Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Duikkloppers waarsku oor versekeraar

Die Suid-Afrikaanse vereniging vir motorherstelwerk (Sambra) het sy lede gewaarsku teen Nzalo Insurance wat nie eise betaal nie.

Richard Green, nasionale direkteur van Sambra.

Die vereniging verteenwoordig omtrent 1 000 duikkloppers en meer as 80% van die herstelwerk waarvoor versekeraars opdok, word deur sy lede gedoen.

Richard Green, nasionale direkteur van Sambra, sê in ’n verklaring R2 miljoen se herstelwerk wat vir kliënte van Nzalo gedoen is, is agterstallig. Hy sê sekere van die betalings is reeds van Mei af agterstallig.

Volgens Green is ’n dringende waarskuwing aan sy lede gestuur oor die uitstaande betalings van Nzalo.

Die herstelwerk is gedoen nadat magtiging ontvang is en makelaars aan die duikkloppers die versekering gegee het dat Nzalo die eise sal betaal.

Steeds gemagtig

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het Nzalo op 6 Desember 2016 as ’n korttermynversekeraar gemagtig. Die nakomingsbeampte is Julius Moila.

Hy wou nie op navrae reageer nie en het gesê die eisebestuurder moet op die vrae reageer.

Die oproepe wat deurgesit is na die persoonlike assistent van Petros Chimanga, besturende direkteur van Nzalo, is nie beantwoord nie en die ontvangsdame wou nie sy e-posadres verskaf nie.

Ene Daryl de Vos het later met Netwerk24 in verbinding getree ná die oproepe na die maatskappy en het gesê hy is ’n konsultant vir Nzalo en vrae moet aan hom gerig word.

Hy wou nie presies verduidelik hoekom die vrae aan hom gerig moet word nie. Hy het wel laat weet hy kan nie teen die spertyd antwoord nie. Die berig sal bygewerk word sodra De Vos kommentaar stuur.

Green is bekommerd oor Nzalo Insurance omdat sy grootste aandeelhouer, Vele Investments, in Augustus onder likwidasie geplaas is.

Vele is ook die hoofaandeelhouer van VBS Mutual Bank, wat in kuratele is en waar grootskeepse bedrog ondersoek word.

Volgens Green het Sambra geen kommunikasie oor die status van Nzalo Insurance gekry nie en die FSCA is oor die situasie genader.

Die FSCA het aan Green gesê die Reserwebank se Omsigtigheidsowerheid is in gesprek met Nzalo oor Sambra se kommer.

Die FSCA het die vereniging ook na Chimanga vir kommentaar verwys. Chimanga is ’n Zimbabwiese burger, toon die registrateur van maatskappye se inligting oor hom.

Green sê Sambra se lede is binne hul regte om motors te hou of dié wat aan Nzalo se kliënte teruggegee is, weer terug te neem indien die kliënt of die versekeraar nie die eis betaal nie.

“Die kliënt sal dan aanspreeklik wees vir die uitstaande bedrag asook die koste wat met die bewaring en administrasie van die motor te doen het.”

OBK is aandeelhouer

Dit wil voorkom of Sambra nie seker is aan wie Nzalo Insurance behoort nie. Luidens die verklaring wil dit voorkom of Nzalo Insurance deur Vele Investments verkry is.

Vele Investments is die grootste aandeelhouer van die omstrede VBS Mutual Bank, wat onlangs in kuratele geplaas is.

’n Likwidasiebevel is begin Augustus ook deur die hooggeregshof van Gauteng vir Vele Investments toegestaan.

Nzalo is wel ’n volfiliaal van die Bophelo Insurance Group (BIG).

Die blyk uit ’n mediaverklaring wat die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) in Julie uitgereik het dat BIG einde Junie ’n nuwe aandeelhouer gekry het.

Die verklaring van die OBK lui dat Vele Investments 70% van BIG besit, maar op 28 Junie ’n ooreenkoms met Lebashe Investments aangegaan het waarvolgens die maatskappy dié belang vir R1 gekoop het. Dit is omdat Vele ’n negatiewe netto batewaarde gehad het.

Volgens die OBK het dié transaksie met Lebashe plaasgevind nadat BIG geld by VBS gedeponeer het wat hy nie kon terugkry nie. BIG het daarna sy twee groot aandeelhouers genader om hom te herkapitaliseer, maar Vele het nie op die versoek gereageer nie. Hoewel ander kopers belang gestel het in aandele in BIG het hul belangstelling “verdamp toe hulle ingelig is dat sy twee filiale – Bophelo Life Insurance en Nzalo Insurance – op die punt is om in kuratorskap geplaas te word deur die Reserwebank”, luidens die OBK se verklaring.

Die verkryging deur Lebashe Investments het verseker dat R60 miljoen aan Bophelo Life Insurance en R40 miljoen aan Nzalo “vrygestel kon word” om hul voortgesette likiditeit te verseker. “Bophelo en Nzalo is (nou) winsgewend,” lui die OBK se verklaring.

Verwante probleme

Die OBK se 2017-jaarverslag wat in September afgeteken is, het getoon dat 70% van BIG aan Mvunonala Holdings behoort.

Fin24 en City Press het verlede jaar berig Vele Investments het Mvunonala in September 2017 vir R300 miljoen gekoop.

Mvunonala het ook Bophelo Benefit Services besit wat die Bophelo Beneficiary Fund geadministreer het. City Press het verlede jaar berig R220 miljoen is weg by dié fonds. Die FSCA het verlede jaar die fonds en sy administrateur in kuratorskap geplaas.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.