Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Capitec reg vir omstrede wet wat skuld afskryf

Capitec Bank is reg vir die Wysigingswet op die Nasionale Kredietwet wat pres. Cyril Ramaphosa verlede week onderteken het.

Gerrie Fourie, uitvoerende hoof van Capitec Bank.

Dié wysigingswet maak voorsiening vir ’n proses van skuldingryping wat deur die Nasionale Kredietreguleerder bestuur gaan word.

Gerrie Fourie, uitvoerende hoof van Capitec, sê in ’n verklaring dié wet – waarna ook as die skuldingrypings- of die skuldverligtingswetsontwerp verwys word – word al langer as twee jaar bespreek. In dié tydperk het Capitec, soos ander banke, voorleggings aan die bedryfsliggaam, die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa), gedoen. Basa het ’n verenigde stem van die bedryf oor die wetsontwerp verteenwoordig, lui die verklaring.

In dié tydperk “het Capitec hiervoor beplan en ons blootstelling aan verbruikers bestuur wat minder as R7 500 per maand verdien”. Fourie sê hulle het volle vertroue dat hulle voldoende voorberei het.

Volgens Fourie is die huidige blootstelling van sy verbruikerskuldboek aan verbruikers wat minder as R7 500 per maand verdien, minder as 5%.

Verbruikers wat ’n bruto maandelikse inkomste van nie meer as R7 500 verdien nie en ongesekureerde skuld van minder as R50 000 het, kan ingevolge die wysigingswet vir skuldingryping by die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) aansoek doen.

Basa het Vrydag in ’n verklaring gesê banke is “uiters bekommerd” oor die wet en dat sy versoekskrif aan Ramaphosa oor sy teenkanting teen die wysigings op dowe ore geval het.

LEES OOK: Skuld uitgewis: Banke sê dié wet is slegte nuus

Daar word geraam dat daar einde Desember 2018 R60 miljard aan verbruikers geleen is wat potensieel afgeskryf sal kan word kragtens die wysigingswet.

Daarvan was R37 miljard op datum met terugbetalings en R23 miljard was reeds meer as drie maande agterstallig.

Die grootste bedrag – R23 miljard – was skuld aan kleinhandelaars; R21 miljard was persoonlike lenings by banke en R15,5 miljard was persoonlike lenings by nie-banke.

Investec Sekuriteite sê in ’n nuusbrief hy glo die impak op banke en kleinhandelaars gaan minimaal wees.

“Dit raak mense oor wie die NKR moet bevind dat hulle uiters diep in die skuld is. Dit gaan dus skuld wees wat reeds afgeskryf is of waarvoor daar reeds grootliks voorsiening gemaak is.”

Investec sê die tersaaklike kwessie hier is eerder watter invloed dié wysigingswet op langer termyn op verbruikersgedrag gaan hê as dat daar nie voldoende voorsiening gemaak is vir die skuld wat as gevolg hiervan afgeskryf gaan word nie.

Meer oor:  Gerrie Fourie  |  Bankbedryf  |  Kredietwet  |  Nasionale Kredietreguleerder  |  Krediet  |  Skuld  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.