Voorlopige belastingbetalers se sperdatum vir die indiening van hul opgawes is weens die menslike tragedie van die Covid-19-pandemie tot 15 Februarie uitgestel.

15 Februarie is die nuwe sperdatum vir die indiening van voorlopige belastingbetalers se opgawe. Foto: Unsplash
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het Donderdag aangekondig dat die sperdatum, wat Vrydag sou wees, verleng word.
Dit is uit kommer oor die “ongeëwenaarde gesondheidsuitdagings van Covid-19, en die gepaardgaande verlies aan lewens en lewensbestaan.”
Die SAID het terselfdertyd sy meegevoel uitgespreek met mense wat geliefdes verloor het, en het diegene wat nog siek is, beterskap toegewens.
Belastingbetalers word aangemoedig om eFiling of die Sars MobiApp te gebruik om hul opgawes in te dien.
Edward Kieswetter, kommissaris, het alle belastingbetalers wat verlede jaar outomatiese assesserings ontvang het maar nog nie aanvaar het nie, aangemoedig om die proses te voltooi. Belastingbetalers wat dit nie wou aanvaar nie, kon dit redigeer en ’n opgawe indien.