Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Dood aan asemnood: Só laat Covid-19 eise styg

Die impak van die Covid-19-pandemie kan duidelik gesien word in die eise wat die lewensversekeraar Old Mutual in 2020 ontvang het.

Ter illustrasie

Dit sluit in die baie skerp styging van 60% in doodseise in verband met asemhalingsprobleme, en eise vir afleggings wat met 30% gestyg het.

In geheel het Old Mutual verlede jaar R14 miljard se lewensversekeringseise uitbetaal – ’n skerp styging van 24% vergeleke met die vorige jaar.

Volgens John Kotze, hoof van Old Mutual se versekeringsprodukte vir individue, kan verskeie tendense wat met Covid-19 verband hou, in die syfers gesien word.

Die bedrag wat uitbetaal is, sluit in vir onderskrewe eise, vir groeppolisse en ongeskrewe polisse (meestal begrafnispolisse).

Die groep sê ten spyte van die uitdagende en voortdurend veranderende omgewing, is 98% van alle onderskrewe eise uitbetaal. Dit is vir polisse waarvan die premies op grond van die risiko van ’n persoon bepaal is.

Old Mutual het vandeesweek meer besonderhede gegee oor die onderskrewe eise wat ontvang is.

Doodseise styg skerp

Dié eise het ook skerp met 22% tot R6,48 miljard gestyg. Dit is ’n wesenlike styging vergeleke met die gemiddelde syfer die afgelope drie jaar van 9,6%.

Die meeste van dié eise is vir sterftes.

Die res word as volg opgedeel:

  • R871 miljoen vir siektedekking
  • R436 miljoen vir mediese ongeskiktheid
  • R13 miljoen vir afleggings

Die drie grootste oorsake van sterftes waarvoor geëis word, is steeds vir kanker en kankergewasse (23%); kardiovaskulêre siektes (19%) en ongelukke (19%).

Volgens Kotze is ’n skerp styging van 60% gesien in die aantal eise vir asemhalingsprobleme wat tot dood gelei het en dit word toegeskryf aan Covid-19. Asemhalingsprobleme maak 14% uit van die oorsake vir doodseise.

Motorongelukke daal skerp

Kotze sê die enigste positiewe gevolg van die pandemie is dat eise vir motorongelukke skerp met 27% gedaal het.

Dit het heel waarskynlik te doen met die inperkings en die aandklokreël, meen hy.

Ten opsigte van dekking vir siektes het die uitbetaling met 18% gestyg vergeleke met die vorige jaar.

Die eise wat uitbetaal is van die totaal het van 89% tot 95% gestyg.

Die groot siektes waarvoor geëis is, is kanker, hartaanvalle en beroertes.

Die impak van die pandemie is ook op ongeskiktheidseise gesien. In dié kategorie van lewenseise het dekking weens siekte 3,5 keer jaar tot jaar gestyg.

Volgens Kotze is die grootste oorsaak van eise in die onderafdeling vir oordraagbare siektes – die term wat Old Mutual gebruik om na eisers te verwys wat Covid-19 opgedoen het.

Dit is die eerste keer dat oordraagbare siektes tot 10% van die kategorie vir inkomsteverlies weens mediese ongeskiktheid gestyg het. Die uitbetalings vir inkomsteverlies weens ongeskiktheid het met 25% gestyg.

Afleggings

Groot veranderinge is ook in die kategorie vir dekking vir afleggings beleef.

Die eise wat ontvang is, het met R3 miljoen of 30% gestyg vergeleke met die vorige jaar.

“Dit is ongetwyfeld as gevolg van die inperking omdat baie mense hul werk verloor het.”

In dié kategorie was net meer as ’n derde van die eisers tussen 30 en 40 jaar oud, terwyl 76% mans was.

“Hoewel 2020 ons ’n dieper insig gegee het in die impak van die pandemie op ons kliënte en die versekeringsbedryf, is ons seker dat die langtermynimplikasies die volgende paar jaar nog duideliker sal wees,” sê Kotze in ’n verklaring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.