Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Dis Spaarmaand: Ons weet, jy wil nie weet nie

Julie is Spaarmaand, ’n instelling van die Suid-Afrikaanse Spaarinstituut waardeur die belangrikheid van spaar deur finansiële instellings beklemtoon word. Dis vanjaar die tweede Spaarmaand wat midde-in ’n betreklik streng inperking vir die Covid-19-pandemie val.

Spaar is dalk die laaste ding waaraan die meeste van ons nou dink. Baie van ons trotseer op die oomblik die impak van die pandemie op ons emosies, ons sosiale lewe, ons werklewe en ja, ook ons geldsake, en ons probeer net van dag tot dag oorleef.

Maar dis tog interessant om ’n oomblik introspeksie te doen aan die begin van Spaarmaand. Vra jouself byvoorbeeld af:

  • Hoe het my besteding tydens die pandemie verander?
  • Watter finansiële lesse het ek geleer?
  • En dalk ook: Watter lesse het ek gekiés om te leer?

Laasgenoemde vraag is dalk verwarrend. Maar het jy al opgelet hoe verskillend mense op dieselfde gebeurtenis reageer?

hanlie
Hanlie Stadler

Vat maar beurtkrag. Party mense raak die josie in as hulle hoor daar is weer beurtkrag, ander trek net die skouers op en maak ’n plan, nog ander maak of deel grappies op Facebook. Dieselfde gebeurtenis; uiteenlopende reaksies.

Die pandemie en gepaardgaande inperkings het baie mense op soortgelyke maniere geraak, maar hulle het heeltemal uiteenlopend daarop gereageer – emosioneel en intellektueel (dink aan al die samesweringsteorieë!), en – wat hier ter sake is – finansieel.

Natuurlik het die inperking verreikende gevolge gehad vir mense wat werk by ondernemings wat moes sluit. Die verlies aan werk was enorm. Dit het mense wat hierdeur geraak is, voor moeilike keuses te staan gebring.

Werk van die huis af het baie van ons help bespaar aan brandstof; mense het minder met vakansie gegaan; baie vroue dra minder gereeld grimering; mense koop minder klere of minder formele (en dus dikwels goedkoper) klere.

Ons bestee minder aan uiteet en dalk ook minder aan drank (hoewel baie mense juis méér drank koop wanneer drankwinkels oop is uit paniek vir die volgende verbod op drankverkope).

Aan die ander kant bestee baie mense meer aan hul wonings, meer aan kitskos en meer aan tuisvermaak.

Is daar nou wel meer geld oor om te spaar of het die besparings aan die een kant net besteding aan ’n ander kant geword? En het ons enigsins somme gemaak oor die veranderinge en bereken waar ons blywend kan spaar?

Deel jou spaarlesse

Het jy belangrike insigte oor jou geldsake tydens die pandemie gekry? Het jy spaarwenke wat jy wil deel? Lewer hieronder kommentaar of stuur tydens Spaarmaand ’n e-pos na hanlie.stadler@24.com.

Die pandemie moes eintlik vir almal tuisgebring het hoe belangrik dit is om vir onvoorsiene gebeure te spaar – die pandemie en sy inperkings was inderdaad heeltemal onvoorspelbaar. ’n Noodfonds sou iets wees waarop jy kon terugval as jy afgelê is of jou onderneming gedwing is om sy deure te sluit. Dis iets wat sou keer dat jy jou pensioenfondsgeld moes gebruik, eiendom moes verkoop of skuld moes aangaan.

Baie mense het op die harde manier geleer: As jy nie in betreklik goeie tye binne jou vermoë leef én spaar nie, gaan jy in slegte tye baie drastiese en moeilike besluite moet neem, sonder dat jy die luukse van baie keuses het.

Nog ’n les van die pandemie was hoe naby baie van ons aan die afgrond leef, basies van salaristjek tot salaristjek.

Baie huishoudings in die middelklas en selfs welvarende huishoudings, huishoudings waar daar dalk twee stewige salarisse invloei, voel finansieel onder druk. Daar is immers skaars geld oor aan die einde van die maand nadat die huis- en motorpaaiemente, skool- en klasgeld, rekeninge en kos betaal is.

’n Ingesteldheid van lekker leef, van koop wat jy begeer, ongeag of dit op skuld is, kenmerk baie eintlik gegoede mense se benadering tot hul geldsake.

