Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Dié gids help jou finansieel fiks wees in 2019

Dis amper tyd vir Nuwejaarsvoornemens en dan kort daarna weer teen middel Januarie tyd om die pad byster te raak en iemand anders te kry om namens jou die gimnasiumkaart te gaan swiep. Maar een voorneme behoort heeljaar boaan jou lys te bly: beter finansiële sekerheid en beplanning.

  

debt collection and tax season concept with deadli
31 Desember is ’n goeie dag vir Nuwejaarsvoornemens - maar moenie jou geldsake vergeet nie! Foto: iStock

Ons gids help jou om te prioritiseer. Sien ook die grafika hieronder.  

Dit sal jou help om ’n balans te vind tussen jou onmiddellike behoeftes en toekomstige noodsaaklikhede, met die oog op finansiële onafhanklikheid. Danksy ’n paar waardevolle wenke van kenners in die bank- en batebestuursbedryf kan jy begin bespaar voordat die rekeninge in Januarie begin ophoop.

1. Maak ’n lys van jou prioriteite

Goeie finansiële beplanning berus op ’n begroting. Hoe meer gedetailleerd dié begroting is, hoe groter is jou kans om vermorsende bestedingspatrone uit te ken, soos daardie daaglikse R28-cappuccino wat oor ’n maand sou kon betaal vir veselinternet vir die hele huis.

Sulke klein geleenthede vir meer doeltreffende besteding word slegs duidelik in gedetailleerde begrotings, sê Daryl Coker, ’n vennoot by Citadel Wealth Management.

’n Begroting is ’n belangrike oefening om die vet uit jou finansies te sny.
Daryl Coker van Citadel

“Baie mense gaan in Januarie op ’n dieet omdat hulle op vakansie ’n bietjie te veel gewig opgetel het. Net so is ’n begroting ’n belangrike oefening om die vet uit jou finansies te sny,” sê Coker.

Maar die begroting is net die eerste stap. Finansiële beplanning moet reg geprioritiseer word in ’n streng hiërargie. In die meegaande grafika wys ons die doeltreffendste struktuur vir so ’n hiërargie om jou besteding te optimaliseer. Dit is uit verskeie bronne saamgestel.

Elke volgende stap in die vloeidiagram verwerf slegs ’n plek in jou beplande maandelikse besteding as die vorige een reeds gedek is.

2. Dink anders oor al jou besteding

Daar is verskeie maniere om doeltreffender te wees ten opsigte van die vele subskripsies wat deel vorm van moderne begrotings.

Veral internetpakkette is dikwels uitgedien ná selfs net twee jaar. Jy kan groot besparings behaal deur te skuif na ’n nuwe pakket wat mededingender is vanweë die voortdurende daling van datakoste.

Met stygende brandstofpryse kan apps soos Waze jou help brandstof bespaar deur verkeersknope te vermy en meer optimale roetes te gebruik. Die konstante stop-en-ry in verkeersknope lei volgens navorsing deur die Europese Unie (EU) daartoe dat bykans 57% meer brandstof verbruik word as wanneer die verkeer vloei.

3. Verander jou gewoontes

Dis makliker gesê as gedaan om minder koffie by die werk te koop, maar subtiele aansporings kan jou wel help om jou gedrag te verander.

As jy ’n problematiese uitgawe in jou begroting geïdentifiseer het, soos herhaalde aankope van peuselhappies by die werk, bereken hoeveel dit jou per maand kos. Selfs R30 per dag kan eerder as ’n noemenswaardige belegging van bykans R900 per maand op die JSE ingespan word.

As jy sukkel om jou gedrag te verander, onderneem om elke dag dieselfde bedrag wat jy hieraan bestee, weg te sit in ’n koevert of ’n spaarrekening. Ná ’n maand sal die dubbele besteding aan hierdie nienoodsaaklike aankope ’n demper plaas op jou gretigheid om dit vol te hou, en die potensiële beloning van ’n gedragsverandering in die koevert, sal jou motiveer om aan te hou spaar.

4. Maak seker jy is reg verseker

Evalueer voortdurend jou versekering.

Motorversekering se voordele verander net soos dié van die waarde van die bate wat verseker word. Coker sê jy moet jou versekering jaarliks vergelyk met dié van nuwe aanbiedinge op die mark.

As jou voertuig vir R100 000 verseker is en dit is net R80 000 werd, sal die bykomende R20 000 nie aan jou uitbetaal word nie, al betaal jy die hoër premies.
Daryl Coker van Citadel

“Jy moenie onderverseker wees nie, maar dis net so belangrik om nie oorverseker te wees nie. As jou voertuig vir R100 000 verseker is en dit is net R80 000 werd, sal die bykomende R20 000 nie aan jou uitbetaal word nie, al betaal jy die hoër premies.”

Jy moet ook jou opsies vir inkomstebeskerming deeglik oorweeg. Jou grootste bate is nie jou huis of jou aftreespaargeld nie, maar jou toekomstige verdienste. As jy weens die stand van die ekonomie jou werk verloor of ongeskik raak vir werk weens byvoorbeeld ’n ongeluk, kan jy sonder dié beskerming jou grootste bate in ’n oogwink verloor.

5. Hou jou kant skoon

Jou kredietrekord bepaal deesdae meer as net wat jy op skuld sal kan aanskaf. Werkgewers gebruik dit toenemend om potensiële werknemers se verantwoordelikheid en integriteit te evalueer, sê Mellony Ramalho van African Bank se verkope-afdeling.

Betaal dus jou skuldpaaiemente en rekeninge betyds.

Jy kan een keer per jaar jou kredietrekord gratis nagaan deur van die volgende dienste gebruik te maak:

   

6. Werk vir jouself, nie vir Jan Taks

Benewens jou krediet moet jy vir Jan Taks voorsiening maak. ’n Geregistreerde belastingpraktisyn sal verseker dat jy vrystellings en kortings ten volle benut.

Bykomende uittreeannuïteite (UA) bied belastingvoordele. Jy kry ’n belastingaftrekking vir bydraes tot ’n UA – binne sekere perke – en ongebruikte aftrekkings kan oorgedra word na toekomstige jare of selfs aangewend word om die belastingvrye bedrag by uittrede te verhoog.

Benut ook die belastingvrye spaarrekening om jou aftreespaargeld aan te vul. Jy kan tot R500 000 oor jou leeftyd in so ’n rekening spaar sonder dat jy enige belasting op die opbrengs hoef te betaal. Dit is ’n uitstekende manier om te spaar terwyl jy jou portefeulje vloeibaar en gediversifiseerd hou.

finansiële beplanning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2579,48 (5818)
  • Top 40 48247,95 (-18709)
  • All Share 53995,82 (-19210)
  • Resource 10 42465,54 (-4274)
  • Financial and Industrial 30 73008,97 (-35550)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.