Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Hoe werk sakeredding, en kan dit die SAL red?

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) is Donderdag in sakeredding geplaas. Maar presies wat behels die proses en wat is die vooruitsig dat die SAL inderdaad “gered” kan word? Hier is 15 dinge wat jy oor sakeredding moet weet.

Die SAL is Donderdag in sakeredding geplaas.Foto: Bloomberg

1. ’n Laaste kans

Sakeredding is ’n proses waar daar ’n laaste kans gegun word om ’n maatskappy wat nie meer sy skuld kan betaal nie, en wat ’n goeie kans het om binne ses maande insolvent te word, weer volhoubaar aan die gang te kry.

2. Wie besluit oor sakeredding?

Alle belanghebbendes, van die direksie van ’n maatskappy en sy aandeelhouers tot krediteure, vakbonde en/of werknemers kan ’n aansoek doen dat ’n maatskappy in sakeredding geplaas kan word. Die verskillende partye kan egter ’n verskillende doelwit hê: byvoorbeeld sal krediteure hul geld wil hê terwyl werknemers hul werk wil behou.

In die geval van die SAL-sakeredding het politieke partye soos die SAKP en van die vakbonde reeds gesê ’n prioriteit van die sakeredding moet wees om werknemers se poste te behou.

3. Vrywillig vs. hofbevel

’n Maatskappy kan self besef sy finansies is van só ’n aard dat hy sakeredding moet oorweeg indien hy nie regstreeks gelikwideer wil word nie. In dié geval kan die maatskappy dan ’n aansoek by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) indien. Die CIPC is ’n instelling onder toesig van die departement van handel en nywerheid. Dit is presies wat die SAL Donderdag gedoen het.

Ander belanghebbendes kan egter ’n maatskappy dwing om in sakeredding te gaan deur ’n aansoek by die hooggeregshof in te dien. Dit is wat die vakbond Solidariteit beplan het om te doen voordat die SAL self tot die besluit gekom het.

4. Hoe werk vrywillige sakeredding?

Wanneer ’n maatskappy besluit om vrywillig aansoek om sakeredding te doen, moet hy die nodige dokumente op die CIPC se webtuiste aflaai, dit invul en saam met die nodige dokumente indien. Dit sluit in onder meer:

  • ’n beëdigde verklaring vir die redes vir die aansoek;
  • aanduiding van wat die hoofdoel van die maatskappy is en sy amptelike telling wat betref openbare belang soos uiteengesit deur die CIPC;
  • die amptelike besluit deur die maatskappy wat aankondig hy gaan in sakeredding;
  • ’n brief waarin ’n sakeredder genomineer word; en
  • ’n brief van die sakeredder dat hy die nominasie aanvaar.

Dié dokumente word dan aan die CIPC per e-pos gestuur.

Die proses word volledig op die CIPC se webtuiste uiteengesit.

5. Wat gebeur ná die aansoek?

Sodra ’n aansoek by die CIPC ingedien is, óf nadat ’n hofbevel uitgereik is waarin ’n belanghebbende se aansoek goedgekeur is, moet ’n sakeredder binne vyf werksdae aangestel word.

6. Hoeveel mag het die sakeredder?

Die sakeredder neem totale beheer van die maatskappy. Hy of sy kan kontrakte sluit of kanselleer en mense aanstel of uit diens stel, om ’n paar te noem. Hy of sy kan selfs direkteure vervang. Direkteure moet alle besluite eers deur die sakeredder laat goedkeur voordat dit deurgevoer kan word.

7. Wat is die taak van die sakeredder?

Die sakeredder moet eerstens binne tien dae besluit of die maatskappy gered kan word of nie. Indien nie, word likwidasieprosedures begin. Indien wel, moet hy of sy ’n sakereddingsplan saamstel.

Die plan behels hoe die skuld van die maatskappy bestuur gaan word en hoe die maatskappy en kontrakte herstruktureer moet word. Deel van ’n plan kan ook byvoorbeeld wees dat sekere bates verkoop moet word.

Die plan moet dan aan krediteure voorgelê (gepubliseer) word. ’n Amptelike vergadering word belê waar krediteure kan stem of dit aanvaar word of nie. Die gewig wat die onderskeie krediteure se stemme tel, word vooraf bepaal afhangende van hoeveel geld die maatskappy hulle skuld.

8. Wat gebeur as die plan afgekeur word?

Krediteure het die volle reg om ’n sakereddingsplan af te keur. Die sakeredder sal dan verplig wees om die proses van voor af te begin deur ’n nuwe of hersiene plan op te stel, dit te publiseer, ’n vergadering te belê en dan goedkeuring daarvoor te kry.

9. Wat gebeur as daar nie aan die voorwaardes van die plan voldoen word nie?

Daar is altyd voorwaardes waaraan die implementering van ’n sakereddingsplan onderhewig is. Sou krediteure ’n plan goedkeur, maar daar word dan later nie aan die nodige vereistes voldoen nie, kan die plan tersyde gestel word en kan die maatskappy dan steeds gelikwideer word.

10. Is die spertye onderhandelbaar?

Sakeredders kan aansoek doen by die hof en/of CIPC vir uitstel op spertye.

11. Hoekom in sakeredding gaan en nie self planne beraam nie?

Die groot voordeel van sakeredding is dat wanneer ’n maatskappy hom in dié situasie bevind, kan geen regsaksie teen hom gebring word oor skuld nie en kan daar ook geen aansoeke gebring word dat hy gelikwideer moet word nie.

Sakeredding bied ook die geleentheid waar ’n eksterne kenner wat spesialiseer om maatskappye reg te ruk kan ingryp en met nuwe idees en voorstelle kom om die maatskappy te red.

12. Aan wie doen ’n sakeredder verslag?

Wanneer ’n maatskappy vrywillig om sakeredding aansoek gedoen het, doen die sakeredder verslag aan die CIPC. Indien dit deur ’n hofbevel ingestel is, doen die sakeredder verslag aan die hof. Indien sakeredding nie binne drie maande afgehandel is nie, moet daar maandeliks verslag gedoen word oor die vordering van die proses.

13. Werk sakeredding regtig?

Sakeredding is nie noodwendig suksesvol nie. Inteendeel, luidens statistieke wat onlangs deur die CIPC bekend gestel is, is net 571 oftewel 17% van die 3 289 maatskappye gered wat in die agt jaar tot 1 Junie 2019 aansoek om sakeredding gedoen het. Uit dié getal is 1 275 steeds in sakeredding terwyl 400 gelikwideer is. By die res van die gevalle is die proses beëindig of was daar wettige redes hoekom dit tersyde gestel is of nie eens erken is nie.

14. Kan daar van sakeredder verander word?

Sou belanghebbendes nie tevrede wees met die werk wat ’n sakeredder doen nie, kan hulle aansoek doen by ’n hof om die redder te vervang. Solidariteit dreig juis dat sou hy vind dat die regering die sakeredder wat by die SAL aangestel is voorsê, sal hy regsaksie oorweeg om ’n ander sakeredder te laat aanstel. Les Matuson is by die SAL aangestel.

15. Word die sakeredder betaal?

Ja. ’n Ooreenkoms word vooraf gesluit oor hoe die sakeredder vergoed sal word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.