Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Ekspats: Hulp met Covid-takspyn

Die nasionale tesourie se voorstel in Oktober om die getal dae wat expats vanjaar buite die land moes wees om vir belastingvrystelling te kwalifiseer, was goeie nuus vir Suid-Afrikaners wat in die buiteland vir ’n salaris werk.

Charné van der Walt

Weens die staat van inperking as gevolg van die Covid-19-pandemie is die voorstel dat die tydperk van 27 Maart tot 31 Mei – 66 dae – vanjaar buite berekening gelaat mag word.

Hulle moet normaalweg meer as 183 dae per enige 12 aaneenlopende maande (nie per belastingjaar nie) in die buiteland wees waarvan minstens 60 dae aaneenlopend moet wees. Let op, ek skryf “meer as 183 dae” so beplan vir 184 dae en langer.

As jy kwalifiseer, sal tot R1 250 000 van jou inkomste (per belastingjaar) vrygestel wees van belasting.

As jy meer verdien, sal die res in Suid Afrika belas word, maar hou rekord van en verklaar in jou volgende belastingopgawe enige belasting wat jy in die buiteland betaal.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) werk streng volgens hierdie dae, so as jy vroeër moes terugkeer na Suid-Afrika vir byvoorbeeld ’n onbeplande operasie en nie die getal dae behaal nie, gaan jy ’n belastingprobleem hê wat ’n oudit (verifikasie) aan die lig sal bring.

Met ’n oudit wil die SAID ’n skedule sien van jou reise buite Suid-Afrika asook afskrifte van jou paspoort waar die datums van die stempels ooreenstem met die skedule. Hou die skedule terugwerkend op datum van jou eerste werkreis buite Suid Afrika.

Ek antwoord vandag ook ’n paar lesers se vrae oor buitelandse inkomste.

  

Vraag 1: Bly lank genoeg...

Ek het op 20 Januarie 2019 uit Suid-Afrika vertrek en het my werk weens die pandemie verloor toe ek op 20 Maart moes terugkom Suid-Afrika toe.

Van Januarie 2019 tot Maart vanjaar het ek Suid-Afrika op die volgende datums besoek: van 10 tot 18 Mei 2019; die hele September 2019; en van 23 Desember 2019 tot 4 Januarie vanjaar.

Ek het intussen weer werk in die buiteland gekry teen minder as R1 250 000 per jaar, maar is bekommerd dat ek op die volle bedrag in Suid-Afrika sal moet belasting betaal.

Antwoord

Tussen die drie besoeke in Suid-Afrika voordat jy in Maart vanjaar teruggekeer het, was al jou besoeke in die buiteland vir 60 dae of langer.

As jy nou werk gekry het, sorg dat jou verblyf daar ook minstens een keer 60 dae of langer is. Jy was ook reeds in Augustus 2019 meer as 183 dae in die buiteland.

Met die verminderde dae van 117 (66 dae minder), sal dit beteken jy op omstreeks 11 November met ’n nuwe werk in die buiteland moes begin het, anders gaan jy nie in die huidige jaar vir die vrystelling kwalifiseer nie.

Ek weet nie in watter land jy werk en hoe lank jy daarheen reis nie.

Ek werk konserwatief (ek laat die dag van vertrek plus ’n ekstra reisdag uit die berekening). Dit kan fyner bereken word met die hulp van ’n kundige.

  

Vraag 2: Werknemer of kontrakteur?

Ek werk as onafhanklike kontrakteur vir ’n Amerikaanse maatskappy. Ek werk in Suid-Afrika en besoek kliënte oorsee, maar dis kort besoeke. Dit is my enigste inkomste en ek moet ’n minimum van 60 uur per week werk.

Jou belastingopgawe as jy oorsee werk, kan nogal ingewikkeld raak. Foto: iStock

Die geld word in my bankrekening in Brittanje betaal en ek plaas 75% daarvan oor na my Suid-Afrikaanse bankrekening. Ek word maandeliks apart vergoed vir uitgawes wat ek namens die maatskappy aangaan.

Enige advies oor hoe ek my belastingopgawe moet hanteer?

Antwoord

Die Amerikaanse maatskappy vir wie jy werk, moet in Suid-Afrika by die SAID as ’n werkgewer registreer, 25% belasting aftrek, aan die SAID oorbetaal en die res aan jou betaal (jy kry dan ’n IRP5 aan die einde van die belastingjaar).

As dit nie gebeur nie, moet jy jou volle inkomste verklaar (nie slegs dit wat jy na jou Suid-Afrikaanse bankrekening oorplaas nie).

Aangesien jou kontrak ’n werkgewer-werknemer-verhouding impliseer, sal jy nie al jou uitgawes kan aftrek nie. Kry advies.

