Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Groot ongelukkigheid oor kortknip van WVF-toelaag

Al hoe meer stemme klink op teen die beëindiging van die Covid-19-Ters-voordeel aan mense wat nie tydens die voortslepende inperking kan terugkeer werk toe nie.

Die WVF gaan nie die Covid-19-Ters-voordeel tot 15 November verleng nie. Foto: Pixabay

Die departement van indiensneming en arbeid het onlangs aangekondig die voordeel het op 15 September ten einde geloop.

Dit is ondanks ’n regulasie in die Staatskoerant dat die hulp sal voortgaan so lank as wat die land in ’n ramptoestand weens die pandemie is. Die ramptoestand duur in dié stadium tot 15 November, maar die kans is baie groot dat dit verleng gaan word.

Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van die werkgewersorganisasie Neasa, sê Woensdag in ’n verklaring as die departement ophou om die voordeel te betaal, sal die Staatskoerant waarin die regulasie gepubliseer is, herroep moet word.

“Of dit wettig gedoen kan word, is te betwyfel, veral omdat baie werkgewers op grond van die regulasies werknemers wat weens die inperkingsregulasies nie kan werk nie, vooraf betaal het.”

Die Staatskoerant van 7 September waarna Papenfus verwys, stel dit dat die voordeel in plek sal bly “solank Covid-19 as nasionale ramp ingevolge die Nasionale Rampbestuurswet van 2002 voortduur”.

Die paragraaf gaan egter voort met “of totdat die minister dit terugtrek, wat ook al eerste kom.”

Business for South Africa (B4SA) het Sondag reeds in ’n verklaring gesê die staat behoort die voordeel te verleng vir so lank as wat die ramptoestand duur.

B4SA voer aan die WVF het meer as genoeg geld het om steeds die eise uit te betaal.

Sizwe Pamla, woordvoerder van Cosatu, het ook dié vakverbond se misnoeë uitgespreek in ’n onderhoud met die radiostasie 702.

Pamla sê vakbonde is glad nie gekonsulteer voordat die besluit geneem is nie. Hy vrees dat baie méér mense nou hul werk gaan verloor omdat werkgewers hulle nie kan betaal nie.

Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, het op 15 Oktober gesê daar kan net vir die tydperk tot 15 September geëis word. Enige besluit om die voordeel te verleng, sal eers geneem ná konsultasie met die regering, Nedlac en die WVF.

LEES OOK: B4SA: Hoekom word WVF-toelae nie verleng?

Hoewel die grootste deel van die ekonomie onder vlak 1 van die staat van inperking oopgestel is, is daar wel sommige sektore wat nog nie alle werkers weer kon terugroep nie.

Nagklubs bly steeds gesluit en drankwinkels kan nie oor naweke sake doen nie.

Groot sport- en kultuurbyeenkomste kan ook nog nie gehou word nie. Mense wat by dié byeenkomste werk, kan ook nog nie teruggaan werk toe nie.

Die departement van arbeid sê op 17 Oktober in ’n verklaring dat daar toe reeds meer as R51 miljard aan werkers uitbetaal is as deel van die skema.

Die WVF aanvaar nie meer eise vir die Covid-19-Ters-voordeel nie. Aansoeke het op 30 Oktober gesluit.

Die presidensie is ook genader vir kommentaar oor waarom die voordeel nie verleng word nie, maar het nog nie daarop gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.