Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Het jy al gekyk of jóú geld verdwyn?

Net in die afgelope jaar het skelms meer as 40 miljoen ongemagtigde debietordertransaksies deur Suid-Afrikaanse banke gevoer en só sowat R5 miljard van niksvermoedende bankkliënte ingepalm. Toe Inge Kühne onlangs ontdek sy is ook die slagoffer van ’n debietorderslenter, het sy ondersoek ingestel.

Net in die afgelope jaar het skelms meer as 40?miljoen ongemagtigde debietordertransaksies deur Suid-Afrikaanse banke gevoer.

Die aftrekking sou maklik ongesiens verbygegaan het. Dis R124 – min genoeg om bankkoste of iets te wees. En die verwysingsnommer verklap niks: EPIC3INTERGLO . . . en dan ’n lang rits nommers. Ek was toevallig op soek na ’n ander transaksie op my bankstaat toe ek die twee aftrekkings opmerk.

Ek begin by my bank, Nedbank. Hulle verwys my na FNB. FNB sê hulle weet daar niks van nie. Terug na Nedbank. Dié keer kry ek ’n nommer vir QSure. QSure verwys my na Warranty Solutions en Warranty Solutions verwys my na Interglobal Technologies.

Die middag is in sy maai.

Nog voordat ek laasgenoemde kan bel, is die R248 vir die twee transaksies terug in my bankrekening. Ek moet wel R5 per transaksie betaal vir dié "diens".

Maar hoe gemaak om te keer dat dit weer gebeur?

Die bank bied aan om die debietorder vir drie maande vir my te stop. Die een amptenaar sê dit kos R26 en die ander R60, maar albei waarsku my as die persoon wat die debietorder aangevra het enige besonderhede verander, sal die aftrekking steeds deurgaan. Vat so, verbruiker!

Hoe kry wildvreemdelinge met wie ek nog nooit enige sake gedoen het nie sommer net so ’n debietorder teen my rekening ingestel?

Die persoon wat die telefoon by Interglobal Technologies antwoord, kan eers geen spoor van die twee transaksies vind nie. Ná ’n vreeslike heen-en-weer blyk dit ek betaal vir ’n versekeringspolis, en nie sommer enige polis nie. Dis ’n begrafnis-én-bande-polis. “So, as ek doodgaan, betaal die polis uit? En as my motor se bande iets oorkom, betaal die polis ook uit?” vra ek verstom.

Presies so, ja.

Ek het nog nooit in my lewe van so ’n polis gehoor nie, en nog minder het ek toestemming gegee dat die betaling daarvoor van my rekening afgetrek kan word.

Die vrou gee my gelyk. Die polis is in ’n mnr. Fanga se naam, sê sy.

Die aftrekking vir September soos dit op die bankstaat verskyn.

’n Uur later bel Vani Reddy, woordvoerder van Interglobal Technologies. Dit was net ’n glips, sê sy. Iemand het per abuis ’n enkele verkeerde syfer ingetik toe hulle die aftrekorder van ’n regmatige kliënt se bankrekening wou aanvra.

So: Verlang die bank dan niks anders as ’n rekeningnommer voordat hulle my geld aan iemand oorbetaal nie? Nie eens my naam nie?

Wat keer enigeen dan om rekeningnommers uit te dink en debietorders op daardie nommers deur te sit? Dit klink vir my soos ’n lotto vir kroeks!

Die bank se twee terugskrywings en Interglobal Technologies se ruim terugbetaling.

Laatmiddag kry ek ’n kennisgewing op my foon. Interglobal Technologies het R300 in my bankrekening inbetaal. Dis die eerste keer in my lewe dat ’n onderneming ’n fout met my rekening maak en my dan só gou só dubbel en dwars daarvoor vergoed.

Vroegoggend bel Reddy om te vra of ek my geldjie gekry het. Ek sê dankie, maar nee dankie en vra vir ’n bankrekeningnommer waarin ek die geld kan terugbetaal.

O, voeg Reddy by. Hulle het die saak verder ondersoek. Dit was toe nooit net ’n foutjie nie – dit was bedrog. Iemand in hul oproepsentrum het die debietorder gelaai. Hulle weet nie waar die ou aan my gegewens gekom het nie en hulle het hom reeds afgedank.

Sy verseker my hulle is besig met ’n volledige ondersoek om te sien of daar nóg sulke foute was.

Mark Williamson, hoofbestuurder van Warranty Solutions, sê hulle het nog nooit enige klagtes oor Interglobal Technologies gekry nie.

Ian du Toit, bedryfsbestuurder van QSure, sê hulle het al vantevore klagtes oor ongemagtigde debietorders van Warranty Solutions gehad. Dié het toe onderneem om die probleem te takel.

Nou het QSure sy dienskontrak met Warranty Solutions beëindig.

Warranty Solutions sê hy het ’n moniteringstelsel en hy tree op as hy agterkom die getal ongemagtigde transaksies oorskry die “aanvaarbare norm”.

Nedbank sê FNB moet optree omdat die ontvanger van die geld (QSure) ’n FNB-kliënt is. Nedbank was wetlik verplig om die geld uit my rekening oor te betaal omdat hy ’n debietorder-opdrag gekry het, sê Joanne Isaacs, Nedbank se woordvoerder.

