Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Betaalvakansie: Staat wil keer dat jy op ‘swartlys’ land
Betaalvakansies kan 'n invloed op verbruikes se kredietprofiel hê. Foto: Pixabay

Het jy ’n betaalvakansie van jou bank aanvaar en nou is jy bekommerd dat jou kredietrekord skade gaan ly?

As dit van die regering afhang, gaan dit nie die geval wees nie.

In ’n dokument wat tans deur die departement van handel, nywerheid en mededinging bespreek word, stel die staat voor dat niemand wat ’n betaalvakansie gedurende die Covid-19-pandemie aanvaar het, op ’n sogenaamde “swartlys” geplaas word wat krediet betref nie. Of, meer korrek gestel, dat hulle negatiewe inskrywings op hul kredietgeskiedenis kry wat dit moeiliker maak om rekeninge oop te maak of moeiliker maak om lenings te bekom. 

Sidwell Medupe, woordvoerder van die departement, sê in ’n telefoniese onderhoud met Netwerk24 die voorstel word nog bespreek.

Hy sê ook dat alle belanghebbendes genader is om insette daaroor te lewer en dat dit glad nie waar is dat die dokument in die geheim opgestel is nie.

Dit is nadat Dean Macpherson, DA-LP, in ’n verklaring beweer het dat die dokument in die geheim opgestel is.

Macpherson voer aan dat sou die regulasies wat in die dokument voorgestel word tot uitvoer gebring word, dit “vernietigende gevolge” vir die kredietsektor asook verbruikers sal hê.

MacPherson sê verbruikers sal die ramptoestand “gebruik om kredietrekords uit te vee”.

Die departement verduidelik in ’n verklaring dat die rede hoekom die regering regulasies oorweeg wat bepaal dat daar nie op verbruikers se kredietrekords aangedui moet word dat hulle ’n betaalvakansie aanvaar het nie, is as gevolg van ’n hofuitspraak.

“ ’n Groep advokate het onlangs ’n hofaansoek namens kwesbare persone teen die regering ingedien, waarin hulle beweer dat die staat nie genoeg doen om die gevolge van die inperking op burgers aan te spreek nie.

“Een voorbeeld wat in die aansoek genoem word, is die effek op mense wanneer kredietburo’s hulle op ’n swartlys plaas omdat hulle tydens die pandemie nie ’n inkomste kon verdien en hul finansiële verpligtinge kon nakom nie,” lui die verklaring.

Die departement verduidelik dat die litigante die hof gevra het om te bepaal dat maatreëls getref moet word om persone te help om – omdat hulle weens die pandemie nie hul huur kon betaal nie – nié op ’n swartlys geplaas te word, uit hul plek van verblyf uitgeset te word, en dat hul noodsaaklike dienste nie afgesny word nie.

“In hierdie konteks het die regering se regspan die departement versoek om die meriete van ’n verordening ingevolge die Nasionale Kredietwet te oorweeg, om negatiewe kredietbevindings te beperk in omstandighede waar persone sonder ’n inkomste was bloot weens die pandemie en die staat van inperking.”

Ewald Kellerman, hoofrisikobeampte verantwoordelik vir huislenings by Absa, het aan Netwerk24 bevestig dat luidens die vereistes wat deur die Kredietburo aan banke gestel word, “word daar van ons verwag word om aan te dui waar daar betalingsverligting is op ’n rekening. Dit word ’n uitgestelde betaling genoem.

“Afhangend van die unieke omstandighede van elke saak en die betrokke buro, kan dit ’n invloed hê op die kredietprofiel van ’n kliënt. Hulle kan moontlik verhinder word om vir meer krediet aansoek te doen terwyl hulle korttermynbetalingsverligting ontvang,” sê hy.

Afhangend van die unieke omstandighede van elke saak en die betrokke buro, kan dit ’n invloed hê op die kredietprofiel van ’n kliënt.
Ewald Kellerman, Absa

Anton de Wet, verantwoordelik vir klein- en sakebankdienste by Nedbank, bevestig ook die vereiste wat kredietburo’s betref.

Hy sê egter dat dit nié die kliënt se kredietprofiel nadelig beïnvloed nie.

“Waar kliënte ’n fout in hul gegewens rakende ’n betaalvakansie identifiseer, moet hulle ons daarvan in kennis stel. Betaalvakansies is tans nie ’n faktor wat in ons kredietbeoordeling gebruik word nie.”

Jeannine Naudé Viljoen van die kredietburo TransUnion sê ook volgens hulle beïnvloed ’n betaalvakansie nié ’n verbruiker se kredietprofiel nie.

Sy sê dit is egter belangrik dat verbruikers die regte proses by hul bank volg om te verseker dat daar aangedui word dat die verbruiker nié ’n lening betaal nie weens ’n betaalvakansie.

Viljoen het bevestig dat hulle bewus is van die voorgestelde regulasies soos wat deur die departement bespreek word.

Sy sê dat sodra dit van krag word, sal dit toegepas word.

Medupe kon geen aanduiding gee oor wanneer die regulasies vir kommentaar publiseer sal word, óf wanneer die departement beoog om dit van krag te maak nie.

Daar is geen swartlys

Die term “swartlys”, wat nog algemeen gebruik word, kom van die dae toe slegs mense wat agterstallig geraak het met hul skuld by kredietburo’s aangegee is.

Deesdae het almal ’n kredietgeskiedenis en ’n kredietpunt. Mense wat hul skuld getrou betaal, het ’n hoër kredietpunt en sal dus makliker nuwe lenings kan aangaan vir ’n hoër bedrag of teen ’n beter rentekoers.

Enige agterstallige rekenings, wanbetalings of siviele vonnisse vir skuld, word negatiewe inskrywings op jou kredietgeskiedenis. Dit bly vir ’n voorgeskrewe tyd daar of totdat jy jou skuld vereffen het.

Verbruikers mag een keer per jaar ’n gratis kredietverslag van alle kredietburo’s aanvra om seker te maak alle inligting daarop is korrek.

Die land se grootste kredietburo’s is TransUnion en Compuscan.

Meer oor:  Nedbank  |  Transunion  |  Absa  |  Betaalvakansie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.