Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Dink dieper oor dié 4 ‘wyshede’ oor geld

In die wêreld van finansiële beplanning is daar heelwat “wyshede” wat gereeld gespreek word wat dalk nie heeltemal so wys, waar of eenvoudig is nie. Ek bespreek vandag graag vier van hierdie sogenaamde wys­hede.

  

‘Wysheid’ 1

  

Andró Griessel

Geen belegging kom by uittree-annuïteite (UA’e) nie omdat die belastinggaarder jou “help spaar” teen jou marginale belastingkoers.   

Dié stelling is slegs waar as die persoon wat die bydrae tot die annuïteit maak die belastingkrediet wat hy/sy ontvang, herbelê in die belegging.

In die praktyk doen bitter min mense dit egter.

Die belastingkrediet verdwyn eenvoudig iewers tussen die krake. Omdat UA’e se vryheid van batetoewysing beperk word deur regulasie 28 van die Pensioenfondswet, is die gemiddelde groei per jaar wat jy op hierdie belegging kan kry, waarskynlik 1 persentasiepunt tot 2 persentasiepunte per jaar laer as wat jy kan kry mits jy met dieselfde dissipline 100% sou toedeel aan slegs aandele en eiendom (plaaslike en buitelands).

As jy dus nie die belastingkrediet tot die belegging toevoeg nie, eindig jy eenvoudig met ’n laer waarde by aftrede in plaas van ’n hoër waarde.

Om olie op die vuur te gooi, is die inkomste uit hierdie belegging ook nog belasbaar (nadat jy jou eenmalige belastingvrye gedeelte geneem het).

Om die waarde van die belastingkrediet vir jou te laat werk, móét jy die krediet wat jy van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) kry, herbelê.

Die doeltreffendste manier om dit te doen is om te bereken wat jy maandeliks kan bekostig om by te dra, jou salarisafdeling opdrag te gee om reeds die belastingkrediet toe te staan en dan jou paaiement te verhoog sodat die nabelaste bedrag gelyk is aan wat jou begroting toelaat.

So byvoorbeeld sal iemand wat R5 000 per maand kan bekostig (ons aanvaar die persoon het ’n marginale belastingkoers van 41%) elke maand R8 475 kan bydra.

  

‘Wysheid’ 2

  

“Jy moet volhou met jou lewensversekering ná aftrede, want jy kan nie al die premies wat jy oor jare betaal het in die water gooi nie.”

Dink nugter oor wat die doel van lewensversekering is. Behalwe vir skulddelging of boedelkoste is die eintlike behoefte aan lewensversekering om die versekerde lewe se inkomste te vervang. Derhalwe verval daardie behoefte as die persoon nie meer ’n inkomste uit werk gaan verdien nie.

As jy jou lewenspremies ná aftrede in stand probeer hou, kan jy jou aftrede saboteer.

As jy jou lewenspremies ná aftrede in stand probeer hou, kan jy jou aftrede saboteer. Volharding met lewensversekering ná aftrede (of in gevalle waar jy ’n passiewe inkomste verdien) maak slegs sin in die volgende scenario’s:

  • Waar ’n berekening toon daar is ’n groot waarskynlikheid dat die opbrengs op premies vir lewensversekering hoër kan wees as alternatiewe beleggings. Dit is selde die geval.
  • Waar jy met absolute sekerheid kan sê dat die premies volgehou sal kan word, al word die versekerde baie oud, want indien jy hierdie roete kies en dit later nie meer kan volhou nie, is die vermorsing soveel groter.
  • Indien daar koste of lenings is wat likiditeitsprobleme in die boedel gaan veroorsaak.

Indien jy die roete kies om versekering te behou, maak vernaam seker oor die premie­patroon, met ander woorde hoe vinnig die premie in verhouding met die dekking styg, want hierdie premies kan jou finansieel op jou knieë dwing.

  

‘Wysheid’  3

 

Jou huis is jou grootste bate.    

’n Blink idee vir een is nie noodwendig ’n blink idee vir almal nie. Foto: iStock

Ja en nee. As jy nie versigtig is nie, kan ’n huis die grootste meulsteen om jou nek raak.

Jy hoor dikwels die advies dat mense die duurste huis moet koop wat hulle kan bekostig omdat as hulle tans die premie kan bekostig, hulle dit ook in die toekoms waarskynlik sal kan bekostig terwyl jy van dag een af groei op die waarde van die huis kry.

Die dilemma hiermee is dat die huis waarin jy bly amper sonder uitsondering die res van jou bestedingspatrone beïnvloed. Saam met ’n spoggerige huis kom spoggerige meubels, spoggerige vakansies en spoggerige motors en uiteindelik ’n spoggerige aftree-oord waar jy geen kleingeld oorhou as jy jou huis verkoop het nie.

Laat ek dit so stel, ek het nog nie gesien dat iemand se “grootste bate” by aftrede ’n wesenlike verskil maak aan leefstyl of volhoubaarheid van kapitaal nie.

Mense is eenvoudig nie bereid om in so ’n groot mate in te kort dat hulle ’n R6 miljoen-huis op Stellenbosch vir ’n R1 miljoen-aftreehuisie op Putsonderwater verruil en lank en gelukkig op die oorblywende R5 miljoen leef nie.

Ons verwys in beplanning na jou huis as ’n “leefstyl”-bate en neem dit nie in ag in kliënte se aftree-beplanning nie omdat jy altyd ’n dak oor jou kop gaan nodig hê. Dit sal jou baat om dieselfde beskouing te hê.

Terloops . . . jy doen waarskynlik nié jou kinders ’n guns wanneer jy hulle help om ’n duurder huis te koop as wat hul eie salarisse toelaat nie, maar meer hieroor op ’n ander dag.

  

‘Wysheid’ 4

  

Ek is lid van my werk se pensioenfonds so ek behoort oukei te wees.     

Daar is ’n paar probleme met die gerustheid wat pensioenvoordele met risiko-dekking by die werk skep.

  • Hoewel die meeste maatskappye se verpligte bydraes tot die aftreefonds redelik hoog is, moet lede onthou dat hierdie opgehoopte kapitaal by aftrede nie baie belastingvriendelik uitbetaal nie. Die inkomste is 100% belasbaar (omdat die bydraes belastingaftrekbaar was), wat veroorsaak dat jy heelwat meer in die pot nodig het as iemand wat byvoorbeeld sy aftreevoorsiening uit nabelaste geld gespaar het.
  • Risiko-voordele (dood- en enkelbedrag-ongeskiktheidsdekking) as ’n faktor van jaarlikse vergoeding is normaalweg heeltemal ontoereikend.
  • Fondse se doodsdekking is dikwels “goedgekeurde” dekking in plaas van “niegoedgekeurde” dekking. Eersgenoemde word belas op aftree-skale voordat dit by dood uitbetaal aan jou begunstigdes, wat beteken die werklike dekking is dikwels heelwat minder as wat jy dink. Maak seker by jou personeelafdeling of jou lewensversekering belasbaar is al dan nie en maak seker jou finansiële adviseur dui die regte waardes in jou beplanning aan.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@proverte.co.za. Hy skryf gereeld vir Sake.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1108,65 (2792)
  • Top 40 45929,03 (12363)
  • All Share 52146,04 (14659)
  • Resource 10 39470,3 (2238)
  • Financial and Industrial 30 69022,22 (28521)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.