Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Dié premies op motors se versekering word verlaag

Verskeie motorversekeraars gaan tydens die staat van inperking hul premies verlaag.

BMW X5 xDrive30d
Verskeie versekeraars het aangekondig dat hulle premies vir motorversekering gaan verlaag tydens die staat van inperking.

Hulle sê die risiko is beduidend laer aangesien daar nou so min voertuie op die paaie is.

Tydens die staat van inperking wat tot 16 April duur, mag mense net winkel toe ry om noodsaaklike items te koop.

MiWay sê Dinsdag in ’n verklaring hy gaan R25 miljoen se verlagings aan premies aan sy kliënte gee in April.

“As kliënte van die huis af werk, ry hulle minder. Dit verminder die risiko dat hulle in ’n ongeluk kan wees,” sê René Otto, uitvoerende hoof van MiWay.

“By MiWay glo ons ’n premieverlaging is die regte ding om te doen, gegewe die vermindering in risiko.”

Dit kom neer op gemiddeld ’n 10%-verlaging in premies.

Kliënte se debietorders sal outomaties gewysig word, sê MiWay.

Naked Insurance gaan ook sy premies verlaag, maar dié klein versekeraar sê sy diskonto is heelwat groter.

Naked Insurance raai verbruikers aan om ’n “dekkingspouse” te benut tydens die staat van inperking wat tot ’n 90%-verlaging in premies kan lei. Dit beteken dat jou ongeluksdekking opgeskort word, maar dat die dekking vir rampe, brande en diefstal van krag bly.

Hierdie instelling kan op die Naked Insurance-app gevind word, en word gewoonlik gebruik wanneer kliënte byvoorbeeld met vakansie gaan en nie gaan ry nie. Onder gewone omstandighede lei dit tot ’n besparing van 50% op ’n maandelikse premie.

Maar Naked Insurance sê hy reken nou in dat motors nie op vreemde plekke geparkeer gaan wees nie, en dat die eienaar naby aan die motor is by die huis.

Dus kan hy toelaat dat premies met só ’n pouse van ongeluksversekering slegs 10% van hul gewone premie betaal.

OUTsurance het ook Dinsdag besparings aangekondig.

Sy premies gaan nie daal nie, maar bybetalings gaan beduidend verlaag word en terugbetalings gaan vinniger geskied.

Sakekliënte sal 50% afslag op enige bybetalings tussen April en Junie kry, en persoonlike versekering se bybetalings daal met 30%.

OUTsurance sê wel dat kliënte hul omvattende dekking kan wysig tydens die staat van inperking in ruil vir laer premies indien hulle seker is hulle gaan glad nie hul motors gebruik nie.

Dié verlaging in premies sal egter afhang van elke kliënt se behoeftes.

Volgens Otto is dit versekeraars se “korporatiewe en burgerlike plig” om te doen wat hulle kan om saam die rampspoedige gevolge van die Covid-19-pandemie te hanteer.

Santam het Woensdagmiddag aangekondig dat hy ook ondersteuning aan sy kliënte gaan bied.

Die versekeraar gaan nie kliënte se premies met ’n vaste persentasie verlaag nie, maar hy beoog om verligting van sowat R135 miljoen toe te staan.

“Voorkeur sal gegee word aan lojale kliënte wat ’n deeglike geskiedenis van premiebetalings het, maar onder finansiële druk verkeer weens die Covid-19-uitbreking,” sê die versekeraar.

Kliënte wat in aanmerking kom vir besparings, sal gekontak word en hulle volle dekking sal steeds in plek bly nadat afslag toegestaan is.

  • Hierdie berig is bygewerk om Santam se aankondiging in te sluit.

Meer oor:  Naked Insurance  |  Outsurance  |  Miway  |  Koronavirus  |  Premies  |  Covid-19  |  Versekering  |  Motorversekering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.