Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Fout op jou aanslag? Stel dit só reg

Die belastingseisoen in Suid-Afrika begin gewoonlik op 1 Julie, maar dit het vanjaar op 1 September begin. Die sperdatum vir belastingbetalers wat nie vir voorlopige belasting geregistreer is nie (17 November 2020) is egter nie ook uitgestel nie.

  

Charné van der Walt is ’n finansiële raadgewer en geregistreerde belastingpraktisyn.

Daar is nog heelwat 2020-belastingopgawes uitstaande.

In baie gevalle is dit omdat IRP5-dokumente nie korrek is nie. In sekere gevalle was IRP5-dokumente korrek, maar gedupliseer. Stel dit eers reg met die instelling wat die IRP5-dokument aan jou voorsien het voordat jy die opgawe indien.

Dit help om vertoë op foutiewe belastingopgawes, ekstra koste aan ’n belastingpraktisyn, stres en onnodige betalings aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) te vermy.

  

Geld van een aftreefonds na ’n ander oorgedra

Foute kom byvoorbeeld ook voor op IRP5-dokumente waar aftreegeld oorgedra is van een goedgekeurde fonds na ’n ander, of waar aftreegeld regstreeks aan belastingbetalers uitbetaal is.

As geld van een goedgekeurde fonds na ’n ander oorgedra word, is geen belasting aftrekbaar ten opsigte van die betrokke transaksie nie. Dit is egter gebruiklik dat die fonds wat die geld oordra, steeds ’n belastingaanwysing van die SAID aanvra om seker te maak dat jy nie ander geld aan die SAID verskuldig is nie.

’n Belastingaanwysing word ook aangevra as jy geld uit ’n aftreefonds onttrek, hetsy voor jou aftrede (hoër belasting) of as jy aftree (geen of laer belasting).

  

As jou IRP5 van aanslag verskil

Vanjaar verskil inligting soms tussen die IRP5-dokument en die belastingaanslag. Dit veroorsaak dat die eFiling-stelsel nie die IRP5-dokument aanvaar nie.

Kry kopieë van die IRP5 en die belastingaanwysing en kyk of die inkomstekode en belastingaanwysing se verwysingsnommers ooreenstem. As dit ooreenstem, kyk of dit verskil van wat op eFiling wys. Die IRP5 moet eers reggestel word.

As dit gedoen is, volg jy die volgende stappe: Gaan op eFiling, druk die opsie “Refresh Data” en kyk of die nuwe korrekte IRP5-dokument wys voordat jy weer probeer om die opgawe in te dien.

  

Onafhanklike kontrakteurs

Die belastingaanwysing waarna ek hierbo verwys, verskil effens van die soort wat onafhanklike kontrakteurs soms gebruik. Onder normale omstandighede moet 25% van die kontrakteur se faktuur afgetrek en aan die SAID oorbetaal word.

As ’n kontrakteur se belastingkoers egter minder is as 25%, kan die kontrakteur (met behulp van die nodige finansiële bewyse), jaarliks by die SAID ’n belastingaanwysing aanvra dat belasting laer as 25% (minimum 18%) afgetrek word.

Foute op jou IRP5 moet so gou as moontik reggestel word. Foto: Unsplash

’n Ware onafhanklike kontrakteur werk nie vir een kliënt nie en word nie ’n werknemer van die kontrakgewer nie. Ten spyte hiervan, word die kontrakteur steeds op die kontrakgewer se betaalstaat geplaas en word ’n IRP5-dokument aan die einde van die belastingjaar aan die kontrakteur voorsien.

Dit is belangrik om hierdie proses te volg aangesien nie alle kontrakteurs hul inkomste korrek aan die SAID verklaar nie. Deur ’n IRP5-dokument uit te reik, word verseker dat die SAID bewus is van die kontrakteur se korrekte inkomste.

Ek sien vanjaar weer foute met kontrakteurs se IRP5-dokumente. Die korrekte belasting (25%) is byvoorbeeld afgetrek, maar die inkomste wat die kontrakteur verdien (voor belasting), sal wys op kode 3601, wat die kode vir gewone salarisinkomste is.

’n Kontrakteur se IRP5-dokument moet die kode 3616 wys. Op kode 3601 gaan die stelsel outomaties bydraes tot die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) bereken en aftrek.

