Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Boedelkoste: Let hierna op
Dit is belangrik om ’n testament te hê wat jy kan bywerk. Foto: iStock

Na aanleiding van die vorige artikels in dié reeks oor testamente, het ’n paar lesers hul verbasing uitgespreek oor die hoë eksekuteursgelde.

Die maksimum tarief wat gehef mag word, is 3,5% van alle bates (voor skuld). In die meeste gevalle word belasting op toegevoegde waarde (BTW), tans 15%, hierop gehef, wat effektiewelik neerkom op ’n tarief van 4,03% van die bates se waarde.

Hoe kry jy dit reg om minder eksekuteursgelde te betaal? As jy jou gade of ’n kind as eksekuteur aanstel en dié familielid moet dan ’n agent met genoeg boedelondervinding aanstel, is daar ruimte om die tarief vooraf te beding.

Sommige opstellers van ’n testament bepaal reeds ’n persentasie vir die eksekuteursgelde in die testament. Ek doen dit nie, want ek weet nie wat die situasie gaan wees wanneer die testateur sterf nie.

Onroerende eiendom, en in sommige gevalle ook bates soos motors en huisinhoud, moet formeel gewaardeer word. Dit is die eksekuteur se keuse wie die waardasies doen.

Die lesers verwys na “klein” en “groot” boedels, wat gewoonlik gekoppel word aan die monetêre waarde van die boedel. Vir my, wat met boedels werk, is dit soms andersom.

Ek kan ’n boedel hanteer waar daar letterlik een eiendom van groot waarde sonder ’n verband is wat na ’n oorlewende gade oorgedra moet word. Dit is dan eintlik ’n “klein”, of eerder “eenvoudige”, boedel, hoewel die eksekuteursgelde hoog kan wees. Ek sal in so ’n geval afslag oorweeg.

Aan die ander kant kan ek ’n boedel beredder waar daar min bates is, maar geweldig baie skuld. So ’n boedel sal dus baie lae eksekuteursgelde, maar meer werk, hê. Dit is belangrik dat die eksekuteur voor aanmelding van die boedel kennis dra van presies watter bates en skuld die oorledene het. Maak seker dat jou naasbestaandes weet wat in jou geldsake aangaan.

Een leser vra of ’n eksekuteur ook ’n erfgenaam kan wees. Ja, dit is toelaatbaar en gebeur gereeld waar ’n testateur sy boedel bemaak aan sy gade en kinders, en dan die gade of een van die kinders benoem as eksekuteur.

Dié persoon mag ’n voordeel uit die boedel kry, hetsy as ’n erflating of die eksekuteursgelde, of albei.

Wees versigtig by die keuse van die twee getuies. Om veilig te wees, gebruik bure, kollegas of vriende wat nie in die testament bevoordeel word nie. Onderteken jou testament in die teenwoordigheid van hierdie getuies. Gebruik net volle handtekeninge en elke bladsy moet onderteken word deur al drie partye.

Ek hou daarvan om die getuies se persoonlike en kontakinligting in die testament te voeg sou die familie van die oorledene later die geldigheid van die testament bevraagteken.

Vermy handgeskrewe en gekoopte testamente. ’n Leser is as’t ware gediskwalifiseer as sowel eksekuteur as enigste erfgenaam omdat sy hierdie gedeeltes in haar eie handskrif ingeskryf het op haar oorlede man se testament. Sy mag nou net erf wat sy intestaat sou kon erf.

Een leser het byvoorbeeld miljoene rande se lewensversekering gehad deur ’n groepskema waar hy gewerk het, maar die dag toe hy aftree, het daardie dekking verval.

As jy in so ’n situasie is, probeer om self ’n lewensdekkingspolis uit te neem wat kan voortgaan ná jou aftrede. Kontak jou werkgewer se mensehulpbronafdeling om uit te vind of jou werkgewer se pakket ’n omskakelingsopsie het.

Ek sluit af met ’n voorbeeld. Sien die tabel hiernaas.

boedel

In scenario A besit die oorledene een woning (geen verband) wat aan die gade bemaak word. Die eksekuteursgelde is 2,5% (voor BTW) en daar is geen lewensdekking betaalbaar aan die boedel nie. In hierdie geval het die erfgenaam (die gade) ’n kontantbedrag van R130 564,04 nodig om die boedel af te handel. Die gade moet dié bedrag finansier deur geld te leen, noodfondse te gebruik of deur bates te verkoop.

In scenario B is daar twee eiendomme en dus groter oordragskoste, uitklaringsyfers (sien tabel) en administratiewe koste. Die maksimum eksekuteursgelde is gehef, asook kontanthanteringsgelde op die lewensdekking wat uitbetaal. Die koste is drie keer soveel as in scenario A, maar daar is ’n lewenspolis wat dit dek.

Uitklaringsyfers is die bedrae wat jy vooruit moet betaal by die munisipaliteit op efbelasting, krag en water (sommige vra drie of vier maande vooruit, sommige selfs ses maande) wanneer ’n eiendom verkoop of in ’n ander persoon (of trust) se naam geregistreer moet word.

Jy hoef egter wel vir die paar maande daarna nie hierdie rekening te betaal nie.

In scenario B was daar egter ’n probleem dat die huurder agterstallig was op die elektrisiteit- en waterrekening, en dit gaan beteken dat jy daardie geld by die huurder moet invorder.

Ek het in albei voorbeelde nie eens verder gekyk na boedelbelasting en/of KWB nie.

Daar is nog heelwat lesersvrae wat ek ontvang het, so ek sal iewers in volgende jaar die bespreking van testamente en die koste daaraan verbonde voortsit. Daar is ook ’n behoefte by lesers om meer te weet oor die versorging van minderjarige kinders deur die gebruik van ’n trust, en veral wat die wisselwerking is tussen trustees en voogde.

Ek wil graag dankie sê aan lesers se ondersteuning en belangstelling in my rubrieke. Mag julle elkeen ’n veilige en rustige Kersfees en Nuwejaar geniet.

  • Charné van der Walt (The Lemon Lady), is ’n finansiële raadgewer en belastingpraktisyn op Stellenbosch. Jy kan haar van middel Januarie 2020 af kontak by info@ lemons.co.za of 082 780 7978. Die artikel is in leketaal geskryf en bevat nie spesifieke of persoonlike raad nie. Sy skryf gereeld vir Sake.
Meer oor:  Testament  |  Boedelbeplanning  |  Boedelbelasting  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.