonsolidasie keer niks ’n kliënt om weer nuwe skuld aan te gaan nie. Dit kan lei tot ’n skuldsiklus wat jou potensieel te diep in die skuld laat beland.”

Ochse se raad is dat ’n mens slegs geld van gemagtigde finansiële diensverskaffers moet leen. As jy net ’n maand of twee oor het voordat ’n uitstaande lening afbetaal is, probeer om dit nie te herfinansier nie.

“Kyk baie mooi na die verskillende soorte koste wat gehef word en maak jou somme.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.