Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Handel klein boedels so af
bates
Maak seker jy lys al die oorledene se bates. Foto: Unsplash

Vandag is die tweede rubriek in ’n reeks van vier oor boedels en trusts.

Ek gaan vandag voort om boedeljakkalsies te bespreek, soos hoe kleiner boedels werk (en hoekom jy dit moet weet), wie kragtens wetgewing ’n gade is, wat nie deel vorm van jou boedel nie en hoe onder­houds­eise werk. 

’n Kliënt se pa is oorlede en het ’n klein boedel wat kragtens art. 18(3) van die Boedelwet, no. 66 van 1965 (soos gewysig) hanteer word. Die totale markwaarde (nie versekeringswaarde) van die oorledene se bates op die datum van sy afsterwe was dus minder as R250 000. 

My kliënt is aangestel om die boedel af te handel (by wyse van ’n formele magtigingsbrief wat hy by die meester van die hooggeregshof gekry het). Hy het my hulp ingeroep en gevra of ek ook die “normale” 3,5%-eksekuteursgelde op die boedel sal vra. (Die 3,5% sluit belasting op toegevoegde waarde (BTW) uit.) 

Die antwoord is nee, om twee redes.

Eerstens, aangesien dié nie as ’n “gewone” boedel beskou word nie, is die gelde van 3,5% voordat BTW gehef word op alle bates van die oorledene (geen skuld word afgetrek in die berekening nie), nie van toepassing nie. Daar word ook nie ’n eksekuteur aangestel nie.

Iemand word bloot deur die meester gemagtig om beheer oor die boedelbates te neem, die oorledene se skuld daarmee te delg en om dan eiendomsreg van die restant van die boedel (indien daar is) aan die erfgename oor te dra (volgens die oorledene se testament, as daar ’n geldige testament was, of andersins kragtens die intestate erfreg, wat ek in die volgende rubriek sal bespreek).

Tweedens, daar is gewoonlik meer werk aan dié boedels en ek vra ’n minimum tarief van tussen R8 000 en R15 000 (afhangende van wat ek moet hanteer). Hierby hef ek vir enige bykomende werk ’n uurlikse tarief.

Die gemagtigde (of die oorledene se familie) is vir hierdie gelde  verantwoordelik, ongeag of daar genoeg kontant in die boedel is.Ek onderteken ’n kontrak en vra soms deposito’s voordat ek met die werk begin. 

My bykomende koste hang onder meer af van die volgende:

  • Watter bates is betrokke?
  • Is heelwat verkope van bates betrokke of behels dit meestal net ’n oordrag in ’n erfgenaam se naam? 
  • Hoeveel bankrekeninge het die oorledene gehad, wat elk met ’n afsonderlike besoek (of twee) by die betrokke bank gesluit moet word? 
  • Was die oorledene se belastingopgawes op datum? 

Kom ek gee ’n voorbeeld van ’n art. 18(3)-boedel. Al het jy nie self ’n klein boedel nie, sal jy dalk in ’n stadium met so ’n boedel van ’n kind of een van jou ouers moet help. As jou kind net begin werk het, en net ’n bankrekening en ’n motor in sy of haar naam het, kan dit maklik so ’n boedel wees. 

Lees my eerste rubriek en as jou kind nie groepsdekking by sy of haar werkgewer het nie, moedig jou kind aan om ’n klein polis uit te neem met sterftedekking (dit begin by selfs net R100 tot R150 per maand).

Met die werkonsekerheid weens die Covid-19-pandemie is dit miskien goed om in elk geval so ’n polis te hê. Dit leer jou kinders ook op ’n jong ouderdom dat polisse (en/of beleggings) van die begin van hul werkjare deel van hul begroting moet wees.

As jy aangestel is as gemagtigde vir so ’n klein boedel, kan jy (met navorsing en basiese administratiewe vaardighede) self ’n boedel aanmeld by die meester (besoek https://www.justice.gov.za/master).

Benewens die oorspronklike testament wat ingedien word, is daar ’n inventaris waar die oorledene se bates (onderskei tussen onroerende  eiendom soos ’n woonhuis en roerende eiendom soos ’n motor of aandele) en skuld gelys word. Dit moet die waarde aandui op die datum van afsterwe. Dit hoef nie 100% korrek te wees nie, maar moet baie duidelik aandui of die boedel kleiner of groter as R250 000 is. 

Op die formele magtigingsbrief wat uitgereik word, word die bates van die oorledene gelys. ’n Bank sal byvoorbeeld nie sommer ’n bankrekening sluit as die bank se naam en rekeningnommer nie op dié brief verskyn nie. Dieselfde geld die Suid-Afrikaanse Inkomstediens wat betref ’n belastingterugbetaling.

