Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Gaping in bankkoste word al hoe nouer

Hoewel Capitec verreweg steeds die goedkoopste bankdienste in Suid-Afrika bied, is dit duidelik dat banke verlede jaar hul kostestrukture al hoe nader aan mekaar laat beweeg het.

bankkoste
Solidariteit se jongste bankkosteverslag wys die verskil in koste krimp al meer in veral produkte vir lae-inkomsteverbruikers.

Mededinging skuif nou eerder na wat die banke kan aanbied in hul lojaliteitsprogramme, wys die vakbond Solidariteit se jongste bankkosteverslag.

Die ondersoek het dus vanjaar meer op lojaliteitsprogramme gefokus, verduidelik Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Sodra transaksies toeneem, bly Capitec steeds die goedkoopste, sonder om rente in ag te neem. Maar vir verbruikers vir wie koste nie die enigste oorweging is nie, bied Capitec geen ekstra waarde met ’n omvattende beloningsprogram soos van die ander banke nie.

Dis duidelik dat banke, en veral FNB, verbruikers sover moontlik wil bemagtig om al hoe meer van hul transaksies elektronies te doen eerder as om takke of kitsbanke te besoek.

Absa Transact is die heel goedkoopste bankrekening op intreevlak teen R33,10 vir 12 transaksies. Maar sodra die banksaldo verhoog tot R5 000 is Capitec weer die goedkoopste met R30,13, wys die verslag.

Wanneer rente buite rekening gelaat word, is die verskil tussen die goedkoopste en duurste bankrekening met 17 transaksies nie eens R3 nie, verduidelik Du Buisson.

Middelklas

Verbruikers met meer transaksies en ’n groter inkomste kies gewoonlik banke se vlagskip-produkte waar baie alledaagse transaksies in die pakket ingesluit word. In die kategorie vir middelklas-inkomste met meer gesofistikeerde bankbehoeftes is Absa se Gold Value Bundle die goedkoopste teen R128,25 vir 25 transaksies, terwyl FNB se Gold Unlimited die duurste is teen R171.

solidariteit

Dit is nou wanneer appels met appels vergelyk word.

Maar as van die transaksies by ’n winkeltoonbank gedoen word plaas van by ’n kitsbank, sal FNB weer goedkoper wees, en Capitec se ekwivalente koste vir 25 transaksies sal steeds die heel goedkoopste wees teen R93,40. Du Buisson meen dus verbruikers moet steeds mooi kyk wat in hul pakkette ingesluit is en watter metodes om byvoorbeeld kontant te onttrek die goedkoopste by die betrokke bank is.

Lojaliteitsprogramme

Wat lojaliteitsprogramme aanbetref loop FNB los voor, op grond van ’n lys transaksies wat Solidariteit gebruik het om die banke se programme te vergelyk.

As alledaagse aankope by die voorgeskrewe winkels gedoen word, sal ’n verbruiker by FNB soveel as R463,20 terugkry, terwyl dieselfde lys transaksies by Standard Bank jou net R174,30 sal teruggee.

By die kategorie vir die hoër middelklas sê Du Buisson dis bykans onmoontlik om net na koste te kyk. Al die banke het hul lys van gratis transaksies in hul duurder bondelrekeninge uitgebrei, behalwe kitsbankonttrekkings wat by FNB duurder geword het.

Volgens Du Buisson is al die banke behalwe Nedbank volkome deursigtig oor hoe punte verdien en toegeken word in hul lojaliteitsprogramme.

Lae inkomste

Die verskil in bankkoste het veral gekrimp in die kategorie vir mense met ’n lae inkomste en met taamlik basiese bankbehoeftes.

In ’n vergelyking van sewe verskillende bankrekeninge met 12 transaksies, wissel die verskil in koste net van R30,13 vir die goedkoopste en R39,50 vir die duurste.

Sowel die goedkoopste as die duurste rekeninge is boonop van Capitec – onderskeidelik een met ’n banksaldo van R5 000 en een met ’n banksaldo van nul.

Standard Bank se MyMo PAYT, Absa Transact en FNB Easy PAYU is almal êrens in die middel van dié reeks.

Lees op Solidariteit se webblad meer oor die verslag en vir ’n skakel na die oorspronklike verslag klik hier.

Meer oor:  Nedbank  |  Solidariteit  |  Fnb  |  Absa  |  Capitec  |  Standard Bank  |  Lojaliteitsprogram
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.