Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Inentings: Nóg ’n versekeraar paai oor lewenseise

Die lewensversekeraar Old Mutual het nou ook sy standpunt oor entstowwe en lewensversekering in ’n verklaring aan sy kliënte verduidelik nadat navrae ontvang is oor die vals nuus wat daaroor versprei word.

inenting
Die risiko van dodelike newe-effekte weens die Covid-19-entstowwe is laer as die risiko om weens Covid-19 te sterf. Lewensversekeraars verseker dat hulle mense nie sal dwing om ingeënt te word nie, maar ook nie eise sal afkeur as iemand weens newe-effekte sterf nie. Foto: Unsplash

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het die afgelope week gewaarsku teen boodskappe wat op sosiale media versprei word dat lewensversekeraars nie eise gaan uitbetaal van mense wat aan newe-effekte van die Covid-19-entstof sterf nie.

Die FSCA sê die inligting is onwaar.

Old Mutual sê hy het die afgelope week ’n paar navrae van finansiële adviseurs gekry en het onmiddellik sy standpunt daaroor uitgeklaar.

John Kotze, hoof van versekeringsprodukte, sê sedertdien begin die navrae opdroog.

Hy sê daar is geen outomatiese uitsluitings wat met inentings teen Covid-19 verband nie.

“Alle eise sal steeds volgens die bepalings en voorwaardes in kliënte se kontrakte beoordeel word.”

Volgens hom is geen eise tot dusver ontvang wat met sterftes te doen het van mense wat ingeënt is nie.

In die brief sê Old Mutual hy is daartoe verbind om alle geldige eise uit te betaal en sal nie outomaties eise weier van kliënte wat ingeënt is nie.

“Ons is bewus van die vals inligting op sosiale media wat lui dat versekeraars outomaties eise gaan verwerp van mense ingeënt is.”

Die maatskappy sê alle pogings om die verspreiding van die virus te stop word aangemoedig.

Hoewel ons inentings aanmoedig, sal ons nie ons kliënte dwing om dit te doen nie.
Old Mutual

Craig Baker, uitvoerende hoof van MiWayLife, sê hulle het ook navrae gekry.

“Ons siening is baie duidelik dat ons ons kliënte sal dek oor die tydperk en in hierdie stadium nie sal onderskei tussen dié wat ingeënt is en dié wat nie is nie. Hoewel ons inentings aanmoedig, sal ons nie ons kliënte dwing om dit te doen nie.”

Baker sê daar is niks in hul polisse wat daartoe kan lei dat ’n eis van die hand gewys word wanneer iemand weens ’n entstof sterf nie.

“Dit is ook iets nuuts waarmee ons almal worstel en hoewel veranderinge oor tyd kan kom, is daar niks wat gaan keer dat ’n eis betaal word indien ’n kliënt ingeënt was nie.”

Hy sê dit is natuurlik van toepassing op entstowwe wat amptelik deur die owerhede in Suid-Afrika goedgekeur is of was toe die entstof toegedien is.

Kedibone Dikokwe, ’n afdelingsbestuurder van die FSCA, sê die FSCA het die verklaring in reaksie op die boodskappe op sosiale media uitgereik.

“As die reguleerder glo ons nie die benadering sal deur enige een van die lewensversekeraars gevolg word nie. Dit is so omdat die verspreiding van entstowwe ’n wêreldwye veldtog is wat deur die Suid-Afrikaanse regering gesteun word.”

Dikokwe sê die kansellasie van polisse is aan die polisvoorwaardes in die kontrak tussen die polishouer en die versekeraar onderhewig. Die reg om ’n polis te kanselleer hang van die kontrak af.

Versekeraars is verplig om enige geldige eis ingevolge die polis se bewoording te betaal.

Premies verhoog slegs as daar ’n risiko daaraan verbonde is. Spesifiek as daar gevind is dat die entstof sterftesyfers verhoog – wat volgens alle beskikbare data beslis nie die geval is nie.
MiWayLife

Dikokwe sê die benadering van die versekeraar moet ook strook met die beginsels van die regverdige behandeling van kliënte wat ingesluit is in die Reëls oor die Beskerming van Polishouers, wat deel van die Wet op Langtermynversekering uitmaak. Dié reëls bepaal die vereistes waaraan die versekeraar moet voldoen wanneer ’n polis gekanselleer word en die proses wat gevolg moet word, insluitend kommunikasiespertye.

Dikokwe sê as dit ooit sou gebeur dat ’n lewensversekeraar oor so rede ’n eis weier, sal die FSCA optree.

“Die FSCA sal optree as versekeraars besluite neem wat onbillik teenoor die polishouer is.”

Een so ’n voorbeeld is die FSCA se onlangse ingryping by die debakel oor die korttermynversekeringseise van ondernemings weens die onderbreking van sake wat die pandemie veroorsaak het, sê hy.

Baker sê verbruikers het ook ander vrae soos wat die entstof se invloed op premies gaan wees en of aansoeke om lewensdekking afgewys gaan word.

Hy sê die entstof gaan nie versekeringspremies verhoog nie. “Premies verhoog slegs as daar ’n risiko daaraan verbonde is. Spesifiek as daar gevind is dat die entstof sterftesyfers verhoog – wat volgens alle beskikbare data beslis nie die geval is nie.”

Hy sê dit is onwaarskynlik dat ’n lewensversekeraar lewensdekking sal weier aan iemand wat reeds Covid-19 opgedoen het, maar dit is noodsaaklik dat ’n aansoeker eerlik is daaroor of die virussiekte hom of haar met permanente of deels permanente gesondheidsprobleme gelaat het – soos in die geval van enige aansoek om dekking.

Reis na gevaarlike lande

Nog ’n vraag wat geopper word, is of dit ’n eis kan beïnvloed as iemand tydens ’n pandemie reis.

Volgens hom sal dit afhang van die versekeraar. “Maar onthou dat as reis na ’n land met ’n hoë risiko as ’n uitsluiting genoem is met die aanvang van die polis, is dit onwaarskynlik dat dit sal verander.”

Baker sê die meeste versekeraars sal ’n saak egter op sy eie meriete beoordeel.

Volgens hom raak die vraag ’n bietjie meer ingewikkeld wanneer iemand deur ’n dokter aanbeveel is om weens ’n onderliggende gesondheidstoestand nie te reis nie. Baie polisse laat ’n versekeraar toe om ’n eis te verwerp as bewys kan word dat ’n kliënt nie mediese advies gevolg het nie.

Meer oor:  Old Mutual  |  Miway  |  Lewensversekering  |  Entstowwe  |  Koronavirus  |  Lewenspolis  |  Versekeraars  |  Langtermynversekering  |  Pandemie  |  Inentings  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.