Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Eis vir huiskantoor ingewikkeld – SAID

Kantoorwerkers werk nou van die huis af en mense wat gewoonlik kon eis vir kilometers wat hulle vir werkdoeleindes afgelê het, sit ook nou tuis.

Werk van die huis af is die nuwe normaal. Foto: Unsplash

Maar dit lyk asof die nasionale tesourie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), wat weens krimpende inkomste onder erge druk verkeer, effe langtand is om verdere verligting te bied.

Dit is ingewikkelde kwessies, het Franz Tomasek, hoofbestuurder van wetgewende beleid by die SAID, Dinsdag in die parlement gesê in antwoord op vrae van dr. Dion George, DA-lid van die staande komitee oor finansies, of die tesourie nie verligting kan bied aan kantoorwerkers wat nou tuis moet werk en nie normaalweg vir huiskantoor-uitgawes kon eis nie.

Tomasek meen die vraag ontlok ’n filosofiese kwessie, want wat in effek tans gebeur, is dat werkgewers deel van hul indiensnemingskostes na die werknemers oorskuif.

Volgens Tomasek is die reëls vir die eis van koste wat verband hou met ’n tuiskantoor redelik streng omdat dit in vorige jare misbruik is. Hy meen as ’n werkgewer tans deel van die koste van die werknemer betaal, byvoorbeeld vir datagebruik van die huis af, is dit nie veronderstel om belasbaar te wees nie, want dit is indiensnemingskostes wat na die werknemers oorgeskuif is.

’n Motortoelae word op sy beurt deel van iemand se vergoedingspakket.

Chris Axelson, hoofdirekteur van ekonomiese belastingontleding by die tesourie, meen wel daar is reëls wat benut kan word waar mense vir die gebruik van ’n tuiskantoor kan eis. As die Covid-19-inperking nog langer voortduur, sal mense kan eis as hulle meer as 50% van die belastingjaar uit hul tuiskantoor moes werk.

George het juis gewys op die tesourie se belastingverligting wat net vir die vier maande van April tot Julie geld. “Dit is nie naastenby genoeg nie. Dit is al byna Augustus en die impak van Covid-19 is nog lank nie verby nie,” en hy meen dus die tesourie moet dit ernstig oorweeg om van die verligting wat aangebied word te verleng.

George het voorgestel dat die komitee moet aanbeveel dat die nasionale tesourie ondersoek instel na hoe pensioenfondslede hul aftreegeld kan benut sonder om hul voorsiening vir aftrede in die gevaar te stel of dit te erodeer.

George het gewys op die verskynsel van staatsamptenare wat nou in hul duisende bedank om toegang tot hul pensioenfondsgeld te kry omdat hulle as gevolg van die Covid-19-inperking swaarkry weens, byvoorbeeld, ’n eggenoot wat hul werk verloor het.

Ismail Momoniat, adjunkdirekteur-generaal van die tesourie, het gesê die tesourie sal kyk na al die komitee se aanbevelings en terugkom na die komitee om daaroor verslag te doen.

Die tesourie het Dinsdag aan die komitee ’n oorsig gegee van al die vrystellings wat ter verligting aangebied is. Fondse wat gestig is om geld ten bate van die regering se stryd teen Covid-19 in te samel is vir vier maande, van April tot Julie, van belasting kwytgeskeld. Skenkings aan hierdie fondse is ook van skenkerbelasting kwytgeskeld. Die skenkings aan die fondse sal vir ’n 10%-belastingverlaging ingevolge art. 18A van die Inkomstebelastingwet kwalifiseer.

Die spesiale toegewings sal ná vier maande wegval, maar die fondse kan daarna by die SAID om verdere verligting aansoek doen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.