Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Hou op uitstel: Kry jou testament in orde

Die einde van die jaar is die ideale tyd om jou testament te hersien, veral as jy beplan om weg te gaan vir die vakansie of as jy oor die feestyd op die pad gaan wees.

Charné van der Walt

Nasionale Testamentweek, ’n inisiatief van die Wetsgenootskap van Suid Afrika, was reeds in September, maar lesers het steeds baie navrae oor hul testamente.

In September 2018 was daar volgens die meester van die hooggeregshof nagenoeg 67% van ons land se werkende mense wat nie ’n testament gehad het nie.

Dit beteken ook nie noodwendig dat diegene wat wel ’n testament het, se testament geldig, uitvoerbaar of bygewerk is nie. Ek twyfel of hierdie syfer die afgelope jaar verander het.

Jy kan die nodige polisse hê, jou inkomstebelasting kan op datum wees en jou eiendom en motor kan betaal wees, maar as jy nie ’n testament het nie (of dit nie gereeld hersien nie), is jou sake nie in orde nie.

’n Groot rede waarom mense dit vermy om ’n testament op te stel – veral by ’n prokureur – is omdat hulle skrik vir die koste wat daaraan verbonde is.

Tydens Nasionale Testamentweek is daar prokureurs wat dit gratis vir jou sal doen. Banke bied ook in die meeste gevalle die opstel van ’n testament aan as ’n gratis diens aan hul kliënte.

Ek vra met die grootste vrymoedigheid uurlikse gelde vir die opstel van ’n testament. Beskou hierdie koste as ’n belegging.

Dit is belangrik dat ’n testament opgestel word as deel van boedelbeplanning. Dit is nie genoeg om net jou wense op papier neer te sit nie. Jy moet in die fynste besonderhede ingaan op jou bates en laste, en ook op persoonlike inligting wat die uitvoering van jou testament kan beïnvloed – as jy byvoorbeeld geskei is of ’n onderhoudsverpligting het teenoor ’n gewese gade of kinders.

As jy sonder ’n testament sterf, maak jy dinge moeilik vir jou naasbestaandes. Foto: iStock

As jy sonder ’n testament sterf, veroorsaak jy onnodige en ekstra administrasie vir jou gade, ouers, kinders of ander familielede. Dit is ongepoets om take op mense se skouers te laai waarvoor hulle nie gevra het nie.

As jy sonder ’n testament sterf, geld intestate vererwing waarvolgens jou bates op ’n baie spesifieke wyse onder jou familie verdeel word. Dít is nie noodwendig die verdeling wat jy vir jou familie in gedagte sou gehad het nie.

Daar is maar altyd in een of ander mate konflik in ’n familie as iemand gesterf het (byvoorbeeld oor of die oorledene begrawe of veras moet word).

Om egter sonder ’n testament te sterf, skep ekstra konflik. Die konflik spruit gewoonlik uit die feit dat hulle onseker, oorweldig en hartseer is en nie noodwendig ’n eksekuteur het wat hulle in die proses kan lei nie.

  

Wie is wie by ’n testament?

  

Voor ek aangaan, kom ons kyk eers na die betrokkenes in ’n testament: 

  • Die testateur is die persoon wie se testament dit is. Ons verwys na “testateur” as dit ’n man is en “testatrise” as dit ’n vrou is.
  • Die eksekuteur is die onderneming, bank, trustmaatskappy of persoon wat die testament uitvoer en wat beheer neem oor die oorledene se bates. Die eksekuteur moet sorg dat alle skuld en koste betaal word en dat die balans (indien enige) ingevolge die testament se bepalings, verdeel word tussen die erfgename.
  • Die trustee beheer die geld wat minderjarige kinders erf. (Die testateur kan in die testament ’n hoër ouderdom spesifiseer waarop kinders regstreeks die geld vererf, maar kinders onder 18 jaar mag nie geld in hul eie naam erf nie).

Ek is baie streng as ek ’n nuwe kliënt in my praktyk inneem. In die dienskontrak wat hulle met my onderteken, moet hulle aandui of hulle ’n testament het.

Indien wel, wil ek eers ’n afskrif daarvan sien. Ek kan een opstel as die kliënt nie reeds een het nie. Indien die persoon nie ’n testament wil opstel nie, moet hulle maar elders gaan aanklop vir advies.

Ek was donkiejare gelede in ’n situasie wat ek nooit sal vergeet nie. Die suster van ’n afgestorwe belastingkliënt was baie vies vir my dat ek haar broer nooit “gedwing” het om ’n testament op te stel nie.