  

Vraag 3: Selfdoen sukkel

Ek werk oorsee en kry ’n IRP5 van my werkgewer in Suid-Afrika. Daar is nie belasting afgetrek nie, aangesien ek minstens 200 dae per enige 12 aaneenlopende maande uit die land is.

My werkgewer se ouditeur hanteer gewoonlik my opgawes, maar ek wou vanjaar die koste bespaar en die opgawe self indien.

Die berekening wys egter dat ek ’n enorme bedrag belasting aan die SAID verskuldig is. Wat doen ek verkeerd?

Antwoord

As jou IRP5-inkomste wys onder kode 3651 (salaris in die buiteland verdien, onderhewig aan werknemerbelasting) en jy voltooi nie die korrekte velde op die belastingopgawe om jou vrygestelde inkomste onder afdeling 10(1)(o)(ii) van die Inkomstebelastingwet duidelik aan te toon nie, gaan jou inkomste as belasbare inkomste beskou word.

Laat die ouditeure eerder die opgawe indien en betaal die koste daaraan verbonde eerder as dat jy verkeerdelik heelwat meer aan die SAID moet opdok.

  

Vraag 4: Hoe dra ek geld oor?

Die salaris wat ek per belastingjaar in die buiteland verdien, is veel minder as R1 250 000. Ek kwalifiseer volgens die getal dae buite die land.

Ek verdien die geld in my plaaslike bankrekening. Mag ek geld in die buiteland belê en hoe werk die oordrag van die geld?

Antwoord

Solank jy jou inkomste korrek verklaar, het jy taamlik vryheid wat jy met jou nabelaste (of vrygestelde) inkomste mag doen. Jy mag (as jy 18 jaar en ouer is) sonder ’n belastingaanwysing van die SAID tot R1 000 000 per jaar na die buiteland neem.

Dié R1 000 000 sluit in skenkings aan sendelinge, onderhoudsgeld, geskenke, lenings, reiskoste, jou eie studie of dié van jou kinders in die buiteland en uitgawes vir huwelikseremonies.

Hou rekord van al die transaksies en trek dit af voordat jy die res belê. Die bedrag werk per kalenderjaar, nie per belastingjaar nie.

As jy meer wil belê en jou sake met die SAID is in orde, kry eerder ’n belastingaanwysing (jy kan tot R10 000 000 so oorneem).

Die SAID werk tans met minder personeellede weens die pandemie en die feestyd, wees dus voorbereid dat ’n transaksie wat jy nou begin, eers in 2021 kan deurgaan.

Die wisselkoers moet ook dopgehou word. Kry ’n bank of ’n onafhanklike valuta-agent met ’n goeie reputasie (vergelyk koste) om die oordrag te fasiliteer.

  

Vraag 5: 10 jaar geen opgawe

Ek is al tien jaar landuit en het sedert 2010 geen belastingopgawe ingedien nie.

Ek beskou nie meer Suid-Afrika as my huis nie en sal nie terugkom nie, maar het nooit formeel geëmigreer nie.

Die meeste van my eiendom en beleggings is in die buiteland, maar ek het ’n woning in Suid-Afrika wat ek permanent deur ’n agent verhuur. Die netto inkomste word in my Suid-Afrikaanse bankrekening betaal. Ek het ’n verband op die eiendom.

Toe ek uit Suid-Afrika weg is, was die netto huurinkomste vir ’n hele paar jaar onder die jaarlikse belastingperk, maar dit is nie meer nie.

Wat staan my te doen?

Antwoord

Jy het nog ’n inkomstebelastingnommer in Suid-Afrika en jou huurinkomste (en kapitaalwins, as jy die eiendom verkoop) moet in Suid-Afrika verklaar word.

Ek sal voorstel dat jy jou agterstallige opgawes indien en dan op datum hou.

As jy die eiendom in Suid-Afrika in ’n stadium verkoop, die kapitaalwins verklaar het en nie meer ’n behoefte het om jou bankrekening in Suid-Afrika oop te hou nie, kan jy aansoek doen by die SAID om jou belastingnommer te deregistreer. Dit is ’n lang proses, maar dit is moontlik.

Ek sal voorstel dat jy ’n belastingpraktisyn met ondervinding van hierdie situasies kry om jou by te staan.

  • Ek wens al die lesers ’n Ge­seënde Kersfees toe!
  • Charné van der Walt (The Lemon Lady), is ’n finansiële raadgewer en belastingpraktisyn in Stellenbosch. Kontak haar by info@lemons.co.za met vrae vir opvolgen-de rubrieke (geen een-tot-een advies beskikbaar). Die artikel is in leketaal geskryf en bevat nie spesifieke of persoonlike raad nie. Sy sal in 2021 voortgaan om gereeld vir Sake te skryf.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.