Jy gaan beslis nie aandele of beleggingsrekeninge oorgedra kry sonder dat dit op dié brief gelys is nie. Selfs met die oordrag van ’n voertuig kan jy probleme ondervind. As jy dus te gou die inventaris indien en later agterkom die oorledene het ook ander bates gehad, soos ’n tweede of derde bankrekening of aandele, moet jy die ou magtigingsbrief indien saam met ’n nuwe inventaris en met ’n geskrewe verduideliking waarom dit nie oorspronklik aangemeld is nie.

’n Nuwe magtigingsbrief word dan uitgereik aan dieselfde persoon, mits die boedel se waarde nie nou met die nuwe bates by (of met meer korrekte waardes op die datum van afsterwe), R250 000 of meer is nie. Om seker te maak die inventaris is volledig, probeer toegang kry tot ’n hele paar jaar van die oorledene se bankstate, belastingopgawes en belastingverwante dokumente.

Dividende wat ontvang is, impliseer daar is aandele; rente impliseer die een of ander vorm van ’n kontantbelegging en debietorders kan wys watter skuld, rekeninge of polisse die oorledene gehad het (lewenspolisse se uitbetalings sal ook as ’n bate geag word). 

Dit benadruk weer my advies om nooit bankstate, salarisstrokies en ander belangrike finan­siële dokumente weg te gooi of net vir vyf jaar te hou nie. As my kliënt se pa se boedel R250 001 was, sou hy nie meer self ’n aanstelling gekry het nie, maar sou hy ’n agent moes betrek (dit geld ook as die boedel onder R250 000 is, maar insolvent is). 

Op boedels van R250 000 en meer is daar ook eenmalige gelde aan die meester betaalbaar, naamlik: 

  • R600- vaste tarief vir boedels  van tussen R250 000 en R400 000; 
  • Vir boedels van meer as R400 000 is bykomende gelde betaalbaar van R200 vir elke volle R100 000 in waarde, tot ’n maksimum van R7 000.

Waar eksekuteursgelde net op die bates bereken word, mag jy wel skulde aftrek as jy die boedelbelasting bereken. Alle bemakings aan jou gade is vry van boedelbelasting, maar dit kan beteken dat jou gade, by sy of haar dood as jy eerste sterf, wel boedelbelasting gaan betaal. 

Een leser het gevra of hy sy pensioenfonds (waartoe hy nog bydra) in sy testament aan sy kinders kan bemaak in plaas van sy gade. ’n Pensioenfonds (enige aftreefondse, ingesluit aftreeannuïteite) vorm nie deel van jou boedel nie en kan ook nie in jou testament bemaak word nie. Jy mag jou kinders in jou aftreefonds begunstig, maar die trustees van die fonds besluit uiteindelik wie die geld kry.

As jy die broodwinner was en jou gade was ten volle finansieel van jou afhanklik wanneer jy sterf, is die kans goed dat jou gade die volle bedrag sal ontvang. 

Oor 'gades' en onderhoudeise
Onthou dat ’n gade se definisie verskil in verskillende wette. Volgens ons inkomstebelastingwetgewing is ’n gade ook ’n persoon saam met wie jy bly, maar dit moet duidelik ’n verhouding wees wat bedoel is om permanent te wees.
Hoewel daar ook vergunnings in die boedelbelastingwet is vir mense wat saamwoon, is dit nie outomaties dat daardie persoon jou boedel se enigste erfgenaam is nie (en onderhoudseise word nie toegelaat vir ongetroudes nie). Maak dit in jou testament duidelik wie moet erf, en wat elkeen moet erf. 
Geldige onderhoudseise is waar ’n eks-gade of kind kragtens ’n egskeidingsbevel ’n eis teen die oorledene se boedel indien. Die eksekuteur kan die eis bereken, maar ek verkies om ’n aktuaris se dienste te gebruik.
As daar nie genoeg kontant of bates is nie, kan die eiser met die eksekuteur skik op ’n kleiner bedrag. Die eis sal afhang van hoe oud die eks-gade of kinders is en vir watter uitgawes die oorledene voor sy dood verantwoordelik was.
Die eis kry voorkeur bo bemakings aan ander erfgename. 
My raad as jy geskei is, is om voort te gaan om jou eie boedel op te bou en nie te veel  op sulke onderhoudseise staat te maak nie.
Daar is geen waarborg dat daar genoeg kontant (of bates) in die oorledene se boedel sal wees om jou eis te kan betaal nie.
  • Charné van der Walt (The Lemon Lady), is ‘n finansiële raadgewer en belastingpraktisyn in Stellenbosch. Kontak haar by info@lemons.co.za met vrae vir opvol-gende rubrieke (geen regstreekse advies beskikbaar). Die artikel is in leketaal geskryf en bevat nie spesifieke of persoonlike raad nie. Sy skryf gereeld vir Sake.
Meer oor:  Charné Van Der Walt  |  Aftrede  |  Boedels  |  Aftreefonds  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.