Diensverskaffers wat wegdoen met gewone pos en verbruikers se state net per e-pos stuur, diskrimineer op ’n onbillike manier teen diegene wat nie toegang tot e-pos en die internet het nie, sê kenners.

Veral banke, versekeraars en batebestuursfirmas verkies elektroniese kommunikasie, maar hou vol dis nie verpligtend nie.
Daar is nie net talle bejaardes wat uitgesluit word nie, maar ook heelwat armes en mense op die platteland.
Rapport het na aanleiding van die geval van ’n 91-jarige leser navraag gedoen oor die kwessie. Die leser is by haar volle verstand en nog in beheer van haar geldsake. Sy het onlangs ’n brief van die batebestuurder Ninety One gekry oor ’n klein belegging wat sy by hom het.
Ninety One sê daarin in pas met die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popia) word state voortaan met ’n wagwoord beskerm. Dít kan net per e-pos geskied.
“Aangesien jy (gewone) pos verkies, sal ons geen veiligheidsmaatreëls kan verskaf wanneer ons jou state stuur nie,” lui die brief onder meer. Ninety One wil haar “aanmoedig” om oor te skakel na e-pos en verwys navrae na sy oproepsentrum.
Rapport het die oproepsentrum geskakel en van die operateur gehoor die skuif is verpligtend. Op ’n medianavraag het Ninety One egter gesê dit is nie verpligtend nie en die maatskappy sal toesien dat die oproepsentrum voortaan die regte inligting gee.
Ninety One verkies volgens sy woordvoerder wel e-pos, omdat standaardpos onbetroubaar is.
Intussen het dit aan die lig gekom Standard Bank het ’n kennisgewing aan kliënte gestuur wat onder meer lui: “Vir die gerief en veiligheid van al ons kliënte sal bankstate nou per e-pos gestuur word en nie meer gepos word nie, met ingang 1 Februarie 2021. Jy kan ook via ons app, internetbankdiens en by kitsbanke toegang verkry tot jou bankstate.”

Die boodskap wat Standard Bank vir sy kliënte gestuur het. Die naam van die kliënt is op die foto verwyder om haar identiteit te beskerm.
By navraag het Ross Lindstrom, woordvoerder van die bank, gesê state is gratis beskikbaar via verskeie digitale kanale. Die bank is besig om die meeste kliënte wat op standaardpos staatmaak, oor te skakel na e-pos.
Hy sê diegene wat steeds wil hê die posman moet hul state bring, moet die Opt out-opsie in die kennisgewing volg wat hulle via SMS ontvang.
Francois Cilliers, lektor in handelsreg aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê dit is twak om Popia voor te hou as rede dat kliënte moet afsien van gewone pos.
“Popia vereis dat verbruikers se persoonlike inligting beskerm word, maar dit vereis nie elektroniese kommunikasie nie. Wanneer die diensverskaffers wel elektroniese kommunikasie gebruik, vereis die wet bykomende veiligheidsmaatreëls.”
Cilliers sê dis verregaande om te verwag mense wat nie toegang tot die internet het nie, moet daarby inval.
Só ’n stap sal hul grondwetlike reg tot waardigheid en inligting skend.
Cilliers sê ook dit is nie net bejaardes wat sukkel met internettoegang nie. Die UV se regsfakulteit moes verlede jaar sowat 40% van sy studente help om toegang te verkry deur óf te betaal vir data óf toegang te reël tot internetpunte.
Prof. Sizwe Snail Ka Mtuze, kuberreg-kenner by die prokureursfirma Snail, sê mense wat geboelie word om oor te skakel na e-pos kan vriende of familie se e-posadres verskaf en dít maak hulle kwesbaar vir uitbuiting.
“Dit sal neerkom op diskriminasie,” sê hy, en gaan nié oor die beskerming van inligting nie.
FNB het aan Rapport gesê sy kliënte was al die teiken van skelms wat hul inligting via gewone én e-pos onderskep.
“Gevolglik het ons ’n program van stapel gestuur om die pos en e-pos van state te beperk.”
Volgens FNB veroorsaak die wagwoordbeskerming van e-posstate probleme as verskeie mense toegang tot die state moet verkry en dit is veiliger om sy internetdiens of app te gebruik.
FNB sal nog vir ’n tyd state e-pos na kliënte ouer as 60, terwyl die bank ’n doelgerigte poging aanwend om hulle touwys te maak oor veiliger en doeltreffender werkwyses.