Ek hét FNB gebel, maar die persoon by die oproepsentrum verwys my terug na Nedbank.

Die Betalingsvereniging van Suid-Afrika (Pasa) sê banke is veronderstel om verdagte kliënte by hom te verkla. As iemand geneig is om ongemagtigde transaksies uit te voer, kan die bank sy debietorder­fasiliteit opskort. In die bankwêreld word dit ’n “exit” genoem, wat vir my klink na ’n baie vriendelike opsie vir iemand wat ’n gewoonte daarvan maak om dié soort ding te doen.

Patricia Naicker, woordvoerder van Pasa, sê sy weet van geen klagtes wat hulle oor Epic Interglo, QSure of Interglobal Technologies ontvang het nie.

’n Week of wat later stuur Mark Williamson van Warranty Solutions vir my ’n bandopname wat glo gemaak is van die oproep waartydens my inligting misbruik is.

’n Wildvreemde vrou gee op die opname my naam, ID-nommer en bankbesonderhede aan die oproepsentrum-werknemer wat later afgedank sou word. Daar is ook ’n inskrywing in die voorvalleboek by die Phoenix-polisiekantoor met die besonderhede van my geval, soos aangegee deur Interglobal Technologies.

Of enige hiervan sou gebeur het as ek nie nóg twee dae op die foon deurgebring het om aan te dring op antwoorde nie, is enigeen se raaiskoot.

Stelsel 'werk'

Danksy prosesse wat Pasa in samewerking met die banke ingestel het, is 333 bankkliënte se debietorderfasiliteite in die 18 maande tot September 2020 opgeskort. Dié kalante sou in ’n jaar na raming 40 miljoen transaksies ter waarde van meer as R5 miljard deurgevoer het.

Die bankombud het volgens Kwanda Vabaza, sy kommunikasiebestuurder, die afgelope jaar 156 klagtes oor ongemagtigde debietorders ontvang. In meer as die helfte van dié gevalle het hy in die guns van die kliënt beslis.

Hy bevestig dat eisers geen bewys van die mandaat vir ’n debietorder hoef voor te lê voordat die bank jou geld vir hulle gee nie.

Die volume van debietorders is so groot (55 miljoen betalings per maand met ’n waarde van meer as R80 miljard) dat dit onmoontlik is om voor elke transaksie ’n bewys van magtiging na te gaan. Daarom word geen bewys van magtiging vereis tensy die kliënt die debietorder betwis nie.

As jy dit betwis, moet die eiser ’n skriftelike bewys hê dat jy vir hom ’n mandaat gegee het, of ’n stemopname wat agterna op skrif bevestig is.

Minder as 3% van debietorders word betwis. “Die debietorderstelsel werk en dit werk al vir baie jare,” sê Vabaza. Maar dit werk net as bankkliënte hul bankstate getrou nagaan en alle vreemde aftrekkings betwis.

Daar is ’n plan in die vooruitsig. DebiCheck is ’n hoogs gesofistikeerde stelsel wat die Reserwebank in samewerking met Pasa ontwikkel het teen ’n koste van R5 miljard. Dit sal bankkliënte in staat stel om debietorders op hul selfone goed te keur voordat dit deurgevoer word.

Die stelsel sou einde Oktober ten volle in werking gewees het, maar dis weens Covid-19 met ’n jaar uitgestel.

“Totdat alle debietorders nie deur DebiCheck verwerk word nie, is daar niks wat skelm gebruikers keer om bedrieglike debietorders deur te voer nie,” sê Vabaza.

Dis hoe maklik dit vir ’n skelm was om my geld in die hande te kry:

  • Interglobal Technologies bedryf oproepsentrums in Durban van waar hulle verskeie produkte soos versekeringsprodukte en sogenaamde add-ons verkoop (dis klein bykomende polisse wat telefonies gesmous word). Iemand by Global Technologies aktiveer sonder my toestemming ’n debietorder in my naam.
  • Warranty Solutions, ’n onderneming in Fairland, Johannesburg, ontvang die debietorderopdrag van Interglobal Technologies en stuur die opdrag aan QSure. Warranty Solutions administreer volgens sy hoofbestuurder, Mark Williamson, allerlei motorverwante versekeringsprodukte soos waarborge (warranties) en diensplanne.
  • QSure stuur die debietorderopdrag aan die bank (in dié geval FNB). QSure is ’n gemagtigde finansiëlediensteverskaffer. Die meeste van sy kliënte is korttermynversekeraars vir wie hy premies invorder, sê Ian du Toit, bedryfsbestuurder. QSure is dus ’n tussenganger tussen die bank en die onderneming vir wie hy die geld invorder.
  • Banke is kragtens wet verplig om die geld vir debietorders te verhaal.
  • Nou is die kanaal gevestig. Elke maand op ’n bepaalde dag sal die bedrag van my rekening afgetrek word tot die dag wanneer ek die aftrekkings toevallig opmerk. Sou ek dan die moeite doen om navraag te doen, word die geld blitsig terugbetaal, maar die transaksiekoste is vir my rekening.
Meer oor:  Fnb  |  Nedbank  |  Bankbedrog  |  Banke  |  Bankbedryf  |  Banksake  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.