
Suid-Afrikaners met skuld hou duim vas dat die rentekoers Donderdag verlaag word.
Die verwagte daling van 0,25 van ’n persentasiepunt in die rentekoers Donderdag kan welkome verligting vir verbruikers met skuld bring.
Al 19 ekonome wat aan Netwerk24 se peiling deelgeneem het, verwag dat die Reserwebank die rentekoers gaan verlaag, en net een verwag ’n verlaging van 0,5 van ’n persentasiepunt.
LEES OOK: Rentekoers: Wat jy Donderdag kan verwag (en hoekom)
Indien ’n mens aanvaar dat die Reserwebank eerder konserwatief sal bly en net 0,25 van ’n persentasiepunt sal besnoei, verlaag die prima rentekoers van banke vanaf 10,25% tot 10%.
Dit sal vir verbruikers met skuld ’n hele paar rand ekstra in die sak bring. Die besparing is groter hoe hoër die rentekoers wat jy betaal.
Huisverband
Vir elke R1 miljoen wat jy geleen het wat jy oor 20 jaar afbetaal, gaan jy as volg bespaar, na gelang van die rentekoers wat jy betaal:
- Prima -1: R161,41
- Prima: R166,21
- Prima +1: R170,68
- Prima +2: R174,79
Motorpaaiement
Die besparing op ’n motorpaaiement is net ’n druppel aan die emmer.
Vir elke R100 000 wat jy geleen het en oor vyf jaar afbetaal, mits daar nie ’n ballonbetaling is nie, bespaar jy as volg:
- Prima -1: R12,11
- Prima: R12,33
- Prima +1: R12,49
- Prima +2: R12,66
Ander skuld
Die besparing op krediet- en winkelkaarte en persoonlike lenings is gewoonlik maar min, en dié soort skuld se rentekoers verskil te veel om ’n algemene raming te maak van hoeveel mense gaan bespaar.
- Volgens Netwerk24 se somme kan ’n huishouding met ’n huisverband wat aanvanklik R1 miljoen was en wat ’n motor met ’n koopprys van R200 000, iets soos ’n Volkswagen Up, afbetaal, asook ’n persoonlike lening van R10 000, sowat R192,15 per maand meer in hul sak hê. (Nie alle persoonlike lenings word aan die prima rentekoers gekoppel nie.)
- ’n Gesin wat ’n huis vir R3 miljoen gekoop het en ’n motor van R500 000, iets soos ’n Toyota Fortuner, afbetaal, en ’n kredietkaartrekening van R50 000 het, kan sowat R566,70 meer in hul sak hê.
Sien grafika hier onder.