Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Covid-19 se invloed op geldsake kan tot 3 j. duur

“Hoekom moet ek spaar – ek gaan ieder geval binnekort aan Covid-19 dood?”

Dit was een van die twee uiteenlopende reaksies van sommige verbruikers met betrekking tot hul geldsake tydens die hoogtepunt van die pandemie, in die tweede kwartaal.

Laer inkomste het verbruikers se vermoë om hul skuld en rekeninge te betaal, uiteraard geknou. Foto: Getty Images

Die meeste mense wil egter juis méér spaar weens die onsekerheid wat die toekoms inhou.

Baie Suid-Afrikaners het in die tweede kwartaal – toe derduisende mense nie kon werk nie – kwalik kop bo water gehou met hul geldsake.

Momentum en Unisa se indeks van verbruikers se finansiële kwesbaarheid is nou op die laagste vlak in die elf jaar wat dit gemeet word. Dit het tussen die eerste en tweede kwartaal met 11,8 punte tot 35,4 punte gedaal, wat ook die grootste kwartaaldaling is sedert die indeks in die tweede kwartaal van 2009 begin is.

Die indeks meet vier aspekte van verbruikers se geldsake: hul inkomste, uitgawes, vermoë om te spaar en vermoë om skuld af te betaal. Al vier dié aspekte het hul laagste vlak tot nog toe bereik en word as “baie kwesbaar” beskou. Die grootste daling, van 13,1 punte tot 34,6 punte, was vir inkomste.

Die samestellers van die verslag, Jacolize Meiring en prof. Carel van Aardt van die Buro vir Marknavorsing aan Unisa en Johann van Tonder, ekonoom van Momentum, sê die haglike toestand van verbruikers se geldsake is ’n regstreekse gevolg van die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperking.

Maar Suid-Afrikaners se finansiële veerkragtigheid was ieder geval aan die taan. Dit was die derde kwartaallikse daling sedert die 50,46 punte in die derde kwartaal van 2019.

Nog ’n terneerdrukkende bevinding is hoe lank verbruikers gaan neem om van die krisis gaan herstel. Onder kenners uit die finansiëledienstebedryf glo 76,8% dit gaan minstens 18 maande duur; 27,5% reken selfs dit gaan langer as drie jaar duur. Net 10,1% reken hulle sal binne ses maande herstel.

Die samestellers van die indeks is bekommerd oor die feit dat baie mense meer oor hul geldsake bekommerd is as om hulself teen die siekte te beskerm. Hulle waarsku ook dat finansiële kwesbaarheid gepaard kan gaan met ’n styging in misdaad en dwelm- of drankmisbruik.

Kenners in die finansiëledienstebedryf het ook as volg geantwoord:

  • 50,7% glo dat werkloosheid gaan toeneem.
  • 40,6% verwag skerper prysstygings.
  • 66,7% glo verbruikers moet nou meer probeer spaar.
geldsake

Meer oor:  Unisa  |  Momentum  |  Spaar  |  Inkomste  |  Geldsake  |  Skuld  |  Verbruikers  |  Verbruikersbesteding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.