Ek het hom dikwels daaroor genader, net om elke keer ’n verskoning te hoor dat hy nog nie gereed is nie. Sy was nie bewus van dié gesprekke nie en ek het ongelukkig geen skriftelike bewyse daarvan gehad nie.

My gewete was skoon, maar ek kon sien sy neem my, haar broer se adviseur, kwalik dat hy nie ’n testament gehad het nie. Dit is in so ’n situasie makliker om vir die onafhanklike persoon kwaad te wees as vir jou eie broer.

Dit is belangrik dat jy die verantwoordelikheid neem om ’n testament op te stel, of jy ’n adviseur het of nie.

  

Waarom moet jy ’n testament hê?

Hier is ’n paar (verkeerde) verskonings wat mense aanvoer hoekom hulle nie ’n geldige testament het nie (met my antwoord wat daarop volg):

“Ek besit so min en het in elk geval net skuld.”

  • Dan moet jy juis ’n testament hê, en ook lewensdekking, sodat jou familie die skuld kan betaal.

“Ek is nog so jonk en besit nog niks nie.”

  • As jy ’n bankrekening het, het jy ’n testament nodig, al is dit net ’n eenvoudige dokument met basiese opdragte.

“Ek het nie tyd nie.”

  • Ons maak tyd vir wat vir ons belangrik is. 

“Ek gaan tog dood wees en my familie sal dit maar onder mekaar moet uitsorteer.”

  • Jy is baie onverantwoordelik om jou probleme ander s’n te maak sonder hul toestemming.

Daar is ook gevalle waar mense nie gou genoeg hul testament wysig of opdateer nie, soos by ’n egskeiding, wanneer ’n gade sterf of waar mense die voog wat hulle vir ’n minderjarige in hul testament aanstel, moet verander.

In die volgende twee rubrieke gaan ek lesersvrae oor testamente beantwoord.

Ek glo dat die opstel van ’n testament ’n liefdesdaad is.

Wie moet jou testament opstel?

  

Hoewel die Wetsgenootskap van Suid Afrika aanbeveel dat ’n prokureur jou testament opstel – ek stem in beginsel saam omdat ’n prokureur die reg ken – is dit belangrik dat die opsteller kennis van boedelbeplanning het.

Daar is dus ander opsies as ’n prokureur, soos ’n ouditeur wat boedelbeplanning doen, of om van ’n nasionale trustmaatskappy gebruik te maak. Lesers kan ook lede van die Fidusiêre Vereniging van Suid-Afrika (Fisa) kontak. Boedelbeplanning is hul spesialiteitsgebied. Nico van Gijsen, wat bydraes tot Sake in Rapport lewer, is byvoorbeeld ’n lid van Fisa.

Myns insiens is ’n standaardtestament met oop gedeeltes waar jy jou naam, identiteitsnommer en die name van begunstigdes invul, nie voldoende nie. ’n Testament moet aangepas word vir jou spesifieke situasie en behoeftes en daarom moet ’n kundige met insig en kennis betrokke wees.

Dit help ook as die persoon wat die testament opstel regstreeks of onregstreeks betrokke is by die bereddering van boedels. Kennis van hoe die proses ná afsterwe afloop, gee ’n groter mate van insig in hoe die testament bewoord moet word. Op hierdie manier kan interpretasieverskille tussen die eksekuteur, die oorledene en die meester van die hooggeregshof uitgeskakel word en is die oorledene se werklike bedoeling met ’n spesifieke bepaling vir almal ewe duidelik.

Ander redes waarom mense huiwerig is om ’n testament op te stel (uitgesluit die koste daaraan verbonde), is bloot omdat dit ons aan ons sterflikheid herinner. En dit is nie noodwendig ’n onderwerp waaroor almal wil praat nie.

Daar moet vertroue wees tussen jou en jou boedel­beplanner, want jy moet eerlik wees oor alles in jou lewe, selfs dinge waarvan jou familie nie weet nie.

Charné van der Walt (bekend as The Lemon Lady) is ’n finansiële raadgewer en belastingpraktisyn. Jy kan haar kontak by 082 780 7978 of info@lemons.co.za. Die artikel is in leketaal geskryf en bevat nie spesifieke of persoonlike raad nie. Sy skryf gereeld vir Sake.

Meer oor:  Charné Van Der Walt  |  Boedelbeplanning  |  Boedel  |  Intestaat  |  Testament
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.