Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Impakstudie oor Kredietwet is toe mosterd ná maal

Die regering sal meer as R400 miljoen moet opdok om die omstrede wet oor skuld-afskrywings te implementeer én die uitwerking van die wet op die ekonomie gaan “netto negatief” wees, het LP’s die afgelope week gehoor.

Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid en ekonomiese ontwikkeling. Foto: Deon Raath

Die portefeuljekomitee oor handel en nywerheid het uiteindelik die sosio-ekonomiese impakstudie oor die Kredietwysigingswet gesien – maar eers weke nadat die koeël klaar deur die kerk is en pres. Cyril Ramaphosa die wet onderteken het.

Die wet is in September 2018 finaal deur die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies goedgekeur, maar die studie is eers in November 2018 van stapel gestuur. Die finale bevindinge is op 27 Mei vanjaar ingedien. Die parlement het dus die wet goedgekeur sonder om te oorweeg wat die impak gaan wees.

Ramaphosa het die wet op 13 Augustus onderteken – dus nadat die bevindinge ingedien is, maar voordat dit openbaar gemaak is. Ramaphosa het die afgelope week in ’n parlementêre antwoord gesê hy kon nie ag slaan op petisies van onder meer die land se banke nie, want die wet was ’n private wetsontwerp en nie ’n regeringswetsontwerp nie.

Al wat hy kon doen, was om te besluit of daar ’n grondwetlike kwessie is. Volgens hom is daar nie en dus het hy dit onderteken.

In die impakstudie wat deur Genesis Analytics gedoen is, is tot die slotsom gekom: “Die wet sal ’n netto negatiewe uitwerking op die Suid-Afrikaanse samelewing hê.”

Een van die groot punte van kritiek is dat die impakstudie nie gedoen is ten tyde van beraadslaging oor die wet nie en dat die parlement oningeligte besluite geneem het oor die konsepwetgewing.

In die bevindinge word die portefeuljekomitee skerp gekritiseer dat hy nie die negatiewe gevolge wat die wetgewing op veral armer mense wat sukkel om krediet te bekom oorweeg het nie.

Die wet maak onder meer voorsiening vir skuldingryping wat ’n skoon kredietgeskiedenis kan beteken vir mense wat in die voorafgaande ses maande waarin skuld aangegaan is R7 500 of minder verdien het of werkloos is en waar die skuld minder as R50 000 is.

Die doel van die wetgewing was om arm Suid-Afrikaners wat onder swaar skuld gebuk gaan te help.

Die studie wys egter die oplossing wat die wet daarstel, sal die teenoorgestelde uitwerking hê: om juis hulpbehoewendes in die arms van gewetenlose skuldeisers te dryf.

Die studie sê voorts die parlement moes eerder bestaande maatreëls soos skuldhersiening verfyn het pleks van om skuldafskrywing te oorweeg.

Nog ongunstige gevolge is dat die koste van formele krediet sal toeneem en dat R12 miljard se krediet aan arm Suid-Afrikaners nie langer toegestaan sal word nie; dat klein ongesekureerde uitleners (die sogenaamde “mashonisas”) se besigheid met tot R7,7 miljard kan toeneem namate diegene wat nie langer vir krediet in aanmerking kom nie hulle tot dié mark sal moet wend.

Die kosteberekeninge is hopeloos onvoldoende. Waar gaan die R407 miljoen vandaan kom? Dit hoef nie die geval te wees het nie.
Dean Macpherson

In die verslag word voorts gesê dat uitleners na verwagting hul uitleenkriteria sal strenger maak en hul uitleenkoste sal verhoog omdat die wet die indruk skep dat dit nou moontlik sal wees vir die teikengroep om vir skuldafskrywing in aanmerking te kom.

In die departement se aanbieding aan die parlement het dit ook geblyk dat die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) en Nasionale Krediettribunaal (NKT) se aanvanklike kosteberekening vir die verruiming van hul kantore en dienste wesenlik laer was as wat in die studie voorsien word.

Die NKR het beraam dat hy sowat R127 miljoen sou nodig hê vir onder meer groter kantore, rekenaars, ekstra personeel en sagteware. Die tribunaal se kosteberekening was net onder R50 miljoen. Die studie se beramings daarenteen is onderskeidelik 106% en 48% hoër.

Dean Macpherson, DA-woordvoerder oor handel en nywerheid wat deurentyd gedurende die beraadslagings uitgewys het dat die konsepwet onbesonne was, het in vraetyd gesê die komitee is twee jaar lank gewaarsku oor die gevare van die wetgewing. “En al die aanmanings is bewaarheid.”

Hy het die departement daarvan beskuldig dat hy die bevindinge van die studie teruggehou het. Die wetgewing moes eers oorweeg word nadat die studie bekendgemaak is.

“En die kosteberekeninge is hopeloos onvoldoende. Waar gaan die R407 miljoen vandaan kom? Dit hoef nie die geval te wees het nie. Al wat die parlement moes doen, is om ’n paar aanpassings te maak aan bestaande maatreëls soos skuldhersiening.”

Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid en ekonomiese ontwikkeling, wat die aanbieding ingelei het, het erken dat daar onbedoelde gevolge is wat getemper sal moet word omdat die wetgewing reeds onderteken is en nie langer onttrek kan word nie. Patel het dit ook nie buite rekening gelaat dat verdere wysigings aan die wet aangebring kan word gedurende die inwerkingstelling daarvan nie.

Meer oor:  Ekonomie  |  Krediet  |  Skuld  |  Kredietwet  |  Nasionale Kredietwet  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.