Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Covid-19: 36% meer eise vir sterftes in 2020

Lewenseise het skerp met 36% gespring in 2020 - die eerste jaar van die Covid-19-pandemie - vergeleke met die vorige jaar, toon statistieke wat deur die Vereniging vir Spaar en Beleggings in Suid-Afrika (Asisa) uitgereik is.

R522 miljard se eise is in 2020 uitbetaal nadat mense dood is of ernstig siek geword het. Foto: Pixabay

Hennie de Villiers, adjunkvoorsitter van die direksiekomitee vir versekering, sê die lewensbedryf het meer as 434 000 lewenseise ontvang, wat ’n beduidende toename is vergeleke met die meer as 317 000 eise van die vorige jaar.

Meer as die helfte van dié eise is vir begrafnispolisse, naamlik 266 000, wat kleiner bedrae is wat uitbetaal word.

Die res is lewenspolisse, kredietlewensversekering en ander polisse wat lewensdekking verskaf.

Die totale eise en voordele wat die bedryf uitbetaal het, het R522 miljard beloop, sowat 6% of R31,7 miljard meer as die vorige jaar.

Dit sluit in spaarpolisse wat ook langtermynkontrakte is wat tussen die polishouer en lewensversekeraars aangegaan word. Die verskillende uitbetalings het ingesluit vir uittreeannuïteite en uitkeerpolisse, asook lewenseise en eise vir ongeskiktheid, kritieke siektes en inkomstebeskerming.

“ ’n Mens kan net dink as dit nie verlede jaar uitbetaal is nie, wat die impak op die finansiële welstand van verbruikers sou wees.

“Vir die meeste ontvangers sou die betalings die gevolg gewees het van ’n tragiese gebeurtenis soos die dood of ongeskiktheid, of weens aftrede. Die geld het finansiële bestendigheid aan verbruikers verskaf in ’n tyd van groot behoefte.”

Volgens hom moet die bedrag vergelyk word met die regering se totale begroting vir welsyn vanjaar van R335,2 miljard om die omvang daarvan te besef.

Minder polisse geskryf

Finansiële adviseurs is nie as ’n noodsaaklike diens beskou gedurende die eerste streng inperking verlede jaar nie en hul kontak met kliënte was beperk.

Dit het tot ’n wesenlike daling gelei in nuwe polisse wat geskryf is.

Volgens hom het die ekonomiese druk op verbruikers se bestedingsvermoë ook ’n bydrae gelewer.

Nuwe langtermynversekeringspolisse (polisse vir lewens, ongeskiktheid, kritieke siektes en inkomstebeskerming) het met 7% tot 8,9 miljoen gedaal.

Nuwe spaarpolisse wat ’n herhalende premie het (uitkeerpolisse en uittreeannuïteite) wat geskryf is, het met 29% geval tot 543 561.

Hy skryf dit toe aan finansiële adviseurs wat nie kon werk gedurende die eerste streng inperking nie, tesame met die swak ekonomiese toestande wat verbruikers se vermoë om te spaar beperk.

Nuwe enkelpremie-spaarpolisse het met 5% tot 166 609 gestyg.

Baie polisse verval

In 2020 was daar 10,2 miljoen lewenspolisse wat verval het, amper 16% meer as die vorige jaar se 8,8 miljoen polisse.

’n Polis verval wanneer die polishouer die betaling van premies vir ’n risikopolis met geen fondswaarde nie staak.

Hoewel die styging kommerwekkend is, was dit te wagte gegewe hoeveel mense hul inkomste gedurende die inperkings verloor het, volgens De Villiers.

Hy reken egter dis “verrassend” dat minder spaarpolisse afgekoop is as in die vorige jaar vir sowel herhalende as enkelpremies.

“Dit is verrassend, want daar is verwag dat meer mense hul polisse sou afkoop.”

’n Afkoping vind plaas wanneer die polishouer die betaling van premies staak en die fondswaarde voor die uitkeerdatum onttrek.

Hy glo dit hou daarmee verband dat die bedryf kliënte probeer help het wat finansiële probleme ondervind het.

Bystand is verleen aan amper 460 000 polishouers met ’n goeie reputasie by die versekeraar, maar wat nie hul maandelikse premies gedurende die eerste streng inperking kon bybring nie.

Dié verligting van R1 miljard het premievakansies van drie tot ses maande op spaarpolisse ingesluit.

Die minder nuwe sake wat geskryf is en die verval van polisse het veroorsaak dat die polisse wat van krag bly in die bedryf van 45,4 miljoen tot 43,2 miljoen gedaal het.

De Villiers sê polishouers wat finansieel in die knyp is en moontlik nie hul premies kan bekostig nie, moet hul finansiële adviseur of versekeraar dringend kontak om oor ’n moontlike oplossing te gesels.

Bedryf se welstand

Aan die einde van jaar het die bedryf R3 230 miljard in bates gehou, terwyl sy laste R2 890 miljard beloop het. ’n Gesonde kapitaalbuffer is van belang vir die langtermynversekeringsbedryf, want dit plaas hulle in die posisie om die langtermyn-beloftes wat aan polishouers gemaak is, gestand te doen.

Dit laat die bedryf met R333,5 miljard se onbeswaarde of vrye bates, wat meer as dubbel die kapitaalbuffer is wat volgens die verpligte solvensie-kapitaalvereistes nodig is.

“Die lewensversekeringsbedryf het in 2020 enige twyfel oor sy lewenskragtigheid nek omgedraai deur ’n veeleisende jaar af te handel met meer as dubbel die wetlik vereiste kapitaalbuffer in plek,” sê hy.

Die onbeswaarde bates het aan die einde van die vorige jaar R373,5 miljard beloop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.