Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Hartsiektes: R800 miljoen ná sterftes geëis

Suid-Afrikaners se swak harte het Sanlam in 2018 miljoene rande uit die sak gejaag.

Hartkwale en kanker noop al hoe meer Suid-Afrikaners om van hul versekering te eis. Foto: Pixabay

Die langtermynversekeraar sê 25% van die eise wat hy vir lewensversekering betaal het, was vir mense wat weens kardiovaskulêre oorsake dood is.

Die waarde van dié eise beloop sowat R800 miljoen van die R3,2 miljard wat hy in 2018 aan lewenseise uitbetaal het.

Sanlam het Dinsdag die nuutste syfers bekend gemaak oor hoe hy in 2018 eise betaal het.

  • Hy het in totaal R3,9 miljard se eise uitbetaal:
  • R3,2 miljard vir lewensversekering;
  • R329 miljoen aan inkomsteversekering; en R323,5 miljoen se korttermyn-ongeskiktheidsbetalings weens trauma (insluitend ernstige siektes) of besering.

Karin Muller, uitvoerende hoof van Sanlam se afdeling vir individuele lewensversekering, sê dit is kommerwekkend om te sien hoe eise weens hartkwale toegeneem het.

Sy sê in ’n verklaring dié syfer is in pas met die syfers van die Hartstigting wat wys kardiovaskulêre siektes is die tweede grootste oorsaak van natuurlike sterftes in Suid-Afrika. Dit word net deur MIV/vigs geklop.

Luidens die Hartstigting se syfers van 2017 gaan sowat 225 Suid-Afrikaners elke dag weens hartkwale of beroerte dood.

Dr. Marion Morkel, mediese hoof by Sanlam, sê Suid-Afrikaners se lewenstyl is die rede waarom hulle met hul hart sukkel. “As ons nie die onderliggende probleem van vetsug en hipertensie oplos nie, gaan hierdie probleem voortduur,” waarsku sy.

Ongelukke

Naas hartkwale was ongelukke (18%) die tweede grootste rede hoekom mense lewensversekering in 2018 geëis het. Van dié eise was 39% weens motorongelukke en 16% weens aanranding.

Ongelukke (21%) was ook ’n groot rede hoekom mense korttermyn-ongeskiktheidsversekering geëis het as deel van inkomsteversekering omdat hulle vir ’n tyd lank nie kon werk nie. Die afgelope vier jaar was ongelukke die rede vir 50% van alle eise van dié aard.

Kanker

Wat betref enkelbedrag-ongeskiktheidseise, was kanker (25%) – net soos by Sanlam se mededinger Liberty – die grootste rede vir uitbetalings.

Kanker (61%) was ook die grootste rede vir eise wat onder die afdeling van gevreesde siektes betaal is.

Net soos in die geval by Liberty het mans hoofsaaklik vir prostaatkanker (33%) en vroue vir borskanker (31%) geëis. Die meeste van die kliënte wat dié voordeel geëis het, was 46 jaar of ouer.

Rûe en skelet

Buiten vir kanker het Sanlam se kliënte meestal ongeskiktheidseise ingedien weens probleme met hul rûe, skelet, gewrigte en bindweefsel.

Die meeste van dié eise is deur kliënte tussen 36 en 55 jaar oud ingedien.

Vroue (39%) het ook veral om dié rede korttermyn-eise as deel van inkomsteversekering ingedien omdat hulle weens ’n rug- of verwante kwaal nie kon werk nie.

Meer oor:  Sanlam  |  Liberty  |  Ongeskiktheidsdekking  |  Selfdood  |  Lewenspolis  |  Hartaanval  |  Gevreesde Siektes  |  Kanker  |  Lewensversekering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.