Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Brandskade: fynkam jou polisdokument

As die as gaan lê het ná die brande teen Tafelberg moet huiseienaars maar hul poliskontrakte deeglik nagaan, en met hul versekeringsmakelaars praat om te sorg hulle is behoorlik gedek vir brandskade.

Maak seker jou versekering is voldoende vir jou behoeftes. Foto: iStock

Dít is die advies van Chistelle Colman, woordvoerder vir Old Mutual Insure.

Poliseienaars bel nou verwoed om vinnig hul dekking vir brandskade te probeer verhoog, maar Colman verduidelik dit is nou te laat vir mense wat reeds skade gely het.

Sy troos egter dat mense nie onnodig beangs behoort te wees dat polisse nie sal uitbetaal in geval van brandskade nie. Mense behoort net seker te maak hul huisstruktuur en die inhoud is teen die korrekte waardes verseker.

Mense dink soms voertuie is net blootgestel aan risiko’s soos ongelukke of diefstal, maar Colman wys daarop dat motors ook vir brandskade gedek moet wees. Tot agt motors is Sondagmiddag deur die brand verwoes. Motors kan ook beskadig word wanneer huise afbrand en die motor in die garage of langs die huis geparkeer staan.

“Daar is baie angstigheid, en mense moet kalmeer. Die meeste huisversekeringspolisse het ’n klousule in vir brandskade en sal uitbetaal.”

Risiko

Versekeraars beraam gewoonlik ook die risiko vir brandskade volgens die adres van die betrokke versekerde eiendom. Huise aan die kant van fynbosgebiede of woude behoort dus die ekstra risikodekking in hul premies ingesluit hê.

Christelle Colman, versekeringskenner van Old Mutual Insure

Alternatiewe blyplek

Dis gewoonlik standaard dat polisse alternatiewe huisvesting vir ’n beperkte tyd sal voorsien waar huise onbewoonbaar is of vernietig is weens ’n brand, verduidelik Colman.

Polisse verskil, maar die tydperk is gewoonlik ’n jaar tot twee jaar, maar mense moet hul polisdokumente fynkam en seker maak dit pas hul behoeftes.

Benewens fisieke skade of vernietiging weens die brand, is huise dikwels onbewoonbaar weens die rook- of roetskade, of waterskade wanneer brandbestryders die brand probeer blus het.

Daar is ook eise vir onder meer die skoonmaak van gordyne of die binnekant van die huis weens die brand.

Beurtkrag

Benewens veldbrande, is daar volgens Colman die afgelope twee jaar ook meer brandeise weens beurtkrag en kragstuwings. Hoëtegnologie-toerusting, geisers of hekmotors kan dikwels nie die kragstuwings hanteer wanneer die krag weer aangeskakel word ná beurtkrag nie, en dan kan brande ontstaan. Mense moet seker maak hulle het beskerming teen kragstuwing vir hul toerusting, en dat polisse ook dié skade dek.

As jou duur nuwe iPhone besig was om sy battery te herlaai wanneer daar ’n kragstuwing is, kan dit die foon vernietig, waarsku Colman. Sulke duur toerusting moet dus teen die regte waardes in die polis gedek word ingeval van sulke skade.

Skade nog onseker

Volgens Colman is dit nog te vroeg om te bepaal wat die koste is van die skade in die jongste brand, maar dis nog nie naastenby soortgelyk aan die Knysna-brande van 2017 nie. In dié brande is agt mense dood en meer as 700 eiendomme vernietig. Dit het veral die korttermynversekeraar Santam kwaai getref en hy moes sowat R700 miljoen se eise uitbetaal. In totaal is meer as R2 miljard se versekeringseise ingestel weens dié brande en word die totale skade op meer as R4 miljard beraam.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.