Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Covid-19: Moenie ophou begroot, spaar vir aftrede
k
Dit is nou die tyd om groot besluite oor beleggings te neem nie. Foto: Unsplash

As dit by hul geldsake kom, het die meeste Suid-Afrikaanse huishoudings reeds lank voor die aankoms van Covid-19 ’n “virus” onder lede gehad met verskriklike statistieke.

Die data-ontledingsfirma Eighty20 en die kredietburo XDS wys in hul jongste verslag oor kredietstres dat 17% van lenings nege maande of langer agterstallig is. Hoewel dit net 17% van alle lenings verteenwoordig, verteenwoordig dit meer as die helfte – 55% – van agterstallige rekenings.

Dis die syfers vir einde 2019 en stem ooreen met syfers oor verbruikerskuld wat die kredietburo TransUnion ook dié week uitgereik het.

Die staat van inperking wat vir die bekamping van Covid-19 afgekondig is, gaan huishoudings se finansiële kwesbaarheid net vererger, sê Johann van Tonder, ekonoom by Momentum wat veral navorsing oor finansiële welstand doen.

Hy sê egter daar is enkele dinge wat huishoudings en werkgewers kan probeer doen om die langtermynimpak van die inperking op hul geldsake te beperk.

Bates, skuld en welvaart

Die heel eerste impak van Covid-19 is op die waarde van mense se bates, en dít beleef mense met pensioenfondse en ander beleggings reeds eerstehands. Die JSE se indeks van alle aandele het vanjaar reeds met nagenoeg 21% geval.

Die vryval in die waarde van finansiële bates kom neer op R2 000 miljard wat verlore is, sê Van Tonder.

Hy waarsku egter: “Dis net papierverliese en sal teoreties bly indien huishoudings styf vashou en nie al hul beleggings verkoop nie.”

Van Tonder sê die afgelope paar dae het finansiële bates reeds R400 miljard herwin, oftewel 20% van die verlies, soos regerings maatreëls aangekondig het om die impak van die virus op die ekonomie te versag. “Soos die virus se verspreiding verlangsaam en dit in bedwang gebring word, sal die verliese geleidelik uitgewis word. Dit sal egter lank duur voordat dit terugbons.”

Inkomste, uitgawes en spaargeld

“Soos ondernemings toemaak, sal huishoudings sukkel om inkomste te verdien, te bestee en te spaar. Die volle impak hiervan moet nog deur die ekonomie werk en sal eers waarlik binne die volgende drie tot ses maande ervaar word.”

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za, bereken meer as 1,6 miljoen poste kan in die formele sektor verlore gaan weens die Covid-19-pandemie. Nog sowat 1,5 miljoen mense in die informele sektor en huiswerkers kan hul werk verloor.

Van Tonder sê regerings se belasting- en ander maatreëls wat ondernemings en werknemers ondersteun, kan die impak versag.

Sy voorstel is dat werkgewers dit ernstig oorweeg om die aftreeouderdom van werknemers met minstens ’n jaar aan te skuif – dus van 60 tot 61 of van 65 tot 66 jaar.

“Dit sal baie huishoudings die kans gee wat hulle nodig het om te herstel van die markineenstorting se impak op hul aftreebeleggings.”

Opvoeding

Die sluiting van skole en universiteite laat groot vrae ontstaan hoe leerlinge en studente hul akademiese jaar gaan voltooi. “Huishoudings wat op ’n gradeplegtigheid staatmaak om hul finansiële sekuriteit te vestig, sal nog ’n rukkie langer moet wag.”

Persoonlike bemagtiging

Van Tonder beskou persoonlike bemagtiging as die “ongelukkigste slagoffer van die pandemie”. Huishoudings sonder behoorlike toegang tot inligting weet nie hoe hulle hulself veilig kan hou nie. “Dis ware ontmagtiging.”

Van Tonder sê die situasie word vererger deur fopnuus, wat slim verpak en wyd versprei word.

Fopnuus – en die feit dat geloofwaardige nuusbronne dan juis nie geglo word nie – lei tot swak finansiële keuses.

Advies vir verbruikers

Van Tonder sê dis belangrik dat huishoudings besef hulle kan nie finansiële sekerheid behaal sonder dat hulle doelwitte stel nie. Daarby moet hulle seker maak elke klein besluit wat hulle oor hul geldsake neem, bring hulle nader aan hul langtermyndoelwitte.

Dit beteken hulle moet aanhou bydra tot hul pensioenfonds, hul skuld afbetaal en ’n begroting opstel.

As hul geldsake erg agteruitgaan, moet hulle dadelik met hul bank, versekeraar en ander diensverskaffers onderhandel. Banke en versekeraars het reeds aangekondig hulle sal mense wat in nood kom weens die inperking, bystaan of premies verlig.

Hy raai mense aan om ’n finansiële beplanner se raad in te win om langtermyndoelwitte te hersien in die lig van die huidige omstandighede.

Meer oor:  Momentum  |  Johann Van Tonder  |  Mike Schüss­Ler  |  Covid-19  |  Begroting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.