Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
‘Help!’ Verbruikers sukkel geldelik én emosioneel

Suid-Afrikaners worstel met die finansiële én emosionele impak van die Covid-19-pandemie.

Baie Suid-Afrikaners se spaarvarkies is leeg getap vir die Covid-19-krisis. Foto: Unsplash

Die skuldberadingsfirma Debt Rescue het pas bevind 85% van Suid-Afrikaners benodig hulp – finansieel, emosioneel of albei.

Verskeie peilings en studies het die afgelope weke die lig gesien oor die enorme geldelike nood wat die inperking vir derduisende huishoudings en ondernemings meegebring het. Selfs mense wat nié hul werk verloor het nie, beleef enorme stresvlakke.

Debt Rescue het bevind 96% van Suid-Afrikaners is bekommerd oor hul gesondheid, hul geldsake of albei. Die peiling is middel Julie deur sosiale media gedoen en 1 040 mense het daaraan deelgeneem.

Old Mutual se Spaar- en Beleggingsmonitor vir 2020 het onlangs bevind die gesondheid van hul geliefdes is mense se enkele grootste bekommernis. Vlakke van finansiële stres het egter opgeskiet – 58% van Suid-Afrikaners beleef nou uiterste of hoë vlakke van finansiële stres, teenoor 38% verlede jaar.

Debt Rescue het bevind 55% van mense het finansiële hulp nodig, maar het geen toegang tot krediet nie.

Neil Roets, uitvoerende hoof van Debt Rescue, sê die bevindings van die peiling is vir hom uiters ontstellend.

“Ons weet al ’n rukkie lank dat dit sleg gaan, maar die resultate van die peiling laat my sprakeloos. Dit wys baie duidelik en volstrek dat bykans die hele bevolking van hierdie land diep in die moeilikheid is en geen idee het waar of hoe hulle hulp gaan kry nie.”

Onder die ontstellendste bevindings van die Debt Rescue-peiling is dat net 26% van mense wat vir ’n betaalvakansie aansoek gedoen het, dit ontvang het.

Dis onduidelik waarom dié persentasie so laag is, maar dit kan verband hou met wie in die peiling uitgevra is. Banke het betaalvakansies streng gekeur volgens mense wat wel deur Covid-19 geraak is én wat ’n goeie betaalgeskiedenis gehad het voor die terugslag.

Old Mutual het bevind 63% van mense wat vir ’n betaalvakansie op hul huislening aansoek gedoen het, het dit ontvang; 57% op hul kredietkaart en 53% op hul persoonlike lening.

Debt Rescue bevind dat net 11% van respondente weer hul normale paaiemente sal bekostig wanneer hul betaalvakansie eindig. Die finansiële webwerf JustMoney het onlangs bevind 28% van mense sal nie ernstige finansiële nood bevind aan die einde van hul betaalvakansie nie.

Debt Rescue het bevind 51% van mense het geen spaargeld waarop hulle kan terugval nie.

Roets sê daar was ’n skerp styging in die aantal navrae oor mense wat skuldhersiening oorweeg. Skuldhersiening keer dat krediteure beslag lê op eiendom of hofsake bring terwyl ’n nuwe afbetalingsplan vir verbruikers beding word.

Roets sê hoewel die verlaging van die rentekoers verlede week met nog 25 basispunte ’n klein bietjie verligting vir mense met skuld beteken, gaan dit dié maand deels uitgekanselleer word deur die styging in brandstofpryse. Die huidige onderverhaling (dus dreigende styging) op 95-oktaan-petrol beloop tans 13c per liter en op diesel tussen 51c en 52c per liter.

Nog bevindings van Debt Rescue se peiling is:

  • 45% van respondente is geraak deur aflegging, tydelike aflegging of die vermindering van hul salaris;
  • 16% kon op krediet staatmaak om hulle deur die krisis te kry, maar 55% het geen toegang tot krediet gehad nie;
  • 51% het geen spaargeld gehad om op terug te val nie;
  • 36% moes hul spaargeld vir die krisis gebruik;
  • 74% volg steeds die nuus, maar 16% voel die nuus word te veel om te verwerk; en
  • 23% is nog nie terug by die werk nie, en baie van hulle is onseker wanneer hulle sal kan terugkeer.

Roets se raad vir verbruikers wat sukkel, is om besteding tot op die been te sny. Hulle moet alles moontlik doen om skuld met ’n hoë rentekoers (winkelrekeninge, kredietkaarte en persoonlike lenings) so gou as moontlik terug te betaal.

Meer oor:  Debt Rescue  |  Neil Roets  |  Krediet  |  Skuld  |  Verbruikers  |  Huishoudelike Inkomste  |  Spaargeld  |  Betaalvakansie  |  Spaar  |  Geldsake  |  Lenings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.