Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Dís hoekom Ters-aansoeke vir Julie nog nie oop is
Die WVF aanvaar nog nie eise vir Julie en Augustus vir die Covid-19-Ters-voordeel nie. Foto: Unsplash

Hoewel die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se Covid-19-Ters-voordeel verleng is, kan daar nog nie om Julie en ’n gedeelte van Augustus se voordele aansoek gedoen word nie omdat ministeriële riglyne oor die verlenging nog nie in die Staatskoerant gepubliseer is nie.

“Sodra dit gepubliseer is, sal aangekondig word wanneer die WVF die eise vir Julie en (’n gedeelte van) Augustus sal begin verwerk,” het die WVF by navraag aan Netwerk24 gesê.

Boitumelo Moloi, adjunkminister van arbeid, het reeds op 21 Julie aangekondig die Ters-voordeel word tot 15 Augustus verleng aangesien die ramptoestand tot dan verleng is. Daar kan egter steeds nie hiervoor aansoek gedoen word nie.

Dr. Michael Cardo, DA-LP, het Dinsdag in ’n verklaring gesê Thulas Nxesi, minister van arbeid, moet dringend aandui wanneer aansoek hiervoor gedoen sal kan word.

Hy het daarop gewys dat die aansoeke vir Mei en Junie ook laat geopen het. Die DA is ook bekommerd dat nie alle betalings vir April en Mei al gedoen is nie en dat dit lyk asof betalings vir Junie ook nou al hoe stadiger gedoen word.

Die WVF wou nie op die DA se verklaring kommentaar lewer nie.

Luidens die syfers van die werkgewersorganisasie Neasa het 42% van werkgewers nog nie uitbetalings vir Junie ontvang nie. Van die 58% wat wel vir dié maand betalings ontvang het, is 70% se eise ten volle betaal.

Neasa doen daagliks ’n peiling om te bepaal hoeveel werkgewers wat aansoek gedoen het al uitbetalings ontvang het en sy statistieke wys dat daar steeds groot agterstande is.

Van die werkgewers wat voordele geëis het vir April, het 14% teen 23 Julie nog geen uitbetaling van die WVF ontvang nie. Van die 86% wat wel vir dié maand betalings ontvang het, is net 66% se eise ten volle betaal.

Vir Mei het 23% van werkgewers nog geen betaling ontvang nie. Van die 77% wat wel vir dié maand betalings ontvang het, is net 64% se eise ten volle betaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.