Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Covid-19: Banke se hulp al meer as R11 mjd.

FNB en WesBank het sedert begin April meer as R4,3 miljard se verligting gebring aan mense en ondernemings wie se geldsake deur die Covid-19-verwante inperking geraak is.

Een van FNB se takke in Johannesburg. Foto: Getty Images

FNB, die land se tweede grootste bank volgens getal kliënte, is die derde bank wat bekend maak hoeveel hulp hy al tydens die inperking toegestaan het. Absa het verlede week gesê hy het R5,8 miljard se betalingsvakansies en ander hulp toegestaan en Standard Bank het al R1 miljard se hulp toegestaan.

Dit beteken reeds meer as R11 miljard se hulp is toegestaan aan mense wie se inkomste deur die pandemie geraak is.

FNB en WesBank sê in ’n verklaring byna 150 000 mense met meer as 500 000 kredietooreenkomste is al gehelp. Die hulp neem die vorm aan van betalingsvakansies op huis-, motor en ander lenings, asook die uitbetaling van kredietversekering waar mense hul inkomste verloor het.

Mense wat daarvoor aansoek doen en kwalifiseer, kry drie maande betalingsvakansies, wat daarop neerkom dat die bank drie maande se betalings namens hulle doen as ’n lening teen die prima rentekoers wat later met buigsame voorwaardes terugbetaal moet word, volgens Jacques Celliers, uitvoerende hoof van FNB.

Altesame 83 000 mense het verligting gekry met persoonlike lenings en 33 000 met huisverbande.

Volgens Chris de Kok, uitvoerende hoof van WesBank, beloop die verligting wat hulle op motorpaaiemente gebied het, al R951 miljoen. “Kwalifiserende verbruikers het óf ’n moratorium op betalings en ’n verlenging van die kontraktermyn gekry, óf – as hulle ook kliënte van FNB is – ’n betalingsvakansie deur die bank se Covid-19-aansoekproses. Albei opsies is vir ’n maksimum van drie maande beskikbaar.”

Mense wat aansoek wil doen om hulp met hul motorlening, kan aanlyn aansoek doen by www.wesbank.co.za.

FNB en WesBank sê die verligting is ingevolge bedryfsriglyne net beskikbaar vir mense wat einde Februarie op datum was met al hul skuldterugbetalings en wat weens Covid-19 nie hul verpligtinge kan nakom nie.

Hulle ondersoek saam met die bedryf en regering oplossings vir kliënte wat nie vir dié hulp kwalifiseer nie.

FNB is ook een van die banke wat deelneem aan die leningskema vir ondernemings wat deur die Reserwebank gerugsteun word.

Meer oor:  Wesbank  |  Fnb  |  Banke  |  Huisverband  |  Bankbedryf  |  Inperking  |  Covid-19  |  Lenings  |  Staat Van Inperking  |  Krediet  |  Koronavirus  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.