Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Buitelandse werk dalk nie meer lonend
werk
Dit gaan binnekort dalk nie meer lonend wees om oorsee te gaan werk soek nie. Foto: Unsplash

Die tesourie se besluit om vroeg in Maart ’n bykomende spesiale werksessie te hou oor die skrapping van belastingkwytskelding aan Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk, kan ’n aanduiding wees dat die owerhede ook byvoordele wat oorsee verdien is van belasting sal kwytskeld, sê belastingpraktisyns.

Ná ’n stortvloed besware sedert die tesourie in 2017 aangekondig het hy wil die kwytskelding ophef, het hy reeds die inwerkingtreding van die wysigings met ’n jaar tot 1 Maart 2020 uitgestel.

Hy het ook buitelandse vergoeding tot R1 miljoen kwytgeskeld van belasting in Suid-Afrika vir mense wat meer as 183 dae in ’n 12 maande-tydperk in die buiteland werk. Aanvanklik was totale buitelandse vergoeding in die visier.

Sedert 2017 het meer as 13 600 mense wat deur die beplande opheffing van kwytskeldings geraak word hulle by die Tax Petition Group aangesluit en ’n beswaarskrif onderteken. Hulle vrees dit sal nie meer vir hulle lonend wees om in die buiteland te werk nie. Belastingpraktisyns en Suid-Afrikaanse firmas wat Suid-Afrikaners na die buiteland stuur om hul ondernemings internasionaal uit te brei, het ook hul kommer uitgespreek.

Barry Pretorius, stigter en vennoot van Tax Consulting SA en voorsitter van die Tax Petition Group, sê daar is nog baie ander veranderinge nodig om rampspoedige gevolge vir Suid-Afrikaners wat oorsee werk te keer.

Volgens Pretorius is een daarvan die lewenskoste in lande soos die Verenigde Arabiese Emirate (VAE). Deur byvoordele te belas, sal jy die mense dwing om die land permanent te verlaat.

Jaco la Grange ’n assosiaat-direkteur in Deloitte se afdeling Global Employer Service, sê met byvoordele soos skoolgeld, sekuriteit, vlugte huis toe en ander toelaes wat deel is van Suid-Afrikaners se vergoedingspakkette as hulle in die buiteland werk, oorskry hul vergoeding maklik R1 miljoen.

Volgens die tesourie is almal wat teen einde verlede jaar kommentaar gelewer het, na die werksessie in die eerste week in Maart genooi, soos organisasies wat betaalstaat- en belastingpraktisyns verteenwoordig.

Tydens die werksessie sal “administratiewe besonderhede oor die implementering van die wysigings bespreek word”, het die tesourie gesê.

Volgens Billy Joubert, ’n direkteur van Deloitte, sal veral Suid-Afrikaners in die VAE en talle Afrikalande waar belastingkoerse laer is as in Suid-Afrika, sleg getref word.

Kragtens die gewysigde wetgewing sal Suid-Afrikaners wat oorsee werk maar steeds as belastingbetalers in Suid-Afrika geregistreer is, belasting teen ’n koers van tot 45% op buitelandse verdienste van meer as R1 miljoen aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) moet betaal.

Jerry Botha, besturende vennoot van Tax Consulting SA en uitvoerende komiteelid van die South African Rewards Association wat van Suid-Afrika se grootste maatskappye verteenwoordig, verduidelik op die oomblik kan die werknemers belastingkwytskelding van die SAID eis op hul buitelandse vergoeding, en betaal dan net belasting in die land waar hulle in diens is.

Die tesourie het destyds gesê die doel van die wysigings is om seker te maak Suid-Afrikaners wat oorsee bly, kom hul belastingverpligtinge na. Botha sê die mense moet hul belastingsake in orde kry, of die gevaar loop van vervolging. “Dit is nie nodig om aan ’n wet te karring wat al jare bestaan nie.”

Ruaan van Eeden, besturende direkteur van belastingadvies by die Geneva Management Group, sê dit lyk of min mense wat geraak word al hul sake in orde begin kry het.

Die enigste praktiese manier om belasting aan die SAID te vermy, is ’n formele proses van finansiële emigrasie, wat beteken jy is nie meer ’n Suid-Afrikaanse belastingbetaler nie, of jy kan jou status as Suid-Afrikaanse belastingbetaler laat vaar sonder formele emigrasie, sê Van Eeden.

Daarsonder beskou die SAID jou steeds as ’n Suid-Afrikaanse belastingbetaler, wat beteken jy moet inligting oor jou inkomste terwyl jy in die buiteland gewerk het aan Jan Taks verskaf.

Hy waarsku ook dat mense ’n ingeligte keuse moet maak wanneer hulle hul status as Suid-Afrikaanse belastingbetaler wil prysgee, omdat daar ander koste is soos ’n uitgangstarief vanuit ’n kapitaalwinsperspektief. Teen ’n maksimum effektiewe koers van 18% is dit iets waarvoor jy moet begroot.

Hy het al gesien hoe swaar dit Suid-Afrikaners tref wat in plekke soos Dubai bly waar geen inkomstebelasting gehef word nie en wat oor die jare aansienlike buitelandse bates opgebou het.

Joubert sê persoonlik voel hy die opheffing van die kwytskelding is ’n baie slegte idee.

Die onbedoelde uitwerking kan wees dat baie Suid-Afrikaners terugkom omdat dit nie meer vir hulle die moeite werd sal wees om in sekere lande te werk as hulle teen tot 45% in Suid-Afrika belas word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.