Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Eise vir Covid-sterftes ‘oorweldig versekeraars’

Die ongekende getal eise tydens die pieke in die koronaviruspandemie het versekeraars oorweldig, sê Sanlam.

Retirement savings golden nest egg in a businessma
8% van bydraes tot pensioenfondse wat Sanlam bestuur, is steeds opgeskort. Foto: iStock

Hy is boonop uiters bekommerd oor die moontlikheid dat die derde vlaag net soveel sterftes as die tweede vlaag gaan meebring.

Op ’n mediakonferensie Maandag oor die 2021 Sanlam Benchmark-navorsing het die versekeraar meer inligting oor die eise tydens die pandemie verskaf.

Volgens Michele Jennings, uitvoerende hoof van groepslewensversekering van Sanlam Corporate, blyk dit tans dat die derde vlaag dieselfde trajek as die tweede vlaag volg.

“Ons het gehoop dat die derde vlaag nie so groot soos die tweede sou wees nie en dat dit iets tussen die eerste en tweede sou wees. Ons is dus uiters bekommerd.

“Gegrond op die omvattende blootstelling in die tweede vlaag het ons ook groter kudde-immuniteit verwag, maar dit het nie werklik gebeur nie.”

Die min beskikbare entstowwe en vrese daaroor is ook kommerwekkend.

Ons het gehoop dat die derde vlaag nie so groot soos die tweede sou wees nie... Ons is dus uiters bekommerd.
Michele Jennings van Sanlam

Oormaatsterftes

Sanlam se syfers stem grootliks ooreen met die nasionale syfers van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, maar in die tweede vlaag was die sterftes onder versekerde lewens meer as die nasionale syfer.

Jennings sê dit was dieselfde vir alle groot versekeraars en het 400% meer as die verwagte sterftes beloop.

Van Maart 2020 en die eerste week in Februarie vanjaar het Suid-Afrika 137 000 oormaatsterftes aan natuurlike oorsake aangemeld. Dit is wesenlik meer as die 44 500 bevestigde sterftes in dié tydperk aan Covid-19.

Oormaatsterftes verwys na hoeveel méér sterftes daar in ’n gegewe tydperk was as wat op grond van historiese data verwag sou word.

Van 85% tot 95% van die oormaatsterftes word aan Covid-19 toegeskryf. Die oorblywende sterftes is waarskynlik weens gesondheidsdienste wat tydens die piek in die vlae oorweldig was.

Eise uitbetaal

Begin vanjaar het versekeraars baie groot bedrae aan eise uitbetaal.

In Januarie en Februarie het Old Mutual R1,9 miljard en MMI R3,9 miljard uitbetaal, terwyl Sanlam Lewens in die eerste kwartaal R3,8 miljard uitbetaal het.

Tydens die piek van die tweede vlaag was die waarde van eise wat uitbetaal is tussen 30% en 50% hoër as verwag.

In Januarie was dit 300% hoër as verwag, terwyl die getal eise in dié maand 250% bo die verwagting was.

Die styging in die waarde van eise word daaraan toegeskryf dat dit is vir sterftes in die ouderdomsgroep 45 jaar en ouer, wat normaalweg hoërinkomste-verdieners is.

Jennings sê versekeraars het almal “ongekende volumes” en gevolglik bedryfsuitdagings ten opsigte van die betaling van eise ondervind. Die eise is betaal, “maar ons almal erken dit is nie altyd vinnig betaal nie”.

Eise begin ook deurkom vir inkomstevoordele wat met ongeskiktheid ten opsigte van sogenaamde “lang Covid-19”, met ander woorde die nasleep van die virussiekte, verband hou. Daar is kommer dat “tesame met die ekonomie wat nie so vinnig herstel soos verwag nie, lang Covid-19, asook depressie en angs, ons in die volgende jaar ’n verhoging in ongeskiktheidsinkomstevoordele gaan sien”.

LEES OOK: Moeg en buierig ná jou siekte? Jy het dalk lang Covid

Aftreefondse sukkel

Rigitté van Zyl, kliëntehoof van Sanlam Corporate, sê een uit drie van die aftreefondse wat aan die 2021 Sanlam Benchmark-peiling deelgeneem het, het verlede jaar weens die pandemie ’n daling in ledetal gehad.

Altesaam 80% van die deelnemende aftreefondse het gesê van hul lede het verlede jaar kleiner salarisverhogings of salarisdalings, sabbatsverlof sonder betaling, afleggings en likwidasies ervaar.

’n Paar maande se opgeskorte bydraes gaan nie ’n merkbare effek op aftreespaargeld hê nie.
Avishal Seeth van Sanlam

Die bedryf het vinnig gereageer deur bydraes op te skort.

Altesaam 27% van die alleenstaande aftreefondse en 41% van sambreelfondse het bydraes in 2020 weens die finansiële effek van die inperking opgeskort.

Die gemiddelde tyd wat bydraes opgeskort is, was 4,5 maande. Dit stem ooreen met die verwagte tyd volgens navorsing wat verlede jaar onderneem is.

Onder die aftreefondse van vakbonde wat aan die Benchmark-peiling deelgeneem het, het 70% aangedui dat hulle bydraes vir gemiddeld vyf maande opgeskort het.

In die Sanlam-sambreelfonds is 8% van die lede se bydraes steeds opgeskort. Dit is heelwat beter as die 25% in Augustus verlede jaar.

Avishal Seeth, hoof van sambreelfondse van Sanlam Corporate, sê die opskorting van bydraes was die regte ding om te doen. “Dit is beter om kos op die tafel te sit. ’n Paar maande se opgeskorte bydraes gaan nie ’n merkbare effek op aftreespaargeld hê nie.”

Samesmeltings

Die verwagting is dat die pandemie die konsolidasie van aftreefondse gaan versnel, sê Seeth.

Daar was in die 1990’s meer as 16 000 aftreefondse in die land teenoor die sowat 1 500 tans.

“Weens die inkrimping in die arbeidsmag verwag ons dat meer alleenstaande aftreefondse dit gaan oorweeg om na sambreelfondse te skuif.”

Van die redes hiervoor is kostes, vereistes ten opsigte van korporatiewe beheer, die persoonlike aanspreeklikheid van trustees en ’n gebrek aan ondervinding onder werknemers om as trustees te dien. “Ons voeg nou Covid-19 by dié lys.”

Die nasionale tesourie en die Gedragsowerheid vir die Finansiëledienstesektor (FSCA) moedig die konsolidasie aan. In 2018 het die tesourie aangedui dat daar minder as 200 aktiewe aftreefondse behoort te wees. Seeth sê die tesourie het onlangs dié siening op ’n konferensie van pensioenfondsprokureurs herhaal.

lang covid
Meer oor:  Sanlam  |  Versekeraars  |  Langtermynversekering  |  Aftrede  |  Benchmark  |  Lewensversekering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.