Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Hoe om slim te bie op veilings

Al hoe meer Suid-Afrikaners het die afgelope jaar op alledaagse gebruiksartikels begin bie om hul rande te probeer rek.

Veilings is nie net ryk mense beskore nie. Daar is selfs iets vir iemand met net R20 in sy sak. Foto: Witness MEdia

Craig Lubbe, uitvoerende hoof van Bidorbuy, aanlyn afslaer en e-handelwebwerf, sê verbruikers bie deesdae op goedere wat hulle ewe maklik in ’n winkel sou kon koop. “Ons het met die uitbreking van Covid-19 gesien die getal artikels wat verkoop word, het dramaties toegeneem, maar die waarde daarvan het gedaal. Mense soek na winskopies.”

Bidorbuy bied ’n platform vir verkopers en kopers van ’n verskeidenheid artikels – van duur versamelstukke, juwele en antieke goed tot klere, speelgoed en elektroniese toerusting.

Lubbe se raad aan bieërs is om nooit ’n te lae aanvangsbod te maak nie. “Dit klink amper teenintuïtief, want dit is die aard van veilings om laag te begin. Maar ’n mens moet verstaan wát jy koop. As jy R1 op ’n iPhone bie, gaan dit nie joune wees nie. Mense moet ’n algemene begrip hê van wat hulle koop en wat hulle bereid is om daarvoor te betaal.”

Selfs op Bidorbuy se Crazy Wednesday-veilings verkoop artikels nooit teen onrealistiese pryse nie, al is die minimum aanvangsbedrag R1, sê Lubbe.

Hy raai bieërs aan om wanneer potensiële kopers hoër bie, gereed te wees om ’n soortgelyke bod te maak. “Dit is ’n sielkundige strategie wat jou mededingers laat glo jy is nie bereid om bes te gee nie.”

Maar moenie te vinnig te hoog bie nie, want jy moet ruimte laat om vir groter bedrae teen ernstige kopers te bie.

Bieërs moet hulle vergewis van die verkopers se versendingskoste wanneer hulle op ’n artikel bie en dit deel maak van die prys wat hulle bereid is om te betaal.

Ciena Bester, eienaar van 4 Auctions in Oos-Londen in die Oos-Kaap, behartig aanlyn sowel as fisieke veilings.

Omdat mense steeds skrikkerig is om Covid-19 op te doen, het die bywoning van fisieke veilings nog nie tot die vlakke van voor die pandemie herstel nie, maar dit begin stelselmatig toeneem.

Volgens Bester is veilings die juiste manier om te bepaal wat ’n artikel werklik werd is. “Kopers sal byna nooit meer bie op ’n artikel as wat hulle meen dit werd is nie.”

Bieërs moet daarop let dat hulle die geld wat hulle bereid is om te betaal as’t ware in hul sakke moet hê. “Jy kan nie bie op iets wat onderworpe is aan goedkeuring van jou bank nie.”

Bester is reeds byna tien jaar ’n afslaer en sy het haar eie onderneming in 2017 begin. Sy behartig fisieke en aanlyn veilings, maar haar voorkeur is fisieke veilings omdat sy die gevoel en energie van die bieërs kan “lees”.

Volgens haar is die ideale veiling een waar die voorraad sodanig is dat kopers bereid is om hoër te bie, waar kopers kontant beskikbaar het en waar verkopers genoeg wins maak.

Haar raad aan verkopers – spesifiek op aanlyn veilingsplatforms – is om die artikel wat hulle verkoop deeglik te beskryf en goeie foto’s daarvan te neem. “Onthou, voornemende kopers kan die artikel nie fisiek besigtig soos met fisieke veilings nie.”

Lubbe sê verkopers moet ook so vroeg moontlik hul artikels lys sodat voornemende bieërs ’n voorskou van die prys en die beskrywing daarvan kan kry.

Aanlyn veilings verg meer beplanning en bemarking van die afslaer en die verkoper, sê Bester. “Met fisieke veilings kan jy nog ’n dag of twee voor die tyd nuwe artikels tot die veiling toevoeg, maar met aanlyn moet dit 14 dae voor die tyd reeds gereed wees.”

’n Algemene wanopvatting is dat veilings slegs beskore is vir mense wat in die geld swem. Aanlyn veilings is wel gewilder onder middel- tot hoërinkomstegroepe, maar fisieke veilings bied baie geleenthede vir mense wat minder geld het.

“Daar kan byvoorbeeld iemand wees met R20 in sy sak wat wel suksesvol op iets kan bie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.