Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Hoër belasting ‘ons voorland’ in 2020
Peter Worthington

Suid-Afrikaners gaan waarskynlik hul gordels in 2020 nóg stywer moet trek.

“Diegene van ons wat nog werk het, gaan waarskynlik in die komende jaar nog hoër belasting betaal,” sê Miyelani Maluleke, senior ekonoom by Absa.

Hy en Peter Worthington, nog ’n senior ekonoom van Absa, het Dinsdag hul vooruitsig vir die land se ekonomie aan die media voorgelê op ’n gespreksessie in Sandton.

Maluleke sê hul verwagting is dat Tito Mboweni, minister van finansies, geen ander keuse gaan hê as om nuwe of bykomende belasting einde Februarie in sy begrotingsrede bekend te maak nie.

Mboweni lewer sy begrotingsrede op 26 Februarie in die parlement.

Absa voorspel onder meer dat belasting op toegevoegde waarde (BTW) weer met een persentasiepunt tot 16% verhoog gaan word. Die BTW-koers is in 2018 van 14% tot 15% verhoog.

Worthington sê hoewel dit ’n drastiese stap is, kan hy nie sien waar anders die staat geld in die hande gaan kry nie.

Hy sê so ’n BTW-verhoging, tesame met ander belastingverhogings, kan die staat ’n bykomende R35 miljard in die sak bring. Die bank verwag ook dat die brandstofheffing met 30c per liter verhoog gaan word.

Dié heffing beloop tans R3,37 per liter.

Maluleke sê daar is nie veel hoop dat die verbruiker die land se ekonomie in 2020 ’n hupstoot gaan gee nie.

“Dit is moeilik om te sien waar werk geskep gaan word. En mense wat wel werk het, se besteebare inkomste groei baie stadiger as voorheen.”

Miyelani Maluleke

Vierde kwartaal se ekonomiese groei

Hoewel Absa nie verwag dat die ekonomie binnekort ’n tegniese resessie gaan beleef nie, voorspel hy ook nie beduidende groei in die toekoms nie. ’n “Tegniese resessie” verwys na twee opeenvolgende kwartale se negatiewe ekonomiese groei op ’n kwartaalgrondslag. Statistieke Suid-Afrika (SSA) maak eers op 4 Maart bekend of die ekonomie in die vierde kwartaal van verlede jaar gegroei of gekrimp het. Dié syfers sal die SSA in staat stel om die algehele groei vir die jaar te bereken.

Absa verwag wel dat die ekonomie in die vierde kwartaal gegroei het, ondanks beurtkrag in Desember.

“Ons verwag dat die ekonomie met sowat 0,4% in die vierde kwartaal gegroei het op ’n kwartaalgrondslag,” sê Maluleke.

“Onthou, dit was die feestyd en baie maatskappye en nywerhede het in elk geval in dié tyd bedrywighede afgeskaal. Ons verwag dus nie dat beurtkrag ’n beduidende invloed op ekonomiese groei gehad het nie.”

Absa het sy algehele groeiverwagting vir 2019 tot net 0,3% aangepas teenoor die 0,4% wat hy voorheen verwag het.

Die bank verwag ook nie ’n veel beter prestasie in 2020 nie met ’n vooruitsig vir groei van 0,9% gevolg deur 1,2% in 2021.

Ander verwagtinge vir 2020

  • Die rand gaan teen die einde van die jaar waarskynlik tot swakker as R16 teenoor die dollar verswak. Absa glo dit is ’n gegewe dat die kredietgradeerder Moody’s Investors Service die land se skuld tot onder beleggingsvlak gaan afgradeer. Dié afgradering gaan volgens Absa sonder twyfel die geldeenheid laat verswak.
  • Hoewel die Reserwebank die land in Januarie verras het met ’n rentekoersverlaging van 0,25 persentasiepunt, verwag Absa nie enige verdere verlagings vanjaar nie. Dit bring die Reserwebank se repokoers op 6,25% te staan en die prima rentekoers van banke op 9,75%.
  • Absa verwag dat die inflasiekoers vir die hele 2019 op 4,1% was en dat dit vanjaar tot 4,4% sal toeneem. Absa sê die grootste veranderlike wat die inflasiekoers in 2020 gaan laat styg, is brandstofpryse.
  • Absa verwag dat staatskuld gaan aanhou styg en dat dit met Eskom se skuld bygereken tot bykans 65% van bruto binnelandse produk (BBP) gaan toeneem teen die einde van die 2020-’21-boekjaar. As huidige beleid gehandhaaf word, verwag die bank dat dié syfer tot 81% in 2027-’28 gaan styg.
  • Absa verwag ’n begrotingstekort van 6,9% in die huidige boekjaar. Dit is meer as die 6,2% wat die staat verwag.

Hoe los jy die probleem op?

Worthington sê Absa weet nie wat die oplossing is om die ekonomie aan die groei te kry as die staat nie daarin slaag om sy loonrekening in toom te hou en van bates ontslae te raak nie.

“Ek kan nie sien hoe die staat bereid gaan wees om genoeg bates te verkoop om regtig ’n verandering mee te bring nie.

“Die ANC is nie ten gunste van privatisering nie, so ek weet nie hoe dit moontlik gaan wees nie.

“Mboweni sal met georganiseerde arbeid moet praat oor hoe om verhogings van staatslone onder beheer te kry.”

Die vakbonde gaan egter waarskynlik nie hiervan hou nie.

“Suid-Afrika het nou ’n sterk regering nodig om sosiale konsensus te bewerkstellig. Of dit nou tussen ryk en arm, sake en arbeid, wit en swart is. Ons het dit nodig.

“Ek hoop die regering sal toenemend begin fokus op wat gedoen kan word om die land reg te ruk.”

Meer oor:  Absa  |  Belasting  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Jan Taks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.