Kyk wat jou kontrak met die kontrakgewer hieroor bepaal en maak seker dat die salarisafdeling van die begin af jou uitbetalings korrek laai, eerder as om later te sukkel om ’n foutiewe IRP5-dokument reg te stel.

  

Outomatiese aanslag

Die nuwe outomatiese aanslag wat die SAID op 1 Augustus 2020 op eFiling bekend gestel het, het ook nie so glad verloop nie. Dit behels dat jy ’n belastingberekening besigtig, nie jou opgawe oopmaak nie (dus ook nie inligting in besonderhede kan nagaan nie) en waar jy besluit of jy die berekening wil aanvaar of nie.

Belastingbetalers wat ’n terugbetaling moes ontvang, het dit in die meeste gevalle darem sonder ’n oudit (verifikasie) ontvang.

As jy ’n eenvoudige opgawe het en uit die berekening kan sien dat die inligting korrek is, werk die proses goed.

  

Belastingvrye spaarprodukte

Daar was ook vanjaar heelwat foute op hoe inligting van belastingvrye spaarprodukte (bekend as TFSA, kort vir die Engelse beskrywing “Tax Free Savings Account”) deurgetrek het op eFiling.

Jy kan redeneer dat dit tog nie jou belastingberekening beïnvloed nie. Jy is reg, maar dit is belangrik dat daar by die SAID korrek boekgehou word van die bydraes wat jy oor ’n leeftyd tot hierdie produk (tans R500 000) kan bydra.

Die eFiling-stelsel laat jou egter nie toe om die inligting wat deurgetrek het ten opsigte van foutiewe TFSA te wysig nie. Die oplossing hiervoor is om die aantal TFSA-sertifikate op die heel eerste “Wizard”-bladsy te gaan vermeerder sodat ’n oop TFSA-bladsy oopmaak.

Moet net nie enige inligting dupliseer nie. Voltooi alleenlik die syfers wat nie deurgetrek het nie.

Ek verkies maar die langer, veiliger en meer korrekte metode: Maak die opgawe oop en gaan elke stukkie inligting fyn na.

Van my kliënte gaan selfs hul IRP5-dokument na deur dit met hul salarisstrokies vir die betrokke belastingjaar te vergelyk.

  

Hou maar alles tot jy sterf

Onthou my belastingrympie: Hou jou salarisstrokies, belastingdokumente en bankstate vir so lank as moontlik (met ander woorde langer as die gebruiklike vyf jaar).

Vir my beteken dit een ding: Hou dit tot jy doodgaan.

As jy nie ’n voorlopige belastingbetaler is nie, leer hieruit vir volgende jaar se belastingopgawe. Maak die opgawe betyds oop sodat jy tyd het om foute reg te stel. Voorlopige belastingbetalers het tot einde Januarie 2021 om hul 2020-opgawes in te dien, maar maak nou al jou opgawe oop om dit na te gaan (jy kan dit stoor en later indien as jy dit verkies).

As jou opgawe nog nie ingedien is nie (weens hierdie foute of ander redes), behoort jy nie administratiewe boetes te betaal nie, mits al jou opgawes tot en met die 2019-belastingjaar ingedien is. Maar moenie kanse vat met die SAID nie.

Diegene wat in die buiteland werkEk sluit af met die goeie nuus vir Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk (vir ’n salaris). In Oktober 2020 het die nasionale tesourie aangekondig dat, weens die koronaviruspandemie, so ’n belastingbetaler vanjaar minder dae buite die landsgrense hoef te wees.

Dit het ’n positiewe impak op meer as net die huidige belastingjaar. Dié voorgestelde wetgewing (wat ons seker is sal deurgaan) bepaal dat die dae tussen 27 Maart 2020 en 31 Mei 2020 (66 dae) uitgesluit sal wees as jy die aantal dae buite Suid Afrika (vir enige 12-maande-tydperk) bereken.

Meer hieroor in my volgende rubriek. 

  • Charné van der Walt (The Lemon Lady) is ’n finansiële raadgewer en belastingpraktisyn in Stellenbosch. Kontak haar by info@lemons.co.za met vrae vir opvolgende rubrieke. Die artikel is in leketaal geskryf en bevat nie spesifieke of persoonlike raad nie. Sy skryf gereeld vir Sake.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.