Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Ekspats: Tyd raak min vir aftreegeld

Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk, maar nog aftreebeleggings in die land het, het net ’n maand oor om te besluit wat om daarmee te maak.

geldsake
Belastingbetalers sal van 1 Maart af sal moet bewys dat hulle vir ’n ononderbroke tydperk van drie jaar vir belastingdoeleindes nie-inwoners was voordat hul pensioenfonds uitbetaal mag word. Foto: Pixabay

Belastingkenners waarsku dat belastingbetalers van 1 Maart af sal moet bewys dat hulle vir ’n ononderbroke tydperk van drie jaar vir belastingdoeleindes nie-inwoners was.

Dit beteken eenvoudig gestel hulle moet kan bewys hulle het in dié drie jaar in die buiteland gewerk en nie inkomste plaaslik verdien wat plaaslik belas hoef te word nie. As hulle dit nie doen nie, sal hulle drie jaar moet wag voordat hulle toegang kan kry tot hul Suid-Afrikaanse aftreegeld.

Dit volg op die bekragtiging op 20 Januarie van die Wysigingswet oor Belastingwette. Dit beteken as jy nou emigreer, jy eers oor drie jaar toegang kan kry tot jou aftreegeld wat nog in Suid-Afrika belê is.

LEES OOK: 6 veranderinge aan belasting wat jou nou raak

Tans kan iemand wat nog voor 1 Maart emigreer deur die proses van finansiële emigrasie te gebruik, onmiddellik hul volle aftreegeld onttrek. Dink byvoorbeeld aan die balans in ’n uittree-annuïteit wat nog nie sy volle beleggingstermyn uitgeloop het nie, sê Jonty Leon, regskenner by Tax Consulting SA.

Hoe dit nou werk

Die huidige bestel is nuttig vir talle Suid-Afrikaners wat reeds landuit is, want hulle gebruik dikwels dié geld om hulle in hul nuwe land te vestig. Dit het ook belastingbetalers in staat gestel om hul beleggings te onttrek en die geld in iets te belê wat meer van pas is vir hul nuwe omstandighede, sê Leon.

Mense wat hul finansiële emigrasie al gefinaliseer het of wat voor 28 Februarie vanjaar hul volle aansoek vir finansiële emigrasie by die Suid-Afrikaanse Reserwebank ingedien het, kan nog tot 28 Februarie hul pensioengeld onder die ou bedeling onttrek.

Hoe dit voortaan kan werk

Volgens Leon is dit nog onseker presies hoe die nuwe bestel prakties sal werk, want dit sal die vereistes van die polisverskaffer en van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) in ag moet neem, sowel as ondersteunende dokumentêre bewyse. ’n Strenger verifikasieproses en risikobestuurstoets kan egter verwag word, glo Leon.

Hy waarsku egter dat die SAID ’n aggressiewer poging aanwend om soveel moontlik inkomste teen alle koste in te samel en dat dit nie slim sal wees om nou ’n wag-en-sien-houding in te neem nie.

Leon sê belastingadviseurs het in die verlede die proses van finansiële emigrasie as onnodig beskou en hul kliënte dikwels aangeraai om eerder vinniger en makliker oplossings te gebruik. Maar dit blyk nou die maklikste en vinnigste oplossing is nie altyd die beste oplossing nie, veral nie wat belasting betref nie.

Faktore wat risiko verhoog

Daar is geen waarborge dat die regering nie dalk kan besluit om die drie jaar wagtyd met nog drie jaar of onbepaald te verleng nie, waarsku Leon.

Dit is weens die ANC se agenda om aftreefondse te oortuig om in sogenaamde “voorgeskrewe bates” te belê. Dit kan beteken ’n aftreefondsbestuurder word dalk nie toegelaat om jou geld so goed as wat hy dink vir jou aftrede te belê nie omdat sy beleggingsbesluite aan regulasies onderhewig is. Die vrees is dat mense se aftreegeld in Suid-Afrika vasgekeer is en dit gebruik kan word om Eskom of die SAL te finansier.

Leon waarsku verder dat die steeds verswakkende rand die waarde van aftreegeld in Suid-Afrika kan laat taan. Niemand weet teen watter vlak die rand oor drie jaar sal verhandel nie.

Die belastingkoers op aftreefondsonttrekkings is al lank vas op 36%, terwyl die koers op persoonlike inkomste tot 45% verhoog is. Volgens Leon is die onttrekking van aftreegeld is ’n sagte teiken en die risiko vir ’n hoër belastingkoers daarop neem toe hoe langer jou geld vasgekeer is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.