Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Duisende polisse word gekanselleer

Duisende mense wat vir tot ’n dekade premies betaal het aan Prime Meridian Direct vir polisse teen sterfte en sekere siektetoestande, is nou ingelig dat hulle nie meer ná 31 Maart gedek sal wees nie en hul premies nie terugbetaal sal word nie.

Bestaande regulasie bepaal dat versekeraars polisse kan kanselleer solank as wat hulle 31 dae kennis gee. Foto: iStock

Die versekeraar het aangekondig sy Prime Living Legacy en Prime Living CoverGrow-polisse word vanaf 31 Maart gekanselleer.

Dié polisse is onderskryf deur die korttermynversekeraar Constantia, maar hy sê kragtens veranderinge aan die Versekeringswet mag hy as korttermynversekeraar nie langer die produkte onderskryf nie.

Talle lesers het teenoor Rapport gekla dat hulle enigiets tussen R750 en R1 500 per maand betaal het vir lewensversekering.

Party betaal al tien jaar lank maandeliks getrou hul premies, maar in Februarie is hulle per SMS ingelig hulle is nie meer gedek nie.

Prime Living Legacy is tussen 2010 en 2016 aan 2 771 verbruikers verkoop as ’n “gesondheid- en ongelukspolis” en Prime Living CoverGrow is tussen 2015 en 2018 verkoop aan 2 445 mense.

Die SMS waarmee die polishouers ingelig is van die kansellasie het nogal gelui hulle moet “asseblief nie ontstig wees nie”.

Ingevolge die verandering aan wetgewing is lewensdekking en dekking teen gevreesde siektes langtermynprodukte wat net deur langtermynversekeraars aangebied mag word, sê Constantia.

Die versekeraar onderneem om alle verpligtinge vir eise wat ontstaan tot 31 Maart na te kom, maar dit is skrale troos vir die polishouers wat van 1 April geen dekking gaan hê nie.

’n Polishouer van Randburg het aan Rapport gesê hy was 56 toe hy ’n polis uitgeneem het vir R5 miljoen. Sy premie was R1 500. Noudat hy 60 is, vrees hy hy gaan nie soortgelyke dekking elders kan kry teen dié prys nie.

“Daar is duisende ander mense in dieselfde bootjie as ek. Dit is verkeerd wat daar aan ons gedoen word,” sê hy.

Om die situasie nóg erger te maak, gaan die polishouers nie eens hul premies kan terugeis wat hulle al die jare betaal het nie.

Alex Taljaard van Constantia sê die twee produkte wat ter sprake is, is korttermynversekeringspolisse en daarom is die maandelikse premies nie terugbetaalbaar nie.

“Met die staking van die produk sal die invordering van premies tesame met die dekking gestaak word.

“Ons het gedurende die tydperk volle dekking gebied en alle eise is nagekom,” sê hy.

Die situasie het ook die ombud vir korttermynversekering aan die kopkrap.

Edite Teixeira-McKinnon, uitvoerende hoof van die ombud vir korttermynversekering, sê dit is die heel eerste keer dat die ombud te doen kry met klagtes oor die kansellasie van lewensversekering deur ’n onderskrywer.

Dit is dus moeilik om te sê hoe dit hanteer gaan word.

“Die klagte oor die Prime-polisse is baie nuut vir ons kantoor en moet ten volle ondersoek word voordat enige besluite geneem kan word.”

Sy kon nie sê presies hoeveel klagte ontvang is nie, maar dit is meer as gewoonlik vir die betrokke versekeraar.

Kedibone Dikokwe van die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) sê hulle ondersoek tans die aangeleentheid.

Sy sê dit is te vroeg om te sê of Constantia nie sy verpligtinge teenoor sy polishouers nagekom het nie.

“Bestaande regulasie bepaal dat versekeraars polisse kan kanselleer solank as wat hulle 31 dae kennis gee. Hulle het dit gedoen.”

Sy sê dit is korrek dat die polisse gekoppel is aan die afbakeningsproses tussen korttermyn- en langtermynversekeraars wat tans aan die gang is.

Sy sê die versekeraar het geen verpligting om ’n alternatiewe produk aan die polishouer te bied nie, maar dat Constantia dit oorweeg het.

“Dit was ongelukkig nie vir hulle moontlik om só ’n produk aan te bied nie,” sê Dikokwe.

Meer oor:  Versekering  |  Lewensversekering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.