Mense is dalk deur die pandemie juis gedwing om selfondersoek met hul geldsake te doen, om te bepaal of hul “noodsaaklike” besteding nie luukses verdoesel nie. Soos die nuwe tweejaarkontrak vir ’n duur slimfoon, onbeperkte veselinternet, lidmaatskap van gimnasiums en sportklubs, en televisie- en stromingsdienste, om nie te praat van die gereelde braai met biefstuk en skaaptjops, en genoeg bier en brandewyn nie.

’n Ingesteldheid van lekker leef, van koop wat jy begeer, ongeag of dit op skuld is, kenmerk baie eintlik gegoede mense se benadering tot hul geldsake.

Glimlag of frons jou spaarvarkie in 2021? Foto: iStock

Dit sou interessant wees as ’n mens ’n studie kon doen en werklik eerlike antwoorde kon kry oor hoeveel mense gedwing is om te besnoei, maar hul versekeringsdekking of spaarplanne verminder het eerder as hul besteding aan kos, drank en vermaak.

Dis soms net makliker om rooi te sien oor die enkele bedrag op jou bankstaat wat die versekeringspremie verteenwoordig, eerder as om al die kleiner bedrae aan kruideniersware en kitskos op te tel en te besef jou gesin bestee oordadig aan kos.

Ontkenning is ’n groot faktor wat mense se benadering tot geldsake kenmerk. Hulle begroot nie omdat hulle dan sal weet presies in watter mate hulle op skuld leef; hulle dink so min as moontlik aan die dag van aftrede, want eintlik weet hulle hulle het te min daarvoor gespaar; hulle stel moeilike besluite uit, want dinge sal mos uitwerk, of hoe? Totdat dinge natuurlik nié uitwerk nie.

Oor die loop van Spaarmaand gaan Netwerk24 elke weekdag artikels met spaarwenke publiseer. Old Mutual reik ook middel Julie sy jaarlikse Spaar- en Beleggingsmonitor uit, wat insigte gaan gee in hoe en waar Suid-Afrikaners bespaar en belê, hoe hul skuldvlakke lyk en watter uitgawes hulle prioritiseer.

Die reaksie wat dikwels op spaarwenke volg, is “ja, maar”. Mense sal sê: “Ja, ek kan R30 spaar deur ’n cappuccino minder per week te koop, maar dit sal nie eens ’n duik in my huislening maak nie.”

Of: “Ja, seker, ek kan nou my rieme dunner sny, maar wie sê ek gaan aftreeouderdom bereik of gesond wees wanneer ek aftree? Ek wil die lewe nóú geniet, terwyl ek kan.”

Laasgenoemde is dalk ook ’n “les” wat Covid-19 sommige mense geleer het – leef (en bestee) asof daar geen môre is nie. Die probleem is, vir die meeste van ons is daar wél ’n môre, en hy word gebou op die besluite wat jy vandag neem.

Spaar – om minder uit te gee as wat inkom – is ’n ingesteldheid, ’n keuse, vir die meeste van ons. Ons moet egter ons huidige leefstyl afskaal om dit te kan bereik.

Dalk moet ons teruggaan na die lesse van die eerste, ergste vlak van inperking, toe ons heeldag tuis moes bly, self moes kosmaak, en net op ons gesin aangewese was vir geselskap en vermaak. Ons het tog genot daaruit geput, of hoe – en die meeste daarvan verniet?

Onlangs lees ek ’n aanhaling oor luuksheid. Die trant is dít: Voor Covid-19 het ons luukses gesien as duur, eksklusiewe en skaars dinge. Nou besef ons luukses is om gesond te wees, om mekaar ’n drukkie te kan gee, om met jou hele familie en vriendekring te kan kuier, om vir mekaar te kan glimlag (wat maskers nou onmoontlik maak), om te lééf en om lief te hê.

Wat ons mis, is nie restaurantetes, vakansies of nuwe klere nie. Ons mis dinge wat geld nie kan koop nie. So daar is geen verskoning om nie te spaar nie.

Mense kies hul reaksie op ’n stel gebeure – en hulle kies dikwels watter lesse hulle wil leer. Het jy wys gekies?

  • Hanlie Stadler is Netwerk24 se sakeredakteur. Dié artikel is ’n rubriek en verteenwoordig haar eie mening.
Meer oor:  Spaarwenke  |  Spaar  |  Spaarmaand  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.