Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Groot oorwinning vir mense met skuld
Suid-Afrikaners dra swaar aan skuld namate die ekonomie knyp en besteebare inkomste minder word. Foto: Getty Images

In ’n oorwinning vir mense met korttermynskuld het die hooggeregshof in Kaapstad Vrydag duidelik uitgespel hoe die Nasionale Kredietwet toegepas moet word.

Dit kan daartoe lei dat miljoene rande terugvloei na mense wat uitgebuit is deur gewetenlose skuldinvorderaars, prokureurs, banke, korttermynuitleners en kleinhandelaars wat allerhande ekstra koste laai namate hul kliënte al hoe dieper in die skuld beland.

Dis veral die reël dat die totale skuld wat iemand moet terugbetaal weens oplopende rente, regskoste en invorderingskoste nie meer as dubbel soveel as die oorspronklike leningsbedrag mag wees nie, waaroor die hof beslis het.

Die hofsaak is aanhangig gemaak deur Summit Financial Partners, die Universiteit Stellenbosch Regskliniek en tien verbruikers met skuld. Die respondente was die Nasionale Kredietreguleerder, die ministers van justisie en van handel en nywerheid, ’n paar prokureursfirmas, al die groot banke, ’n paar korttermynleners, regspraktisynsverenigings, die Bankvereniging van Suid-Afrika, die Verbruikersgoedereraad en die Menseregtekommissie.

Aansoekers se versoek:

Die aansoekers het vir ’n bevel gevra dat invorderingskoste soos gedefinieer in die Kredietwet ook regsgelde moet insluit, ongeag of dit regskoste is wat voor, tydens of ná regstappe aangegaan is.

Tweedens het hulle gevra die hof moet beslis dat die reël oor geen koste wat meer as dubbel die oorspronklike skuld mag wees nie, te alle tye van toepassing moet wees, ongeag of ’n skuldvonnis toegestaan is of nie.

Derdens het hulle gevra regsgelde mag nie gehef word totdat dit takseer is of oor ooreengekom is nie. Hulle het ook gevra die 10 verbruikers wat ook aansoekers in die saak is, se skuld moet herbereken word.

Die regter het op al drie punte in die aansoekers se guns beslis en ook beveel dat ’n onafhanklike kundige aangestel moet word om die tien verbruikers se skuld te herbereken. Hul betrokke kredietverskaffers moet enige geld binne sewe dae van die herberekening terugbetaal, en moet ook die aansoekers se regskoste betaal.

Die respondente het gevra vir verlof tot appèl.

Spiraal van skuld

Jenina Matthys, een van die aansoekers in die saak, het R5 600 by ’n korttermynlener geleen. Tot dusver het sy al R13 000 terugbetaal in die vorm van rente en allerhande ander invorderingskoste wat gehef is. Tog skuld sy steeds R13 300, volgens die korttermynlener.

Albert Kleinsmith het R6 000 geleen, het reeds R14 300 terugbetaal, maar skuld steeds R10 000.

Die aansoekers sê dié skuld het so toegeneem weens invorderingskoste waarvan regsgelde die grootste item is. Hulle het aangevoer die regsgelde is nie wettig en behoorlik aangegaan nie, want dit moes ingevolge die wet se definisie van invorderingskoste ingesluit gewees het, wat deur die wet beperk word tot nie meer as dubbel die oorspronklike leningsbedrag nie.

Kommentaar

Clark Gardner, uitvoerende hoof van Summit Financial Partners, het ná die uitspraak gesê die NKR wou nie hê die regskoste wat aangegaan word nadat ’n hofbeslissing oor agterstallige skuld gemaak is, moet ook deel vorm van die reël oor verdubbeling van skuld nie.

Stephan van der Merwe, senior prokureur en dosent verbonde aan die Universiteit Stellenbosch Regshulpkliniek, sê dis belangrik om nou ’n groepseis in te stel.

Enigiemand wat in die afgelope drie jaar meer betaal het vir regs- en invorderingskoste vir skuld as wat die hof nou beslis het, sal voordeel trek uit ’n groepseis.

Gardner sê hulle sal kan teruggaan na alle bestaande beslagleggingsbevele op hul kliënte en sal aftrekkings stop waar meer as dubbel die oorspronklike leningsbedrag gehef is.

Regsgelde wat gehef is, moet óf takseer word óf die geld moet terugbetaal word, het die hof nou beslis.

Elke beslagleggingsbevel van die afgelope drie jaar sal hersien kan word wat betref regskoste wat nie belas is nie. Dit kan daartoe lei dat sowat R5 miljoen in totaal terugbetaal kan word aan mense met skuldbeslissings teen hulle.

Van der Merwe meen die Regskliniek en Summit het met hul hofaansoek gehelp om die troebel water rondom die interpretasie van die Kredietwet te suiwer.

Gardner wys daarop die banke, uitleners en sekere prokureurs “geniet die troebelheid” rondom die Kredietwet se interpretasie, want elke bank en rolspeler volg die interpretasie wat hom pas.

“Ons het hulle nou ’n guns gedoen deur die toepassing van die wet duideliker te maak.”

Hulle hoop die uitspraak verbreek die ongelyke magsbalans in die korttermynleningsbedryf.

Hulle het steeds skerp kritiek teen die NKR. “Hoekom beskerm hulle die mense met diep sakke en nie die kwesbares nie?”

Sune van der Merwe van Sune van der Merwe Attorneys sê die uitspraak wys kredietverskaffers moet verantwoordelike uitleners wees.

Gardner benadruk die respondente in die saak het nie ontken dat die verlenging van krediet tot die weghol-tendens van aanvanklike skuld lei nie. “Hulle besef dit is ’n probleem.”

Hy het ook benadruk dat daar baie prokureurs is wat anders voel as die betrokke regsverenigings oor die saak, en wat besef hul mandaat as regslui is om aan mense toegang tot billike regsdienste en geregtigheid te gee.

Meer oor:  Krediet  |  Skuld  |  Nasionale Kredietwet  |  Kredietrekord  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.