Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Dood aan entstof? Vals nuus oor lewenspolisse

Sekere dele van sosiale media is blykbaar al weer op hol oor boodskappe wat versprei oor lewenspolisse wat nietig verklaar kan word as iemand sterf weens ’n reaksie op die Covid-19-entstof.

lewenspolis
Enige versekerde individue wat sterf as gevolg van Covid-19 se eis sal betaal word, mits daar aan al die bepalings en voorwaardes van die polis voldoen is, sê kenners. Dit volg op fopnuus oor lewenspolisse wat glo nie sal uitbetaal as jy sterf ná 'n inenting teen Covid-19 nie. Foto: Unsplash

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) sê die “onakkurate boodskappe” wat op sosiale media versprei word, het onder sy aandag gekom.

Die boodskappe lui dat die entstof “eksperimenteel is” en dat dit “self toegediend is” en daarom kan versekeraars eise weier.

Die boodskappe het van oorsee af oorgewaai, want daar het die media al ’n tyd gelede daaroor berig.

Die FSCA sê die uitsprake het geen meriete nie en is ongegronde stellings wat vrees en onsekerheid by die publiek veroorsaak.

Die FSCA sê die neem van ’n Covid-19-entstof moenie daartoe lei dat ’n polis gekanselleer of ’n eis verwerp word nie.

Polishouers wat kommer hieroor het, is aangeraai om hul lewensversekeraars of finansiële adviseurs daaroor te kontak.

Netwerk24 het navrae aan die groot versekeraars gerig.

Craig Baker, uitvoerende hoof van MiWayLife, sê toe die Amerikaanse inentingsveldtog begin het, is die Amerikaanse Raad van Lewensversekeraars oorval met navrae van polishouers wat hul kommer hieroor uitgespreek het. Die antwoord was dat geen verklaarde voordele verander nie, ongeag of ’n polishouer ’n entstof ontvang het of nie.

FSCA
Die FSCA sê die neem van ’n Covid-19-entstof moet nie daartoe lei dat ’n polis gekanselleer of ’n eis verwerp word nie. Polishouers wat kommer hieroor het, is aanbeveel om hul lewensversekeraars of finansiële adviseurs daaroor te kontak.

Eenvoudig gestel, as ’n polishouer sterf, is die versekeraar ongeag die oorsaak verplig om te betaal.

Ná uitgebreide kliniese toetse is alle weergawes van die entstowwe as klinies veilig bewys.

Die eis van enige individu wat aan Covid-19 sterf, sal betaal word, mits aan al die bepalings en voorwaardes van die polis voldoen is.

Ander vrae van polishouers

Baker sê verbruikers het ook ander vrae, soos wat die entstof se invloed op die premies gaan wees en of aansoeke om lewensdekking afgewys gaan word.

Hy sê die entstof gaan nie versekeringspremies verhoog nie. “Premies verhoog slegs as daar ’n risiko is. Spesifiek as gevind word dat die entstof sterftesyfers verhoog – wat volgens alle beskikbare data beslis nie die geval is nie.”

Hy sê dit is ook onwaarskynlik dat ’n lewensversekeraar ’n aansoek om lewensdekking sal weier as iemand ingeënt is of nog daarvoor wag.

“Só ’n stap is onlogies. Die entstof is immers bedoel om sterftes te voorkom en sterftes te verlaag, en dus sal iemand wat besluit om ingeënt te word, beskou word as iemand wat homself beskerm, eerder as iemand wat ’n risiko neem.

“Omdat die entstof toon dat dit sterftes en ander risiko’s verminder, sal ’n inenting eerder in die guns van die polishouer as teen hom tel.”

Hy sê dit is onwaarskynlik dat ’n lewensversekeraar iemand wat reeds Covid-19 opgedoen het, lewensdekking sal weier, maar dit is noodsaaklik dat ’n aansoeker eerlik is daaroor of Covid-19 hom of haar met permanente, of semi-permanente gesondheidsprobleme gelaat het – soos die geval met enige aansoek om dekking.

Reis na gevaarlike lande

Nog ’n vraag wat geopper word, is of 'n eis sal beïnvloed sal word as die versekerde tydens ’n pandemie reis.

Volgens hom sal dit van die versekeraar afhang. “Maar onthou dat as 'n reis na ’n hoërisiko-land met die aanvang van die polis as ’n uitsluiting genoem is, is dit onwaarskynlik dat dit sal verander.”

Baker sê die meeste versekeraars sal elke saak op sy eie meriete beoordeel.

’n Versekeraar moet iemand egter in kennis stel as nuwe uitsluitings bekend gestel word. Dit sal insluit ’n lys van lande wat as hoë risiko beskou word, hoewel dit tans nog met oorlog, konflik en politieke onstabiliteit verband hou.

Volgens hom raak die vraag 'n bietjie meer ingewikkeld wanneer ’n dokter iemand weens ’n onderliggende gesondheidstoestand afraai om te reis. Baie polisse laat ’n versekeraar toe om ’n eis te verwerp as bewys kan word dat ’n kliënt nie mediese advies gevolg het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.